Belangrike datums: Só lyk pad nou tot kiesdag

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Kieserregistrasie is afgehandel, die amptelike verkiesingsdatum is in die Staatskoerant afgekondig en die voorlopige kiesersrol is vir inspeksie beskikbaar gestel. Die wiele is aan die rol vir die nasionale en provinsiale verkiesing wat op 29 Mei vanjaar gaan plaasvind.

ʼn Hele paar dinge moet egter nog voor dán gebeur en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ʼn tydlyn met belangrike datums in aanloop tot verkiesingsdag bekend gestel.

Voorlopige kiesersrol  

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, sê ʼn elektroniese weergawe van die voorlopige kiesersrol is Maandag by al die OVK se kantore beskikbaar gestel sodat Suid-Afrikaners die kiesersrol kan nagaan en insette kan lewer.

Die proses word ingevolge wetgewing vereis.

Diegene wat beswaar wil maak teen die in- of uitsluiting van ʼn kieser op die lys, word versoek om dit teen 4 Maart 2024 te doen. Die OVK sal alle besware teen 11 Maart 2024 oorweeg, ondersoek en bepaal voordat Mamabolo die kiesersrol op 12 Maart sal sertifiseer.

Die kiesersrol staan in hierdie stadium op 27,7 miljoen mense. Dié getal kan egter ná die sertifisering van die kiersersrol anders daarna uitsien.

Benoemings

Lede van die Onafhanklike Verkiesingskommissie tydens Maandag se mediakonferensie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Volgende op die doen-lys is die indien van benoemings.

Alle onafhanklike kandidate en politieke partye wat vanjaar aan die verkiesing wil deelneem, het tot 8 Maart kans om hul benoemings in te dien.

Politieke partye en onafhanklike kandidate sal teen 18 Maart van die OVK terugvoering kry. Kandidate wat dan nie aan die nodige vereistes voldoen het nie, het twee dae, tot 20 Maart, om die nodige wysigings aan te bring.

Mamabolo het Maandag verduidelik dat sommige kandidate in vorige verkiesings deur meer as een politieke party benoem is. Die wet verplig egter nou die OVK om partye in kennis te stel, sou dit gebeur.

Om hierdie rede sal partye vanjaar die geleentheid kry om óf die benoemde kandidaat te verwyder en te vervang, óf hul voortgesette kandidatuur te bevestig. Hierdie kennisgewings sal op 22 Maart uitgereik word en politieke partye het tot 25 Maart om versoeke in te dien vir verwydering, vervanging of bevestiging van kandidatuur.

Voorlopige lyste van kandidate word gevolglik op 26 en 27 Maart vir insae gepubliseer.

Alle besware teen voornemende kandidate moet teen 27 Maart by die OVK ingedien word. Die kommissie sal ʼn dag later, op 28 Maart, oor hierdie besware besluit.

Dit staan dan enige persoon of politieke party wat nie tevrede is met die kommissie se besluit nie, vry om die kieshof te nader. Alle appèlaansoeke moet egter teen 2 April by die hof ingedien word sodat die hof teen 9 April daaroor kan beslis.

Suid-Afrikaners kan teen 10 April ʼn amptelike lys van kandidate verwag.

Lys van kiespunte

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Die amptelike lys van die 23 292 stemlokale waar Suid-Afrikaners vanjaar hul kruisies kan trek, sal vanaf 12 April vir insae beskikbaar wees.

Spesiale stemme

Diegene wat ʼn spesiale stem wil uitbring – om dus voor die amptelike verkiesingsdag te stem – moet voor of op 3 Mei daarvoor aansoek doen.

Dit sluit in diegene wat siek en ingeperk is en dus nie by ʼn stempunt op verkiesingsdag kan wees nie. Dit geld ook vir diegene wat nie op 29 Mei in hul stemdistrikte is nie.

Huisbesoeke en spesiale stemme sal vanjaar oor twee dae plaasvind: op 27 en 28 Mei.

Suid-Afrikaners wat plaaslik geregistreer is om te stem, maar van voorneme is om in die buiteland te stem, het tot 22 April kans om die OVK hieroor in te lig. ʼn Aanlyn kennisgewingsfasiliteit is hiervoor op die verkiesingskommissie se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.