Bela-Bela-inwoners gemaan om water spaarsamig te gebruik

Foto van BelaBela deur die gebruiker @trafficsa op Twitter gelaai (Vloede, Maart 2014)

Foto van BelaBela deur die gebruiker @trafficsa op Twitter gelaai (Vloede, Maart 2014)

Die minister van Waterwese het Dinsdag inwoners van Bela-Bela versoek om water spaarsamig te gebruik.

“Ek doen ʼn beroep op alle inwoners om die water spaarsamig te gebruik,” het Rejoice Mabudafhasi, minister van Waterwese, Dinsdag gewaarsku. Sy het inwoners in Rapotokwane naby Bela-Bela toegespreek.

Bela-Bela (Warmbad) en omliggende dele is verlede week oorstroom toe ʼn damwal ná daelange reënstorms gebreek het. Mabudafhasi het aan die inwoners gesê die water wat tans beskikbaar is, is voldoende om aan die behoeftes van almal te voldoen, maar almal moet dit spaarsamig gebruik. “Water kan beskikbaar gemaak word, maar as ons dit nie bewaar nie, sal ons uitdagings beleef.”

Die regering het planne in plek gestel om die behoorlike verspreiding van water te verseker. “Ons is bewus van die onvoldoende grondwater wat inwoners van Rapotokwane beleef,” het sy gesê. “Die klein bietjie water wat wel beskikbaar is, word egter onder andere deur indringerplante en onwettige verbindings verbruik.”

Sy versoek lede van die gemeenskap om onwettige waterverbindings aan te meld.

Die plaaslike munisipaliteit en departement van waterwese het sewe boorgate en ʼn handpomp in die gebied herstel. “Twee ander boorgate word tans herstel.”

Die Magalies-waterraad ondersoek tans die moontlikheid om ʼn pyplyn te bou en dit aan die bestaande Klipdrift-waterwerke in Hammanskraal te verbind.

“Dit sal Rapotokwane, Bela-Bela, Modimolle (Nylstroom) en Mookgophong (Naboomspruit) tot voordeel strek,” het Mabudafhasi bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.