Bekroonde boer op spoglandgoed aangeval

Charles Back. Foto: Facebook via Fairview Wine and Cheese.

Charles Back, eienaar van die wyn-en-kaasplaas Fairview in die Paarl, is Woensdagoggend vroeg in sy huis op die plaas aangeval en aangerand.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 03:00 plaasgevind.

“Volgens berigte het vyf mans, drie met klapmusse, toegang tot die woning verkry deur ʼn venster te breek. Die plaaseienaar is hierna met ʼn breekyster geslaan en vasgebind,” het Rwexana gesê.

Volgens haar het die verdagtes verskeie elektroniese toebehore en ʼn vuurwapen gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het. “Die slagoffer kon daarin slaag om homself los te wikkel en is na ʼn mediese fasiliteit vervoer vir behandeling.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Back is in 2017 deur lede van Landbouskrywers SA as Boer van die Jaar aangewys. Hy het in dieselfde jaar die prestigeryke 1659-erepenning vir die lewering van voortreflike diens aan die wynbedryf ontvang.

Fairview het intussen die nuus op Facebook bevestig. “Soos julle dalk gehoor het, was daar vroeg vanoggend ʼn voorval by Charles Back se huis. In ware Charles-gees is hy reeds terug by die huis en wil hy sy eie verklaring uitreik wat ons mettertyd sal deel. Ons vra dat sy privaatheid asseblief respekteer word,” lui die boodskap.

Shiraz SA het hom op Facebook ʼn spoedige beterskap toegewens.

Foto: Facebook via Fairview Wine and Cheese.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eish ·

Net gisteraand op Landbouweekliks na n onderhoud met hom gekyk.
Impossante boer wat baie positief oor die landboubedryf en die land was op die program.

Wors ·

Ek en my gesin gaan gereeld soontoe vir hul wyn en kaas. Ek is baie lief vir sy bok kaas, niemand anders maak dit soos hulle nie! Jammerte om te hoor hoe die goed om ons gebeur en daar word baie min, of selfs niks, hieraan gedoen nie… mense kom letterlik weg met moord in hierdie land!

Ada ·

Huisroof!!
Wat van poging tot moord?
Ken julle nie so-iets nie?

Ada ·

Huisroof!!
Wat van poging tot moord?
Ken julle nie so-iets nie?
Dit is om iemand aan te rand en vir dood daar te los.

Siek en sat ·

Huisroof? Poging tot moord sal ek eerder dink. Hulle het geen reg om in mense se huise in te gaan en te doen wat hulle tans doen nie.

Reinette Vorster ·

Ai.. Woorde het ek nie. Sterkte aan die familie.
Boosheid regeer ons eens op ‘n tyd mooi land… Nêrens meer veilig nie!!!!! ?

Ada ·

Maroela gee asb vir ons inligting oor hoe dit met die ou mensies gaan wat nou in die Kimberley hospitaal is? Hulle is nie welbekend nie maar ewe belangrik en met hulle gaan dit slegter.
Sal graag wil hoor.

Chris Joubert ·

Ek het groot simpatie met ons boere en die voorkoms van plaasaanvalle, wat meestal op ouer mense gerig word. Ek sien dat die meeste boere wat aangeval word, in die nag verras word deur aanvallers wat reeds in die huis en selfs die slaapkamer is voordat hulle die krisis moet hanteer. Ek glo dat die tegnologie beskikbaar is om die aanvallers waar te neem lank voordat hulle naby die opstal kom. Die basiese beginsel is dat mens ‘n dubbele heining om die plaaswerf moet hê, sodat mens enige beweging van diere binne die afgesperde gebied kan uitsluit. Veiligheidskamera-tegnologie is sodanig dat mens enige beweging binne ‘n geïdentifiseerde area kan waarneem en alarm maak oor ‘n plaaslike stelsel of per slimfoon. Dit beteken dat, indien die boer en sy familie tuis is, wanneer rampokkers die area binne die dubbele omheining betree, hulle reeds gewaarsku word en betyds op gereedheidsgrondslag kan wees. Die aanvallers sal effektief nog binne die dubbele omheining wees wanner die boer kan alarm maak of andersins reageer. Dit is ‘n oorlogsituasie en vereis ooreenstemmende teenmaatreëls.

Theresa ·

Meeste boere doen als in hul vermoë om moderne tegnologie in te span vir hul eie veiligheid. Ongelukkig is seinsterkte nie oral so waffers nie.
Bly eintlik absurd dat mens so moet leef omdat onwelkomes vrye teuels het.
STERKTE aan elke boer in hierdie land en ook aan ander mense wat verniel word in ‘n eens beter land.

Mark ·

Die Staat moet gedwing word om vir al die veiligheidsmaatreels te betaal wat boere moet aanbring om hulself te beveilig

GM ·

Chris, daar is ‘awesome’ tegnologie daarbuite, maar almal kan dit ongelukkig nie bekostig nie. En die kriminele is altyd ‘n stappie voor.

Chris Joubert ·

Selfoonseinsterkte is nie ‘n vereiste wanneer die mense op die plaas is nie. Dit help net wanneer hulle nie daar is nie. Dit help ook nie om niks te doen nie omdat, soos sommige kommentators hier sê, die krininele altyd ‘n stappie voor is nie – hier is ‘n manier om ‘n stappie voor hulle te kom.

Adriana ·

Ja Maroela gee asb informasie oor die twee ou mensies in die Kimberley hospitaal.Hulle is baie oud en verdien ons simpatie.Gee asb n opvolg berig al is hulle nie so bekend as bogenoemde boer nie.

Hannelie ·

So bly sy lewe is gespaar. Kom ons kyk wat ons nuwe staatshoof wat vanmiddag ingesweer word gaan doen rondom moorde en geweld in die land.

Laetitia ·

Jammer om dit te hoor.
Dit is die volgende ding wat in hierdie land uitgeroei moet word.
die moorde, verkragtings.
die doodstraf moet met alle erns nou teruggebring word.

GM ·

Laetitia, hoe gaan dit werk as die doodstraf teruggebring word? Sit ‘n ou in ‘n kis, en dis poging tot moord, laat ‘n ou vir die dood agter, en dis huisroof. Als gaan oor velkleur. Wie dink jy gaan tereg gestel word en wie gaan wegkom?

lizl ·

Dis poging tot moord. Ek sal aandring dat die klagstaat verander word.

Jannie ·

Hy se die aanval was nie polities gemotiveerd nie en dit gaan hom en sy werkers nie verdeel nie, so dit lyk asof hy heeltemal gediend is met wat met hom gebeur het . .hy gaan net aanstap .. gaan hulle seker nog vergewe ook indien hulle gevang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.