Bela-vergaderings in Mpumalanga ’n ‘fiasko’

Ermelo (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die DA wil hê die parlement moet ondersoek instel na die beweerde oortreding van prosesse tydens openbare sittings aangaande die Bela-wetsontwerp.

Dit volg nadat openbare sittings in Mpumalanga die afgelope naweek op “een fiasko na die ander” uitgeloop het. Sondag se sitting in Ermelo is op kort kennisgewing gekanselleer weens grootskaalse verwarring oor die tyd en plek waar die vergadering sou plaasvind. Die ander twee verhore het boonop sonder die nodige ondersteuning van die parlement se openbare onderwyskantoor voortgegaan.

“Die DA versoek nou dat alle verdere verhore uitgestel word totdat die parlement sy sake agtermekaar kry,” het Baxolile Nodada, die DA se woordvoerder oor onderwys, gesê.

Nodada sê die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, het komiteelede Vrydag ingelig dat die naweek se openbare verhore sonder die nodige ondersteuning van die parlement se openbare onderwyskantoor sal voortgaan, aangesien hulle min personeel het.

“Gevolglik is die normale prosedure vir openbare verhore nie gevolg nie en die parlement het nie die vorige week die gemeenskappe besoek om geskikte lokale te identifiseer en te reël nie. Hulle het dus ook nie met die gemeenskappe en belanghebbendes gepraat om hulle oor die Wetsontwerp in te lig en te mobiliseer om die verhore by te woon nie.”

Volgens Nodada is Vrydag se verhoor deur ʼn handjievol gemeenskapslede bygewoon, van wie die meeste ANC-ondersteuners was. Verhore in Kanyamazane is wel beter deur die gemeenskappe verteenwoordig, maar volgens die DA was dit te danke aan onafhanklike advertensies van die vergaderings deur ander belanghebbendes.

“Dit blyk dat die regerende party alles sal doen wat nodig is om die drakoniese Bela-wetsontwerp deur die parlement te stoot en gemeenskappe en skoolbeheerliggame van hul regte te ontneem om hul eie taal- en toelatingsbeleide te bepaal.”

Algehele proses ‘nie onbillik’

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas), sê die naweek se haakplekke moet nie die hele deelnameproses oorskadu nie, aangesien dit tot dusver op die meeste plekke goed en georganiseerd geskied het.

“Hoewel Sondag chaos was, dink ek nie die hele proses is chaoties of onbillik nie,” het Deacon gesê.

“Ons ervaring met ander byeenkomste tot dusver was die teenoorgestelde. Ek is nie seker wie die foute in Ermelo begaan het nie, maar die parlement se onderneming is dat almal ʼn geleentheid sal kry om hul stem te laat hoor en ons sal seker maak daai mense kry ook die geleentheid om hul sê te sê. Oor die algemeen is ons egter tevrede dat die mense gehoor word.”

Fedsas het wel vroeër sy bekommernis uitgespreek oor tekens van moontlike intimidasie van onderwysers en manipulasie van openbare konsultasieprosesse oor die Bela-wetsontwerp in die Oos-Vrystaat en Noordwes. Hier het amptenare in enkele gevalle opdrag aan skole gegee dat slegs die skoolhoof en beheerliggaamvoorsitter van elke skool die openbare sessies mag bywoon.

Deacon benadruk hoewel die openbare deelnameproses nie ʼn parlementêre proses is nie, dit tog die parlement se verantwoordelikheid is om toe te sien dat die proses reg en demokraties geskied. Indien daar voortdurend misstappe is, sal die hele proses bloot uitgerek word.

Wat die gesindheid van die publiek by hierdie openbare verhore betref, sê Deacon dit is moeilik om vas te stel of die oorwegende gevoel positief of negatief is, aangesien dit van plek tot plek verskil en grootliks afhang van hoe goed gemeenskappe gemobiliseer word om deel te neem.

“Daar was wel nog nie by een van die byeenkomste 100% steun vir die wetsontwerp nie.”

Kommer oor kommunikasie, vorms aan gemeenskap

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê hulle is uiters bekommerd oor vorms wat deur lede van die publiek ingevul moet word, waar hulle bloot met ’n merkie kan aandui of hulle ten volle, gedeeltelik of glad nie ten gunste van die wetsontwerp is nie.

“Hierdie is ʼn geleentheid vir gemeenskappe om terugvoer te gee, jy kan dit nie doen deur bloot ʼn merkie op ʼn vorm te maak nie. Lede van die gemeenskap kan wel bykomende kommentaar aanheg, mits jy jou eie krambinder het en dit aan die vorms vaskram, maar ons is bekommerd dat die kommentaar nie in ag geneem gaan word nie, maar dat hulle bloot gaan tel wie ‘ja’ gestem het,” sê Buys.

Sy sê die kommentaar is juis belangrik om te wys dat mense die wetsontwerp gelees het en dit verstaan.

“Baie mense heg nie kommentaar aan nie. Nou lyk dit dalk of 80% van die vergadering ten gunste is van die wetsontwerp, maar geen redes word hiervoor verskaf nie.”

Die SOS is van mening dat die wetsontwerp in sy geheel geskrap moet word.

Buys sê die SOS beplan ʼn groot opkoms by die openbare verhoor wat die einde van die maand in Pretoria gehou word.

Verhore word ook die komende naweek in KwaZulu-Natal beplan.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.