Bekendstelling van EFF-verkiesingsmanifes ‘onwettig’

Talle mense het die bekendstelling van die EFF se verkiesingsmanifes in Johannesburg bygewoon. (Foto: Twitter)

Die DA het ʼn beroep op die minister van polisie, Bheki Cele, asook die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskomitee (OVK) gedoen om ʼn gesamentlike ondersoek te doen na wat die amptelike opposisie bestempel as “blatante onwettige stemwerwery” deur die EFF.

Die EFF het Sondag sy verkiesingsmanifes in die Johannesburgse middestad bekend gestel buite die party se nuwe kantoor wat nou Winnie Mandela House heet.

Natasha Mazzone, hoofsweep van die DA, sê dit is duidelik dat die EFF geen ontsag vir die oppergesag van die reg het nie en net weereens bewys dat hy nie skroom om sy eie ondersteuners as “kanonvoer” tydens die Covid-19-pandemie te gebruik nie.

Ingevolge die vlak 2-inperkingsregulasies mag net 500 mense ʼn byeenkoms in die buitelug bywoon – maar volgens foto’s en video’s van die EFF se byeenkoms lyk dit of veel meer die geleentheid bygewoon het.

“Die bekendstelling van die EFF se manifes is dus ʼn onwettige byeenkoms en sy vertoning kom neer op onwettige stemwerwery,” sê Mazzone.

Die DA sê die OVK moet nou die regte ding doen en die EFF aanspreeklik hou.

Julius Malema, leier van die EFF. (Foto: EFF/Twitter)

“Die onwettige geleentheid tydens die stemwerwingstydperk ondermyn ʼn vry en regverdige verkiesing. Die EFF se optrede het hom boonop moontlik blootgestel aan deregistrasie as ʼn politieke party.”

Mazzone sê alle Suid-Afrikaners moes noodgedwonge onder die ANC se “sinnelose afsonderingsmaatreëls” leef, maar dat daar nie twee stelle reëls – vir gewone burgers en vir die EFF – kan wees nie. Sy sê daar is met waterkanonne op bejaardes en kwesbare burgers in ʼn Sassa-tou losgebrand, maar dat Cele versuim om met dieselfde geesdrif op te tree wanneer sy maat Malema voor stok gekry moet word.

“Waar was die waterkanonne? Of is Cele te diep in Malema se sak om stappe te doen teen die EFF se blatante verontagsaming van die wet?”

Mazzone sê die DA se eie verkiesingsmanifes het aan Covid-maatreëls voldoen en is virtueel bekend gestel.

“Dit is omdat die DA, anders as die rooi barette, ʼn party van wet en orde is en die belange van ons ondersteuners en kiesers eerste stel.”

Die DA sê die EFF se moontlike oortreding van inperkingregulasies – wat bepaal dat net 500 mense ‘n byeenkoms mag bywoon – moet ondersoek word. (Foto: EFF/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Julius Malema praat volstruispolitiek.

fs

ag tog net soos met al sy ander oortredings van die wet sal daar geen haan na kraai nie

Jean

Julle mors julle asem DA

Werner

DA skrik asb wakker hier is twee stelle reels en politiek is nie meer die antwoord op ons probleme nie

Kobus

Sekerlik moet daar iets aan die swernoot gedoen word die eff staan ook net vir die anc dit is alles een party want die regeerende party is so sleg soos die stuk gemors