Bekroonde filmmaker Jans Rautenbach oorlede

 Jans Rautenbach op 5 Maart 2016 in die ATKV-Boeketent by die US Woordfees Fotograaf: Izak de Vries

Jans Rautenbach op 5 Maart 2016 in die ATKV-Boeketent by die US Woordfees
Fotograaf: Izak de Vries

Jans Rautenbach, die bekroonde rolprentmaker, is Woensdag in die ouderdom van 80 oorlede.

Rautenbach, regisseur van films soos Blink Stefaans (1981), Eendag op ʼn Reëndag (1975), Pappa Lap: ʼn Verhaal van ʼn pa en sy dogter (1971) en Jannie Totsiens (1970), is in ʼn hospitaal in Mosselbaai oorlede aan komplikasies weens longontsteking.

Rautenbach het in 2015 die regie van Abraham behartig.

Hy laat sy vrou en vier kinders agter.

Intussen stroom huldeblyke vir Rautenbach in.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep het gesê Rautenbach sal onthou word vir sy menswees, sy wysheid en volharding. “Dit is juis hierdie eienskappe wat as aansporing moet dien vir ‘n nuwe geslag rolprentmakers, onderwysers en gemeenskapswerkers. Hy was ‘n brugbouer tussen verskillende gemeenskappe en kulture tot die heil van die groter Suid-Afrika.”

Die ATKV het in 2013 vir Rautenbach vereer met die ATKV-Prestigetoekenning en só waardering toegeken aan hom vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf en die kunste. Dit was veral ook vir die uitsonderlike bydrae op gemeenskapsgebied en onderwys en die sukses wat hy bereik het om nasiebou en maatskaplike samehorigheid in Suid-Afrika te bevorder.

Lizz Meiring: “Twee groot geeste groet: Legendariese musiekmaker Nico Carstens en ikoniese filmmaker Jans Rautenbach. Jul inspirasie en talent duur voort.”

Simon Rademan: “Rus In Vrede Nico Carstens en formidabele filmmaker Jans Rautenbach. Dankie vir die rykmaak van ons sintuie”

Chris Broodryk: “Rus in vrede, Jans Rautenbach. Met Jannie Totsiens het jy die staat as gekkery ontbloot; jou sagte Abraham was jou ode aan kuns.”

Kunste Onbeperk: “Ons neem met groot hartseer afskeid van Jans Rautenbach. Ons sal hom altyd onthou vir die sleutelrol wat hy in die vergestalting van die KKNK, as ’n verwelkomende tuiste vir Afrikaanses, gespeel het. Gedurende sy termyn as voorsitter (2000 tot 2001) het ons vir oud-president Nelson Mandela op Oudtshoorn verwelkom. Dit was onder sy leiding dat die KKNK gevestig is as ’n leefstyl-ervaring, met grensverskuiwende produksies en uitstallings. Na sy uittrede as voorsitter het hy as ’n ere-direkteur betrokke gebly. Rus sag oom Jans. Baie dankie dat jy ons geleer het om te droom én gewys het hoe om drome te bewaarheid. Die passie waarmee jy by dit wat jou hartsnare geroer het betrokke geraak het, sal ons altyd bybly. Ons harte gaan uit na Almeri, Andri, Erika, Gert, Emil en hul gesinne.”

https://youtu.be/o1c_lwdBZgQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.