Bekroonde filmmaker sterf toe kameelperd hom stamp

Carlos Carvalho (Foto: CallaCrew, Facebook)

Carlos Carvalho, ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse filmmaker, is dood nadat ʼn kameelperd hom op ʼn safari lodge naby Hartbeespoort gestamp het.

Die voorval het Woensdag by die Glen Africa Country Lodge in Noordwes plaasgevind.

ʼn Woordvoerder van Glen Afric het aan Maroela Media bevestig die voorval het omstreeks 17:00 die middag plaasgevind terwyl die kameraspan op die stel van ʼn oorsese produksie gewerk het. “Een van ons kameelperdbulle, Gerald, het een van die kameramanne gestamp,” het hy gesê.

Carvalho (47), ʼn pa van twee, is na Millpark-hospitaal in Johannesburg geneem, maar het aan sy beserings beswyk.

Die ongeluk het plaasgevind toe die verfilming van die diere reeds afgehandel is en die kameelperd met professionele dierehanteerders van die stel verwyder sou word.

“Ons verstaan die kameraman het, uit sy eie, besluit om bykomende beeldmateriaal van die kameelperd te verfilm. Hy het alle veiligheidsmaatreëls en riglyne geïgnoreer en te naby aan die kameelperd gekom,” het Glen Afric verduidelik. “Die kameelperd het sy kop geswaai, soos hulle gewoonlik doen, en die kameraman omgestamp. Dit was egter ʼn noodlottige stamp.

“Glen Afric se bestuur en personeel het hul diep berou oor die hartseer ongeluk uitgespreek en betuig saam met die filmvervaardigers innige meegevoel met die kameraman se familie en vriende.”

ʼn Onafhanklike ondersoek oor die voorval is van stapel gestuur en die lodge wou nie enige verdere kommentaar lewer nie.

Carvalho het in 2014 die fotografie vir The Forgotten Kingdom behartig, die eerste vollengtefliek wat in Lesotho vervaardig is. Hy het die Haskell Wexler-toekenning vir Beste Kinematografie ontvang by die 14de jaarlikse Woodstock Film Festival Maverick Awards Gala wat in New York gehou is.

Hy het in 1992 in die filmbedryf betrokke geraak en het in 2003 ʼn Silver Lion by die Cannes-filmfees ontvang.

Die Suid-Afrikaanse agentskap CallaCrew het ook hul medelye betoon met Carvalho se afsterwe. “Hy was verseker een van ons gunsteling- direkteurs van fotografie. Ons innige medelye met Carlos se familie en vriende in hierdie baie hartseer tyd. Hy sal gemis word.”

Verskeie flieks soos Jock of the Bushveld en Leon Schuster se Mr Bones en televisiereekse, waaronder Wild at Heart, 50/50, Carte Blanche, Top Gear is al by Glen Afric verfilm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ek sê maar ·

Ja-nee kyk…woorde ontbreek my. Ek voel jamer vir die agtergebelwenes maar regtig ‘n wilde dier is en bly net dit-wild. Ek hoop regtig nie die dier moet van kant gemaak word nie.

Nee ·

Ek dink nie so nie want kameelperdaanvalle op mense is uiters raar. Hierdie was gladnie as gevolg van die dier se agressie nie, was meer n fratsongeluk gekombineer met menslike nalatigheid.

Piet Pompies ·

Baie tragies, ons het eenkeer in die KNP op twee Kameelperde afgekom wat koppe gestamp het. Die houe was hard en die merke van die houe sigbaar. Ek verstaan dat die diere mekaar bewusteloos slaan en selfs die dood veroorsaak. Een swaai met daardie lang nek gee heelwat krag en momentum.

Francois Joubert ·

Geensins ‘n ongeluk of fratsongeluk. Kameelperdbulle baklei deur mekaar met die kop te slaan en so verdedig hulself ook. Die man was blykbaar 1m van die bul en toe klap hy hom. Ek gaan nie spekuleer of dit onkunde of wat ook al was. Die eienaars het reeds gese Gerald bly net waar hy is en dat hy niks verkeerd gedoen het nie.

Alida ·

Natuurlik gaan die kameelperd hom klap of skop as hy te naby gaan. Dit is sy gebied en laat nie vreemdes naby hom toe nie. Diere is WILD maar niemand luister mos nie.

Albert Marais ·

Maak nie saak hoeveel toekennings n mens ontvang het nie , dit maak nie n wilde dier mak nie punt
My innige meegevoel met sy familie , baie jammer

Theresa ·

Tragies! Innige simpatie met sy familie en vriende – groot verlies – ook in die fotografie-wêreld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.