Belangrike getuienis nie in Oscar Pistorius se verklarings

Staatsaanklaer Gerrie Nel Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel het die moordbeskuldigde Oscar Pistorius Maandag in die Pretoriase hooggeregshof daarvan beskuldig dat hy belangrike getuienis uit sy aansoek om borgtog en pleitverduidelik gelaat het.

Pistorius het Maandag gesê hy het die toiletdeur hoor toeslaan, maar Nel het gesê hierdie getuienis is glad nie in sy verklarings nie. Nadat Pistorius nie kon verduidelik waarom dié getuienis nie ingesluit is nie, het Nel gesê: “Dit is omdat jy dit uitgedink het.”

Pistorius word van moord beskuldig nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Hy het gesê hy het ʼn geluid in die badkamer gehoor en aangeneem dit is ʼn inbreker.

Nel het Pistorius ook daarop gewys dat hy nie in enige van sy verklarings die “geluid” wat hy gehoor het verklaar het nie. Die atleet het Maandag gesê die venster het oopgeskuif en teen die vensterraam gestamp.

Die staatsaanklaer het vroeër gesê Pistorius moet tyd “skep” in sy weergawe om Steenkamp tyd te gun om op te staan en na die toilet te gaan. Nel het hom uitgevra oor die LED-liggie op ʼn versterker wat hom deur die aand gepla het. Pistorius het gesê hy het Steenkamp se denimbroek opgetel om die blou liggie te bedek. Nel het Pistorius ook daarop gewys dat hy die getuienis oor die blou liggie ook nie by sy aansoek om borgtog of pleitverduideliking ingesluit het nie.

Nel het Pistorius ook daarop gewys dat hy Steenkamp se selfoonliggie sou sien indien sy die selfoon se liggie gebruik het om in die donker te sien toe sy toilet toe gestap het. Pistorius het gesê sy rug was na die gang gedraai, hy sou nie die liggie kon sien nie.

Die hof het ook gehoor Pistorius het sy mik verander terwyl hy skote deur die toiletdeur gevuur het.

Nel het hom tydens kruisondervraging uitgevra oor die geluid wat hy glo in die toilet gehoor het. Pistorius het aanvanklik beweer die geluid wat hy in die toilet gehoor het, was die deur wat teen die raam skuur asof iemand dit oopmaak. Toe hy die klank hoor, het hy gevuur, glo onder die indruk dat ʼn inbreker enige oomblik uit die toilet sou kom om hom aan te val.

Pistorius het daarna bygevoeg: “In retrospeksie was dit die tydskrifrakkie wat beweeg het.”

Nel het daarna ʼn foto van die toilethokkie gewys met metaalstawe wat die ballistikus deur die vier koeëlgate gesteek het. Die gate is met die letters ‘A’ tot ‘D’ op die deur gemerk.

“‘A’ mik na die toilet, indien mens na die trajek kyk,” het Nel gesê. “Die getuienis bewys dat dit haar regterheup getref het. Kaptein Mangena (ballistikus) het getuig sy het daarna op die tydskrifrakkie geval. ‘C’ en ‘D’ mik na die tydskrifrakkie. Jy het die tydskrifrakkie hoor skuif en jou mik verander.”

Pistorius het gesukkel om hierop ʼn antwoord te gee.

“Ek kon nie hoor dat sy op die tydskrifrakkie val nie, want volgens die staat se getuienis het een van die skote gemis,” het Pistorius gesê.

“Ek weet nie wat jy geantwoord het nie,” het Nel gesê.

Pistorius het Maandag ook tydens kruisondervraging gesê hy blameer homself vir Reeva se dood.

Die atleet het erken dat hy die persoon, wat in die toilethokkie was, nie ʼn kans gegun het om weg te kom voordat hy begin skiet het nie. “Jy het gesê, ‘kom weg uit my huis’, maar jy het die persoon nooit die geleentheid gebied om dit te doen nie,” het Nel gesê. “Jy het hulle geen kans gegee nie, net geskiet?” Pistorius het erken dit is korrek. Die atleet het glo geskree: “Get the f**k out of my house”.

Pistorius kon Maandag ook nie verduidelik waarom daar nog kos in Steenkamp se maag was nie. Pistorius voer aan die paartjie het omstreeks 19:00 die vorige aand geëet en kort daarna gaan slaap. Sy is omstreeks 03:00 die oggend doodgeskiet. Pistorius het aanvanklik toegegee daar is ʼn “moontlikheid” dat sy ná 19:00 nog geëet het, maar later bygevoeg dit is “hoogs onwaarskynlik”.

Nel het Maandag gesê hy kan nie vir Pistorius se emosionele uitbarstings blameer word nie. Barry Roux, vir Pistorius, het gesê Nel herhaal sekere dele van die voorval wat daartoe lei dat Pistorius emosioneel raak. Regter Thokozile Masipa het gesê sy sal oplet indien Nel sy vrae herhaal. Die hofverrigtinge moes Maandag twee keer verdaag sodat Pistorius homself onder bedaring kan bring.

Pistorius staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Die verhoor hervat Dinsdagoggend. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elvira ·

Lyk my die joernalissie dink ‘n “paartjie” en ‘n “egpaar” is dieselfde ding! ;-)

Sune van Heerden ·

Dagsê Elvira

Ek vra om verskoning oor die groot flater! Ek het die wysiging aangebring.

Groetnis
Suné van Heerden

Sune van Heerden ·

Dagsê Annie

Jammer, dit was ‘n flater. Dit is intussen reggestel.

Baie dankie
Groetnis
Suné van Heerden
namens Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.