Belangrike nuus vir naweekgangers

Argieffoto

Die N3-tolkonsessie het Dinsdag diegene wat die langpad hierdie komende langnaweek gaan aanpak gewaarsku om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan om te verhoed dat hulle moontlik sonder brandstof op die N3-snelweg gaan staan.

Donderdag word nasionale Vrouedag landswyd gevier en met dié openbare vakansiedag word daar verwag dat talle mense van die geleentheid gebruik sal maak om na verskillende naweekbestemmings, vriende of familie te reis.

Miles le Roux, vervoeringenieur van die tolkonsessie, het motoriste gemaan om hul brandstofmeters fyn dop te hou en betyds weer vol te maak, aangesien drie vulstasies langs die N3 tans gesluit is vir opknappingswerk. “Sedert die sluiting van hierdie vulstasies het ons spanne wat patrollering op dié roete doen en help met noodgevalle en voertuie wat onklaar raak, ʼn aansienlike toename gesien in voertuie wat sonder brandstof langs die pad gaan staan,” het Le Roux gesê.

Hy vertel dat 17 motoriste in April vanjaar te hulp gesnel moes word nadat hulle op die N3 sonder brandstof gaan staan het en 13 motoriste in Mei dieselfde lot teëgekom het. Nadat die vulstasies egter in Junie gesluit het, het 46 voertuie in dié maand sonder brandstof gaan staan. “In Julie het 51 voertuie se brandstof opgeraak op die N3-tolroete – dit is die hoogste getal ooit,” sê Le Roux.

Twee van die vulstasies wat tans gesluit is, is in KwaZulu-Natal en een in die Vrystaat.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat daar geen vulstasies beskikbaar is op die N3 tussen Van Reenenspas en Estcourt nie,” waarsku Le Roux. “Beide stasies naby die Tugela-tolhek en Estcourt is gesluit en sal eers later vanjaar weer oopmaak. Die vulstasie naby Balmoral, net voor Harrismith wanneer jy in ʼn suidelike rigting ry, is ook gesluit. Motoriste sal hier ʼn afrit van die snelweg af moet neem om hul voertuie weer vol te maak.”

Le Roux het aanbeveel dat motoriste reeds vooraf beplan waar hulle sal stilhou om die brandstoftenks weer vol te maak.

Vulstasies wat wel hierdie langnaweek op die N3-roete (noord en suid) oop is, is naby:

Heidelberg
Villiers
Harrismith
Van Reenenspas
Estcourt (Midway)
Nottinghamweg

Spitstye en padwerke

Volgens Le Roux word hoë volumes verkeer die naweek op die N3 verwag. Die verwagte spitstye is vandag tussen 14:00 en 20:00 in ʼn suidelike rigting, asook Donderdagoggend tussen 06:00 en 12:00. Wanneer naweekgangers huiswaarts keer, word spitsverkeer Sondag tussen 12:00 en 20:00 in ʼn noordelike rigting verwag.

Motoriste word gemaan om ook op die uitkyk te wees vir slegte weersomstandighede wat reën, sterk winde, digte mis en koue temperature kan insluit. “Weens die droë wintermaande is die gebiede langs die N3 geneig tot veldbrande wat vinnig kan versprei. Motoriste moet ekstra versigtigheid aan die dag lê indien daar in hierdie gevaarlike omstandighede gery word,” het Le Roux gesê.

Motoriste word versoek om voertuie se hoofligte aan te skakel, spoed te verminder, ʼn behoorlike volgafstand te handhaaf en te alle tye wakker en verfris agter die stuur te wees.

Le Roux het ook ʼn bietjie goeie nuus gedeel en gesê dat padwerke op die N3 tussen Nottinghamweg en Howick gestaak sal word vir die langnaweek om te verseker dat verkeer glad vloei. “Slegs noodsaaklike instandhoudingswerk sal gedoen word indien nodig,” sê hy.

Enige probleme op die N3 kan by die 24 uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Haas ·

Ek bly klaar n Durban… Lang naweke word gebruik om by die huis te bly….Alles skielik duurder in die winkels….

Nettie ·

@bollie – wou ek ook mos vra. Dis mos net môre ‘n vakansiedag en nie Vrydag ook nie. Ek weet sommige mense is so gelukkig om ‘n ekstra vakansiedag in te kon sit oormôre, maar ek ongelukkig nie. Moet maar werk en met Jan Tuisbly se karretjie ry, soos elke naweek want die paar rande wat ek verdien, moet op ander plekke gate toestop.

Piet OVS ·

Dankie MAROELA, ek dink hierdie is uitstekende inligting en moet met elke
lang naweek aan die wye publiek bekend gemaak word.

franje van spanje ·

Bonnie en Nettie…. Vr is n skoolvakansiedag. So…. vir diegene, soos ek, wat skoolgee, is dit langnaweek. Whoop whoop…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.