Bekroonde RSG Kunstefees terug met die room van SA kunste

Kunstefees witRSG se bekroonde op die lug kunstefees is van 10 tot 14 November terug met ‘n gehalte-aanbod van teater, komedie, musiek en selfs ‘n eksperiment met stilte.

Verlede jaar se eerste radio-kunstefees is reeds met die Fleur du Cap-teaterprys vir vernuwing bekroon, asook onlangs met Business Arts South Africa se innovasie-prys.

Die fees het Maandag afgeskop met die bekroonde aktrise June van Merch as Katriena, die gewilde karakter uit die pen van die skrywer Riana Scheepers. Die Russiese dramaturg Anton Tsjekof, wat vanjaar 110 jaar gelede dood is, is ook gevier met die kort drama, Op pad, asook die solostuk Die euwels van tabak met Tobie Cronjé. Die regisseur van die Tsjekof-produksies is André Stolz en die rolverdeling van Op pad sluit ook in Rolanda Marais, Grethe Fox, Jacques Bessenger, Danielle Retief en Gérard Rudolf.

Die opvoering van Shakespeare se klassieke stuk, Koning Lear, beloof om ‘n absolute radiodrama-hoogtepunt te wees. Dié stuk is reeds meer as 400 jaar oud. En RSG het besluit om Uys Krige se Afrikaanse vertaling wat al meer as 50 jaar oud is, op te voer. Die veteraan-akteur Louis van Niekerk sal die titelrol vertolk. Dié drama is ook ‘n viering van die 80ste verjaardag van Van Niekerk in 2015. Die regisseur is Bettie Kemp.

Die geliefde skrywers Dot Serfontein en Antjie Krog – ma en dogter – vorm deel van vanjaar se fees. Die veelbekroonde aktrise Antoinette Kellerman vertolk die rol van Serfontein in My mense (met regie deur Juanita Swanepoel en Eben Cruywagen), terwyl Krog se eerste digbundel in agt jaar, Mede-wete, eksklusief tydens die fees bekendgestel word. Krog sal verse uit die bundel voorlees en met die aktrise Susanne Beyers gesels.

Die sanger en storieverteller Nataniël het ‘n unieke produksie vir die RSG Kunstefees saamgestel. In Nataniël vertel… kan agt stories uit hierdie wêreldklas-kunstenaar se pen gehoor word. Hierdie vertel-vertoning is voor ‘n gehoor in die M1-ateljee in Auckland Park opgeneem en sal tydens die RSG Kunstefees debuteer.

RSG Kunstefees 2014In 2 tot 16 in 80 minute kom vier vleuelklaviere en agt van Suid-Afrika se voorste pianiste byeen vir ‘n musiek-extravaganza sonder weerga. Die pianiste Wessel van Wyk, Willem de Beer, Leatitia Orlandi, Bart Joubert, Paul Ferreira, Brian Bae, John Theodore en Annalien Ball gaan ‘n fabelagtige potpourri van Scott-Joplin tot Afrikaanse volksmusiek uitvoer. Hoe klink Handel se Halleluja-koor, Ravel se Bolero of die beroemde wals uit Faust wanneer 80 vingers dit aanpak? Skakel in vir hierdie program, vervaardig deur Salon Musiek, wat eenmalig op vier konsert-vleuelklaviere uitgevoer word.

Die digter en oudprofessor Lina Spies het in opdrag van RSG ‘n feesproduksie nagevors en saamgestel ter viering van DJ Opperman se 100ste verjaardag. Hierdie sonderlinge program sal ook voorlesings van Opperman se werk deur van Suid-Afrika se voorste voordragkunstenaars insluit.

Die twee komiese akteurs Oscar Petersen en David Isaacs het spesiaal Die beste van Joe Barber vir radio saamgestel. Dié duo, onder spelleiding van Heinrich Reisenhofer en Johan Rademan, gaan die lagspiere behoorlik laat tintel.

Die RSG-omroeper, aktrise en skrywer Renske Jacobs het ‘n spesiale kinderreeks, Die Ploeters kom aarde toe, geskep wat elke aand van die fees vir die jongspan uitgesaai sal word. Die spelers sluit in Botha Enslin, Johny Klein, Debre Rossouw, Christelle van Tonder en Esté Gross.

En in Die Afrika in Afrikaans, word die musiekgrense met mening verskuif. Anna Davel, Gloria Bosman en Timothy Moloi skep ‘n musikale en ritmiese sinergie tussen Afrika en Afrikaans onder die leiding van die musiekregisseur Janine Neethling. Hierdie 80 minute lange produksie, vervaardig deur Ilse Schürmann, gaan die luisteraar end-uit boei.

Van die ander fees-aanbiedinge sluit in ‘n komedie-reeks, spesiaal vir RSG geskep deur die komediant Mark Banks, en ‘n span digters huppel behoorlik in hul taal saam met Ilse Salzwedel in Die woordketting. Verskeie nuwe skrywers sal hul stemme dik maak en oud en jonk sal saam met Christelle Webb-Joubert leer hoe om ‘n stillewe binne ‘n paar minute op papier te skep. Die fees word afgesluit met Stilte, ‘n eksperiment in klank wat in opdrag van die RSG Kunstefees vir radio geskep is.

In die daaglikse Kunstefees-klets sal daar gesels word oor onder andere nepotisme in die kunste, die toekoms van kunste-joernalistiek, die stand van die nasionale kunste-bedryf, die tydloosheid van Shakespeare en ook gevra word of die kunste nou in vlak water is… Kunstefees-klets sal soggens om 08:00 en elke middag om 14:00 aangebied word.

RSG Kunstefees word van Maandag 10 November tot Vrydag 14 November op 100 tot 104 FM gehou. Al die feesaanbiedinge is gratis. Die fees kan ook aanlyn beleef word deur rsg.co.za.

Besoek RSG se webwerf, volg hulle op Twitter (@zarsg) of besoek RSG se video-kanaal op YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.