Bela-Bela-onnie sterf: Ma vertel van trauma ná ‘spogkind’ se dood

Lindie Bosch-Jansen en haar vriend, Howard Holtzhausen. Foto: Facebook

Lindie Bosch-Jansen en haar vriend, Howard Holtzhausen. Foto: Facebook

“Dis asof jy droom; asof jy enige oomblik gaan wakker word. Nooit weer gaan ek haar stem hoor nie, haar raad kan vra of met haar gesels nie.”

Só het ʼn verslae Anne O’Neill-Hoffman Maandag aan Maroela Media gesê nadat haar dogter, Lindie Bosch-Jansen (35), die naweek op die terrein van Laerskool Warmbad doodgesteek is. Bosch-Jansen was Saterdagaand saam met haar vriend, Howard Holtzhausen, en haar twee kinders, Jay-Bee (10) en Juvan (7), by Howard se pa, ook genaamd Howard, se 60ste verjaarsdag.

Bosch-Jansen het kort ná middernag goed na haar motor gedra nadat hulle begin opruim het. ʼn Man het uit die bosse gestorm en haar in haar sy gesteek. O’Neill-Hoffman het gesê Jay-Bee, Juvan en Howard se vyfjarige dogtertjie, Meghan, het die aanval gesien. Holtzhausen het met Bosch-Jansen na die hospitaal gejaag, maar sy is kort daarna dood.

O’Neill-Hoffman het gesê sy het net voor 01:00 die oproep gekry dat haar dogter oorlede is. “Dit voel so onwerklik, asof jy droom. Ek mis haar verskriklik. Ek kan nie beskryf hoe seer dit is om ʼn kind aan die dood af te staan nie,” het sy emosioneel gesê. “Jay-Bee en Juvan is by my totdat hulle pa terug is. Hy is op pad terug van oorsee af,” het O’Neill-Hoffman gesê.

“Die kinders is verskriklik getraumatiseerd. Ek het gisteraand tussen hulle twee geslaap. Hulle was heelnag so onrustig en het geruk en opgespring. Dit is verskriklik dat hulle moes sien hoe hulle ma doodgemaak word.” Sy het gesê die kinders sal beslis berading ontvang om die voorval te verwerk. “Ek probeer verduidelik wat gebeur het en dat hulle nou by hulle pappa gaan bly, maar hulle vat dit glad nie goed nie.”

Sy het gesê die familie het nog geen begrafnisreëlings gefinaliseer nie, maar beplan om Vrydag ʼn gedenkdiens in die plaaslike AGS-kerk te hou. “Sedert haar dood stroom die oproepe in. Selfs mense wat ons nie eens ken nie, bel om te sê hoe ’n ongelooflike mens Lindie was en watter invloed sy op hul lewe gehad het,” het sy gesê.

“Sy het ʼn borrelende persoonlikheid gehad en was ʼn liefdevolle omgeemens wat diep spore in die gemeenskap getrap het. Sy was my spogkind en ek was 35 jaar lank bevoorreg om haar aan my sy te hê.”

Holtzhauzen het op sy Facebook-blad ’n boodskap ter herinnering aan Bosch-Jansen geskryf: “My liefie, ons gaan jou baie, baie mis. Dankie dat die Liewe Vader jou vir ons vir so ʼn klein tydjie geleen het. Jy was my alles. Ek sal jou altyd liefhê. Tot ek jou weer sien. Love you lots.”

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê ‘n verdagte is kort na die moord in hegtenis geneem. Hy sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Theresa ·

Mev O’Neill Hoffman, so innig jammer om van die groot verlies van ‘n pragmens te hoor. Ons bede is ook dat die twee bloedjong kinders die nagmerrie waardeur hul is, mettertyd sal verwerk. Mag Howard ook versterk word, want hy is ook hierdeur getraumatiseer.

Enige nuus of die krimineel al opgespoor is??

Deon ·

Ja hy is gearesteer na hy gewond is, verskyn blykbaar more in hof.

Katryn ·

ONGELUKKIG is dit maar een van vele moorde op ons mense. wat kan ons doen? Wat kan ons se?

piet ·

Dra n vuurwapen en leer hoe om dit effektief te gebruik , daar is baie mense wat deesdae gratis self-beskermings klasse aanbied en jou leer hoe om jouself teen n aanvaller te beskerm
wees paraat

pop ·

Woorde het ek nie. Ek voel leeg en dood van al die lelike goed wat om ons aangaan. Dis die een berig na die ander!!!Hoe hou mens aan leef as jou siel doodgaan.

Rouxle ·

Mens, dis baie sleg. Alle rustigheid vir Jou en die kinders.
Selfs die klein tuisdorpies is nie eens so veilig soos ons dink nie.

STERKTE

christa ·

Dit moet baie seer wees dink aan al die familie al het ek haar nie geken nie al wat ek kan se ons land is baie sleg ons is nie eers in ons eie plekke veilig nie en ons korupte ANC regering doen net mooi niks .

Leon Meiring ·

Ja dit sleg om sulke goed te lees, dat so n jong dame uit die wereld geruk moet word deur n barbaar,ongelukkig die straf wat die persoon gaan kry regverdig nie die verlies en seer vir die familie nie, my innige meegevoel met die verlies mag julle vertroosting kry om julle deur die beproewing te drae

Johnnie ·

My hart gaan uit vir die twee kinders ons bid maar net dat die Here hulle sal vertroos.

Theresa ·

PJK, my vraag ook. Elke mens in ons land wat voel dit moet stop, moet saamstaan. Referendum??

neelsie ·

So onnodig!!
Sterkte aan die familie.
Bid God se genade vir julle.

Winston ·

Kan my nie indink in julle droefheid nie. Dis bo begrip en kan maar net bid dat God vertroosting sal bring. Ek wil ook graag weet wanneer is genoeg van sulke aanvalle op wit inwoners, genoeg?

DG ·

Daar is net een straf vir die misdadiger, en dit is doodstraf, enige iets anders is onaavaarbaar.

SNEL ·

Baie sterkte aan die familie!

Vreeslik wat die kindertjies op n jong ouderdom moet deurmaak. Hulle lewens is op meer as een gebied ontwrig. Mag die Here genesing in hulle gemoedere bring.

Sandra ·

Ek huil, moeder aarde is verskeur deur geweld en dan kom jy by kinders wat moet sien hoe hulle Ma vermoor word hulle is nog so klein en hoe maak jy hulle sonder n Ma dis n ginerasie wat stukkend is gebreek. STOP ASSEBLIEF

Ina Munro ·

Dis so sinneloos! Wat het die stuk gemors wat haar doodgemaak het gedink wat kan hy daardeur bereik! So jammer vir haar kinders en familie! So hartseer dat so pragtige mens so jonk en so wreed moes gaan. Sterkte aan al die familie!

Treurgrond ·

Dit is so ‘n sinnelose sinnelose dood – dink die man wat haar dood gemaak hy is braaf – wat gaan aan met die mense – hulle maak net dood links en regs en omdat die doodstraf nie meer daar is nie gee hulle nie om nie – want wat gebeur met hulle – hulle gaan tronk toe – hulle kry drie gekookte etes en met hulle vrug wat hulle moet he wat ons ouer mense nie eens het nie. God hou asseblief U arms om die famiie asseblief my God.

Glenn en Stienie Buss ·

Mag die Here julle styfvashou en deur die moeilike dae dra. n Kind wat afgestaan word aan die dood is seker die hartseerste ding wat met n ouer kan gebeur. Ons verstaan alte goed is twee keer daar deur. Vertrou op die Here dit is waar julle hulp vandaan sal kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.