Bekkersdal: ANC met klippe bestook; SAPD brand los op inwoners

Amandla Media het dié foto op sosiale media gelaai. Volgens die mediahuis is die foto Donderdag, 13 Maart 2014 in Bekkersdal geneem.

Amandla Media het dié foto op sosiale media gelaai. Volgens die mediahuis is die foto Donderdag, 13 Maart 2014 in Bekkersdal geneem.

ANC-verteenwoordigers moes Donderdag by Bekkersdal in Johannesburg deur hul lyfwagte beskerm word omdat hulle met klippe bestook is.

“ʼn Spesifieke deel van die skare was aggressief en het op die verteenwoordigers toegesak,” het Mbangwa Xaba, koukuswoordvoerder van die ANC in Gauteng, aan SAPA gesê. “Dit moet veroordeel word. Openbare verteenwoordigers kon nie hul werk doen nie.” Die verteenwoordigers is glo met klippe bestook.

Die ANC se verteenwoordigers was Donderdag in Bekkersdal vir hul verkiesingsveldtog.

Thabang Wesi, leier van die Besorgde Inwoners van Bekkersdal, het aan Sapa gesê inwoners het gewapende ANC-lyfwagte in die informele nedersetting opgemerk. Wesi voer aan hulle het op onbewapende mense, hoofsaaklik skoolkinders, losgebrand. “Die inwoners kon reageer. Die situasie was baie gespanne,” het hy gesê. “As mense wil stem, dan moet hulle stem, maar hulle moet die regerende party uitstem. Ons kan sien die ANC is arrogant en gebruik geweld om ons te oorreed om vir hulle te stem.”

Die Star-koerant het Vrydag berig dat ANC-lyfwagte omstreeks 11:00 met lewendige rondes ammunisie op inwoners losgebrand het nadat skole ontwrig is. Die Njala-pantservoertuie van die polisie het die gebied patrolleer en met rubberkoeëls op inwoners en skoliere losgebrand, het die koerant berig.

Xaba sê die ANC het nie lyfwagte gehad nie, maar wel BBP-beskerming wat deur die polisie verskaf is. “Ons prys die polisie dat hulle seker gemaak het daar is geen lewensverlies of beserings nie,” het Xaba gesê.

Lungelo Dlamini, woordvoerder vir die polisie in Gauteng, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die BBP-eenheid se optrede nie, aangesien hulle nie onder sy bevel is nie. “Ons kan nie kommentaar lewer oor hulle optrede nie. Hulle is onder bevel van die nasionale kantoor, nie die provinsiale kantoor nie. Ons kan slegs oor ons eie lede kommentaar lewer.”

Dlamini het wel bevestig dat die polisie rubberkoeëls gebruik het, aangesien hulle voertuie ook met klippe bestook is. Ses mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Dlamini het verdere navrae na die nasionale woordvoerder vir polisie, Vishnu Naidoo, verwys. Naidoo het gesê hy moet eers terugvoer ontvang voordat hy kommentaar kan lewer. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.