Bekommernis oor polisie se ‘heksejag’ na onluste

Inwoners van verskeie woonbuurte en dorpe in KwaZulu-Natal en Gauteng was gedwing om huis en haard tydens die onluste van ‘n maand gelede te beskerm. (Foto: Youtube-skermgreep.) 

Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die polisie se “heksejag” op lede van die publiek wat hulself tydens die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng probeer beskerm het.

Volgens Francois Wilken, president van VL, is Bheki Cele, minister van polisie, se onlangse uitsprake in die media kommerwekkend en teleurstellend. Cele het aangekondig dat die polisie se fokus rakende die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng geskuif het na misdadige ondersoeke op die sogenaamde burgery wat hulself in die onrus probeer beskerm het. Die vraag is volgens hom waarom daar nie eerder ondersoek ingestel word waarom die polisie nie sy mandaat soos vervat in die Grondwet en Suid-Afrikaanse Polisiewet (Wet 68 van 1995) kan nakom nie.

Wilken sê dat die vyf kernpilare van die Polisiewet juis aandui dat die polisie verantwoordelik is vir die handhawing van binnelandse stabiliteit, uitvoering van wet en orde, beskerming van burgery en hul eiendom asook die voorkoming van misdaad. “Gegewe die onrus wat in die twee provinsies plaasgevind het, is die onvermoë van die polisie totaal uitgewys.”

Tommie Esterhuyse, adjunkpresident van VL, meld dat die agt pilare van die landelike beveiligingstrategie wat in 2019 hersien is, ʼn sterk fokus op die vermoë van die SAPD plaas ten opsigte van kapasiteit, mannekrag, toerusting en logistieke vermoëns (vuurwapens en ammunisie). Gegewe die status quo voer hy aan dat die polisie ver daarin te kort skiet om die landelike gebiede en boerderygemeenskappe teen verhoogde misdadigheid te beskerm.

“Die onsekerheid en wantroue van die publiek oor hoe die polisie die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng beheer het, het verder onder die algemene publiek en die landelike gebiede toegeneem. Die impak en omvang van die onrus is geweldig groot, nie net in die ekonomie nie, maar ook ten opsigte van die bekostigbaarheid van voedsel vir die gewone burger,” meen Esterhuyse.

Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, wil dit voorkom asof die minister met die ondersoeke die wetsgehoorsame burgers en publiek die vyand wil maak wat geen regte het om hom/haarself te beskerm nie. “Dit lyk of die polisie daardeur besef dat hy nie sy regsverpligting teenoor die algemene publiek nakom nie.”

VL sê hy is verder besorg oor die politieke “inmenging” in die uitvoering van die polisie se operasionele mandaat en verantwoordbaarheid wat tans tussen die minister en die topstruktuur van die SAPD uitspeel.

“Die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng laat weer eens die vraag ontstaan hoe die redelike man homself gaan verdedig en beskerm in onrusverwante situasies, asook in ʼn verhoogde misdadige aanslag, as die polisie se ‘wiele afval’? Dit beteken dat die algemene burgery self aangewese is om na hul eie veiligheid om te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Anoniem ·

Dit is mos hoe dit die afgelope 20 jaar in ons land gaan. Onskuldige mense word vervolg en die skuldiges/plunderaars loop op straat. Die beste is dat die Regering hul altyd tot die wetgehoorsames wend om finansiële bydraes te maak , kos te voorsien, en die “Regering” by te staan. Wonder wat sal gebeur as ons almal ons rug op hul draai. Die Regering vergeet waar alles van daan kom.

Suzette ·

@Swerwer. Jy kon nie meer in die kol wees nie. Waar kom alles vandaan??

jou gewete ·

Ek wag vir die dag wat die belasting betaler beheer vat oor sy eie toekoms deur te weier om vir mislukte ministers en hulle departemente belasting geld te gee. Dam sal hulle wakker word.

Persheks Adri ·

SAPS is verantwoordelik vir alles soos genoem in paragraaf 3, maar aanvaar nie verantwoordelikheid vir dit nie! Hoe nou gemaak as hulle ons as misdadigers uitmaak en ons nie onsself mag beskerm nie? Moet ons soos blompotte staan en wag dat ons vermoor word?

