Bekroonde SA navorser sterf weens Covid-19-komplikasies

Prof Gita Ramjee. Foto: Aurum-instituut

Prof. Gita Ramjee, ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse wetenskaplike en navorser, is weens komplikasies wat met Covid-19 verband hou oorlede.

Ramjee was voorheen ʼn hoofwetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se MIV-voorkoming-navorsingsraad en was ten tyde van haar dood die hoofwetenskaplike by die Aurum-instituut. Ramjee was veral bekend vir haar bydrae in die stryd teen MIV.

Adjunkpresident David Mabuza, in sy kapasiteit as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad (SANVR), het sy medelye betuig met Ramjee se afsterwe.

“Prof. Ramjee was bekend vir haar werk om MIV-voorkomingsmetodes te vind wat bevorderlik was vir die leefstyl, omstandighede en waargenome risikofaktore waarmee Suid-Afrikaanse vroue te kampe het, asook in pogings om ’n doeltreffende MIV-entstof te vind.”

Die Aurum-instituut het gesê Ramjee was ʼn wêreldbekende wetenskaplike. “Die Aurum-instituut en die internasionale MIV-navorsingsgemeenskap rou oor haar dood en sal die reusebydrae vier wat sy in haar leeftyd gemaak het,” het prof Gavin Churchyard, hoof van die Aurum-instituut, gesê.

Volgens Mabuza is Ramjee ook internasionaal bekroon vir haar kundigheid op die gebied van navorsing op mikrobismiddels. Sy het onder andere toekennings ontvang vir haar lewenslange bydrae tot MIV-voorkoming en as hoogstaande vrouewetenskaplike.

“Die afsterwe van prof. Ramjee is ’n groot slag vir die hele gesondheidsorgsektor en in die wêreldwye stryd teen MIV/vigs. Sy was ’n kampvegter in die stryd teen die MIV-epidemie. Ter nagedagtenis aan haar moet ons ag slaan op die beroep om die kurwe af te plat deur ons reaksies op hierdie globale pandemie te versterk.”

Mabuza het sy innige meegevoel met Ramjee se familie en vriende sowel as die mediese navorsingsgemeenskap betuig. “Mag haar siel in vrede rus,” het Mabuza gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genis ·

Baie tragies.. sy het voorwaar goeie werk gedoen, en was yster in haar veld… Baie sterkte vir haar familie en vreinde..

Feetjiemens ·

Tragies. Dalk kan ons net n bietjie meer inligting kry oor hoe en waar hul meen sy die virus opgedoen het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.