Belangrike geveg oor kopiereg woed vandag in parlement

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

ʼn Belangrike veldslag in die debat oor kopieregwetgewing wat elke Suid-Afrikaner raak, ernstige implikasies vir die land se onderwysstelsel het en sowel die plaaslike uitgewersbedryf as die plaaslike rolprentbedryf erg kan skaad, kom vandag in die parlement aan die bod.

Die implikasies van die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg word vandag in ʼn uiters ongewone stap wat dalk ʼn welkome aanduiding van politieke nadenke by die ANC verteenwoordig, deur belanghebbendes en die parlementêre portefeuljekomitee oor kuns en kultuur bespreek.

Die vergadering is ongewoon omdat die uiters omstrede wetsontwerp reeds deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is, so die parlementêre rol is eintlik uitgespeel.

Al wat nou vereis word vir die gewraakte voorgestelde veranderings om wet te word, is dat pres. Cyril Ramaphosa dit moet onderteken. Dat dit nou weer in die parlement ter sprake kom, sal die druk op Ramaphosa verhoog om nie die wetsontwerp te onderteken nie. Dat die ANC vandag se bespreking toelaat, laat hoop ontstaan dat besinning nie onmoontlik is nie.

Die nuwe wetsontwerp – ʼn ingewikkelde en by tye werklik swak geformuleerde bulletjie van 67 bladsye – het ten doel om die huidige Suid-Afrikaanse kopieregwetgewing, wat van 1978 dateer, te hervorm om dit onder meer vir die digitale era van toepassing te maak.

Twee aspekte wat kennelik swaar geweeg het vir die opstellers van die wetsontwerp is eerstens dat tradisioneel-oorgelewerde inheemse kennisstelsels (byvoorbeeld medisinale gebruik van boegoe) en kultuurgoedere (byvoorbeeld die tradisionele Zoeloeliedjie wat in vertaalde vorm die internasionale treffer “The Lion Sleeps Tonight” geword het) nie meer gereproduseer of aangewend kan word sonder vergoeding aan die tersaaklike gemeenskap waaruit dit stam nie, en tweedens dat studente se uitgawes besnoei kan word as hulle boeke kan kopieer eerder as om dit aan te koop.

Oor die eerste aspek skep die wetsontwerp ʼn hele nuwe potensieel Bisantynse burokrasie van staatsdiensposte waarvoor die belastingbetaler gaan moet opdok. Dis ʼn ingewikkelde en vaag gedefinieerde stelling en politiek deurwinterdes sal vergewe moet word as hulle vermoed hier kom nog ʼn stuk staatsbestuurde chaos en geldvermorsing aan.

Oor die tweede aspek maak die wetsontwerp dit makliker om boeke en byvoorbeeld rolprente wettig te kopieer eerder as om dit te moet koop. Dit geld egter net Suid-Afrikaanse boeke en rolprente, nie dit wat oorsee uitgegee word nie.

Die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf en die ouditeursfirma PricewaterhouseCoopers het ʼn oudit gedoen wat bevind het plaaslik gepubliseerde boekverkope sal, indien die wetsontwerp in sy huidige vorm wet word, binne die eerste jaar met ʼn derde krimp, teen ʼn koste van R2,1 miljard vir die plaaslike ekonomie en omvattende verlies aan werkgeleenthede.

Uitgewers wys ook daarop dat die bevoordeling van buitelandse bo plaaslike publikasies die instandhouding van ʼn plaaslike uitgewersbedryf vir veral akademiese boeke onvolhoubaar sal maak. Ironies genoeg beteken dit in die taal van ons tydsgees dat die ANC-meerderheid wat ten spyte van waarskuwings so klakkeloos vir die wetsontwerp gestem het, ʼn streep trek deur die konsep van gedekoloniseerde onderwys en dit in effek herkoloniseer, want alle akademiese bronne sal uit die buiteland en met ʼn buitelandse uitkyk kom indien die wetsontwerp wet word.

Voorts bestaan kommer dat van die land se voorste navorsers die land sal verlaat om elders aan akademiese instellings verbonde te wees waar hul navorsing darem volhoubaar gepubliseer kan word.

Dat die kwessie vandag in die parlement bespreek word – en veral dat die ANC ingestem het om die bespreking te laat plaasvind, kan dui op ʼn kentering aan ANC-kant.

Ramaphosa het tans drie opsies. Eerstens kan hy die gewraakte wetgewing onderteken, wat erge gevolge kan hê. Tweedens kan hy niks doen nie en die wetsontwerp laat stof vergaar, soos die sogenaamde muilbandwetgewing byvoorbeeld reeds sedert 2011 doen. Derdens kan hy die wetgewing terugstuur parlement toe om herskryf te word – ʼn handeling waarop rolspelers in die tersaaklike bedrywe hoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos ·

Dalk moet hulle kyk na die handboeke vir skole en universiteite, om dit te hanteer soos medisyne. Laat vir 10 jaar geen kopieering ens. toe nie en daarna kan dit vir akademiesie doeleindes gekopieer of skandeer word.
Dit sal die skrywers en pubilseerders van die boeke genoeg tyd gun om hulle geld te maak en ook nuwe boeke uit te bring, maar dieselfde tyd skole soos my kinders s’n kan help om boeke digitaal aan die kinders te verskaf, aangesien die regering nie nuwe boeke vir ou model C skole voorsien nie en ons moet jaar na jaar boeke lap en reg maak.

En nou? ·

Net soos die polisie deesdae alles MONITOR, so is die ministers net te gelukkig om ‘n vergadering te hou met free snacks, maar die land is besig om af te brand, onder andere. Hou op julle tyd mors met die onnodige KLEIN issues en sorteer die GROOT probleme uit!

Gert van Wierdapark ·

Gelukkig is pres CR, “missing in action” soos Pieter du Toit op Media 24 skryf!!!

Stiks ·

Dit is tyd dat hierdie kaders hulle werk doen en begin regeer(na meer as 25 jaar) en ophou om oor onbenullighede te kibbel.

LR ·

Ek vermoed die ANC en regering het so min intelektuele kapasiteit dat hulle hulle dmv wetgewing dit as te ware moet onteien om dit in die hande te kry.
As jy dus n boek wil publiseer doen dit vanaf die buiteland.

blouapie ·

Kopiereg? Hier is baie belangriker dinge in die land verkeerd. Maar wat kan jy anders van die anc verwag? Die land brand en julle praat net die hele tyd!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.