Bekroonde taalhistorikus (83) sterf

Prof Jaap Steyn

Prof. Jaap C Steyn (Foto: Verskaf)

Die taalhistorikus en skrywer prof. Jaap Steyn is die naweek in die ouderdom van 83 in Bloemfontein oorlede.

Hoewel die oorsaak van sy dood nie amptelik bekend gemaak is nie, blyk dit dat hy weens ʼn hartaanval gesterf het.

Steyn was ʼn joernalis, navorser en dosent aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite. Hy het talle vakkundige artikels en publikasies op sy kerfstok wat ʼn bekroonde digbundel, prosawerke en boeke insluit, en is veral bekend vir sy deeglike navorsing oor die Afrikaanse taal en geskiedenis, asook vir sy biografieë oor MER, NP van Wyk Louw en Piet Cillié.

Twee van sy boeke, Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014) en Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans (2019), het albei by Kraal Uitgewers verskyn.

Steyn het in 1975 die Eugène Maraisprys vir die digbundel Die grammatika van liefhê, die Stalsprys vir geskiedeniswetenskappe vir Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal, die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie vir Die honderd jaar van MER, die CJ Langenhovenprys vir taalwetenskap en die NP van Wyk Louwmedalje vir die volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe, ontvang.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Steyn in 2015 vereer met erelidmaatskap vir sy volgehoue akademiese en kulturele bydraes in Suid-Afrika, Vlaandere en Nederland.

Hy is in 2017 ook as die mede-ontvanger van die Jan H Maraisprys vir sy bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janet ·

Ek het die besondere voorreg gehad om by prof. Jaap Steyn klas te kry (RAU, vroeë 80’s). Hy was ‘n formidabele mens en ‘n inspirerende rolmodel. Ek was ook so 8 jaar gelede by sy huldiging deur die FAK. Rus sag liewe Prof. Jy het ‘n groter verskil gemaak as wat jy dalk self besef het.

MT ·

Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare” is verpigte leesstof vir diegene wat ‘n akkurate en feitlik-korrekte weergawe van die ontstaan van die mooiste taal op aarde wil he.

Hierdie meesterstuk is gestroop van politieke byderwetsheid en agteroorbuig. Afrikaans het gebaat by die merkwaardige lewe van Jaap Steyn.

Rus in Vrede, Jaap.

Martie Smartie ·

Grammatika van liefhê, ‘n puik digbundel. ‘n Groot taalgees soos min.

Boerkind ·

Die rolmodelle en taalpatriotte sterf uit…. ‘n jammerte!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.