Bekroonde SA akteur sterf

David Clatworthy. (Foto: Facebook)

Die afsterwe van die bekende Suid-Afrikaanse akteur David Clatworthy is Dinsdag deur die Teaterbystandsfonds (TBF) op Twitter bevestig.

Die oorsaak vir Clatworthy (60) se dood is nie bekend nie.

“Die TBF betreur die verlies van die ongelooflike akteur en regisseur David Clatworthy. Mag sy sagte siel in vrede rus,” het die fonds op Twitter geskryf.

Hy was meer onlangs op die kassie te sien as die skurk Gerald Richter in die reeks Getroud met rugby. Hy het ook in die SABC2-reekse Konsternasie oppie stasie en On the couch verskyn.

Clatworthy was ʼn bekroonde akteur, met ʼn Fleur du Cap-toekenning vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir Long day’s journey into the night en vir sy rol as Eddie in Greek. Hy het ook in meer as 100 radiodrama-episodes verskyn.

Hy was in die rolprente District 9 (2009), Platteland (2011) en Mia and the white lion (2018) te sien.

Talle akteurs het hulle medelye uitgespreek teenoor Clatworthy se familie. “’n Unieke, talentvolle vakman as akteur en regisseur, asook ʼn ware teer siel,” het die akteur Anton Dekker op Facebook geskryf.

“Ek het dit werklik geniet elke keer dat ons saamgewerk het. Aan sy familie en geliefdes, mag julle gou vrede vind.”

Clatworthy is op 11 Julie 1960 gebore en het sy skoolloopbaan aan Pretoria Boys High voltooi. Tussen 1980 en 1983 het hy ʼn diploma in spraak en drama aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Dankie vir jou groot bydrae tot ons land David!!!. Mag jou siel in vrede rus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.