Bela: DA sal hom op president beroep óf hof toe

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto: Kohji Asakawa / Pixabay)

Die DA gaan voort om vas te staan in sy teenkanting teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) en sal uiteindelik hof toe gaan om die grondwetlikheid daarvan te toets, sou dit wet word.

Agt van die nege provinsiale wetgewers in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee oor onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur het Donderdag in hul finale mandate aangedui dat hulle die finaal gewysigde wetsontwerp steun. Die Wes-Kaapse wetgewer het dit verwerp.

Delmaine Christians, DA-LP, het gesê die party se standpunt bly dat die Bela-wetsontwerp, selfs met die onlangse wysigings, beduidende bedreigings vir die outonomie van skole en gemeenskappe reg oor Suid-Afrika inhou.

“Hoewel sommige aanpassings gemaak is in reaksie op komiteeberaadslagings, is dit gering in omvang en versuim dit om die kernbekommernisse wat deur verskeie belanghebbendes en die Wes-Kaapse wetgewer geopper is, aan te pak. Die wetsontwerp gaan voort om mag in die hande van onverkose burokrate te sentraliseer, wat die deurslaggewende rol van ouers, opvoeders en plaaslike beheerliggame in die vorming van die opvoedkundige toekoms van hul gemeenskappe ondermyn.”

Volgens Christians is daar steeds sleutelkwessies soos die uitgebreide besluitnemingsmag wat aan die hoofde van provinsiale onderwysdepartemente gegee word, en die rol van skoolbeheerliggame en plaaslike gemeenskappe in die bepaling van taal- en toelatingsbeleide.

Daar is verder ook kommer oor die fiskale uitwerking, die beperkings op tuisonderrig en die gebrek aan omvattende openbare deelname.

Die Bela-wetsontwerp sal nou na ʼn volle sitting van die NRP verwys word vir debattering en aanvaarding.

Indien die Nasionale Vergadering (NV) die gewysigde weergawe bekragtig, sal die Wetsontwerp aan die president gestuur word vir instemming. Indien dit aanvaar word, sal dit weer na die NV gestuur word vir goedkeuring. Indien dít gebeur, sal dit na die president verwys word om as wet te bekragtig.

“Die DA bly daartoe verbind om die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm uit te daag. Ons beplan om die president formeel te versoek om die wetsontwerp terug te verwys na die parlement vir heroorweging of, indien nodig, na die Konstitusionele Hof. Sou die president die wetsontwerp onderteken sonder om ons bekommernisse aan te raak, sal die DA onmiddellik regstappe volg om die grondwetlikheid van die wetsontwerp in die hof te betwis. Hierdie benadering verseker dat ons ons verbintenis tot die verdediging van die regte en belange van alle Suid-Afrikaners in die onderwys handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

minnie muis ·

ongelukkig gaan dit tydmors wees, as anc besluit het dan sal dit so wees. Feit dat minder as 5 miljoen die 60 miljoen so bang maak …

Republikein in die Wes Kaap ·

@minnie muis, die 60 miljoen is nie bang vir die 5 miljoen nie. Die 60 miljoen is bang vir mekaar.

annie ·

Al vergeet van die VP van duisende jare gelede wat Afrikaners en Afrikaans so beveg het? Destyds ná 1652+ is Engels adeur die Britse bewind aan die Kaap afgedwing. Britse sendelinge op sendingstasies saam en hul swart onderdane het glo vreeslik lekker gelag vir die krom en skewe Engels van die Trekkerboere wat dringend hulp benodig het. Die sendelinge het gesorg dat hul nooit ‘n woord uiter in die nuwe Afrikaanse taal wat aan die ontwikkel was nie. Nog ‘n rede hoekom die Kaapse Afrikaanders hul waens gepak het. Wat gaan ons nou doen? Die Kaap is steeds Engels.

Republikein in die Wes Kaap ·

Annie, ons Engels hier is ook maar krom en skeef. Die oud-Natallers help darem met die vertalings.

Hendrik ·

Dankie DA en die weskaap. Doen tog jul uiterdte bes om hd kommunistiese aanslag af te weer. Waar is ons V Frond? Na my mening is daar geensins genoeg gedoen om hd aanslag met vuur en vlam af te weer nie. Soek nog steeds na n tv program waatin n paneel bespreking alle gevolge sou deurtrap. Verengelsing wotd oor belemtoon. Die eintlike gevolge is n kommunistiese regering regeer en onderwys daar in georieteer wees. Aanslae teenoor die christelike godsdiens het alreeds deur geskemer. Jou kind word op lang termein gevorm tot staatsbesit.
NEEM KENNIS GROTER MAGTE VAN BUITE AS DIE REGERING IS WERKEND AGTER DIE SKERMS!!!!!!!

Meinung ·

Miskien moet ons nou weer vir meneer Roelf Meyer (ongelukkig is FW nou oorlede) en sy onderhandelingspan vra wáár is die wigte en teenwigte nóú waaroor so hoog opgegee is? Die NP kon uit ‘n posisie van mag onderhandel en moes die onderduimsheid en onbetroubaarheid van die ANC tog geantisipeer het. Maar dit wil voorkom of die NP-span met verleë glimlagte net “oorgegee” het. Dit help nie om te bly sê die Grondwet is voortreflik maar die implimentering faal nie. Die praktiese sy van sake wys dat ons taal diep in die moeilikheid is. Die hoër funksies sal beslis skade ly as opleiding by universiteite nie meer in Afrikaans gedoen word nie. Nou duik die taal in skole. Uiters tragies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.