Misky ·

Wonder wat sou gebeur het as die gewone landsburger en gemeenskappe nie saamgestaan het en daai kriminele uit ons woonareas gehou het nie? Dit sou tien teen een op slagting en moord uitgedraai het. Ons minister met die hoed sou omdraai en sê hulle “veroordeel die dade en sal ‘n ondersoek loods”. En dit sou die einde van die saak wees vir hulle

fransdutoit3 ·

Die burgery is sagte teikens om die totale onbevoegdheid van Cele se gewapende bendes te probeer verbloem.

Blikkies ·

En hy nog steeds geen benul wat om hom aangaan nie……

Mariana ·

Hy moet weg. Weet noe hoekom Ramapoza hom nie in die pad steek nie, hy beteken niks. Soek net altyd verskoning om nie sy werk te doen nie. Nou moet onskuldiges die gelag betaal maar steeds bydraes lewer.

Johan ·

Onthou dat hy die laaste van die ANC se B span is. Met wie gaan hul hom vervang? Ideologies is daar niks van die ANC se leierskap oor behalwe die B-span wat nou regeer nie.

Michael ·

Die rede is eenvoudig, CR net so korrup en nutteloos, maar baie gevaarliker as wat Zuma ooit kon wees. Sal hom nooit afdank nie

Plasie ·

Watse polisie waar? As daar SAPD teenwoordag was sou die publiek nie nodag gehaat het om hulself te beskerm nie!

Sandra ·

Ek dink hulle probeer nou opmaak vir die feit dat hulle nie daar was toe die plundery aan die gang was nie.

Dup ·

Die wetsgehoorsame belastingbetalers in SA sal altyd hulle mense en eiendom self beskerm want die polisie en weermag kan en sal dit nie doen nie.
Feite is feite!

Johan ·

Die Polisie bly die politici se speelgoed en ons grootste vyand…hul word net so gretig teen ons ontplooi om covid nonsens af te dwing…nee wat ons is op ons eie mense.

Werner ·

Hierdie bankrot regering wil anargie en n burgeroorlog hê

Anel ·

Hoekom word die plunderaars nie veroordeel en gearresteer nie? Hulle kan nie hulle mandaat van beskerming toepas nie en ons mag ons nou ook nie self beskerm nie. Nou wst nou? Ek dink ou hoed is kwasd omdat die burgers ‘n beter job gedoen het as sy “opgeleide mense”.

Johan ·

Ek het in 2000lank terug (2001?) N kommando voorleggings bygewoon waarin vermeld is dat die Polisie teen 2022 nie meer die land sal kan beskerm teen onluste nie. Nogal interessant hoe akkuraat dit was, in ag genome dat die kommando’s toe nog bestaan het. Wens ek kan dit weer in die hande kry, was n PF van Groep 24 wat dit aangebied het.

Cherokee ·

Waar is ons verteenwoordigers in die parlement? Het nog nie een keer raakgelees dat dit spesifiek aangespreek word nie. Ramaposa behoort gevra te word of hy werklik niks beter kon aanstel nie.

Uitmykoker ·

Hierdie blyk n heksejag te wees wat daarop gemik is om die etniese verdeeldheid wat binne die ANC opgevlam het met Zuma se arres, te probeer afkoel. Dit gaan hier nie oor geregtigheid nie, maar eerder oor die behoud van eenheid binne die ANC.

Petrus Albertus ·

Ek besef baie van die mense wat so geteiken word sal nie deel wees van Afriforum nie maar kan Afriforum nie die geteikendes saam met burgerlikes en besigheidseienaars wat verliese gelei het snoer en die minister van Polisie dagvaar nie?

Elinette ·

Ek is sooooooooooooooo bly ek woon in die Wes-Kaap en op die platteland ……….

tweeling ·

Dit maak jou nie geisoleerd van die res van die land nie. Die Kaap het ook sy eie probleme.

Jack ·

Die polisie was al die jare die beskermer van su eie mense en het n vrees om teen die misdadigers op te tree. Waarskynlik is dit hul eie familie wat die onluste bedryf en dus kry diesulkes beskerming. Die regering wil optree teen iemand so kom ons vat dan die wat lewens beskerm en nie die wat lewens bedreig nie. Die sagte teikens soos ons elke dag sien wanneer ou mense op plase aangeval word. Die volk is deurspek met kriminele.

Charl Albertus ·

Hoekom kla die burger organisasies nie die minister aan vir versuiming van sy plig nie?

Sonia ·

????Bheki Cele is onbevoeg en hy moet uit sy pos ontslaan word sonder die gewone goue handdruk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.