Belangrike tussenverkiesings vandag

Die Stad Johanesburg. Foto: Facebook

Vyf belangrike tussenverkiesings vind vandag landwyd plaas, waarvan vier in Johannesburg en een in die Klein-Karoo.

Die belangstelling in die tussenverkiesings word veral gevoed deur drie interessante rigtingwysers die afgelope twee maande, wat wys dat Suid-Afrika moontlik weg van middelpuntsoekende samewerkingspolitiek beweeg en op pad is na ’n groter mate van identiteitspolitiek, belangepolitiek en raspolitiek.

Die drie rigtingwysers was in ’n grootliks wit wyk in Stilfontein, waar die VF Plus onlangs hul eerste wyk in agt jaar gewen het deur dit by die DA af te neem, in die grootliks swart eMbalenhle buite Secunda, waar die EFF byna ’n ANC-wyk afgeneem het, en in George, waar die DA byna ’n grootliks bruin wyk aan Good afgestaan het.

Die wyk in die Klein-Karoo wat vandag beslis word, is wyk 2 van die Swellendam-munisipaliteit. Dis ’n grootliks bruin, Afrikaanse wyk wat setel in die dorpie Barrydale. In die munisipale verkiesing van 2016 het die ANC die wyk net-net teen die DA gewen. Vandag word die ANC as kandidaat verteenwoordig deur William Riddles, wat te staan kom teen Abraham Pokwas (DA) en Stefanus Nel (EFF).

Die vier Johannesburgse wyke is baie uiteenlopend en is almal in 2016 deur die DA gewen.

Wyk 54 is in die suide van die stad, waar die DA in 2016 65% van die stemme getrek het. Dit sluit dele van die woonbuurte Winchester Hills, Suideroord, Ridgeway en Mondeor in. Stuart Marais is die DA-kandidaat teen Ravi Govender (ANC) en Simphiwe Hogana (EFF).

Wyk 83 is aan die Wes-Rand in Roodepoort en sentreer op die woonbuurt Roodekrans. Die DA het in 2016 88% van die stemme daar getrek. Dr. Florence Roberts (DA) kom te staan teen Corey Spengler-Gathercole (ANC), Stanley Masinga (EFF) en Cornelis Boer (VF Plus).

Wyk 109 is ’n deel van Alexandra en ’n deel van Sandton, in die Wendywood-omgewing. Die DA het in 2016 gewen met 50% van die stem. Vandag lê die keuse tussen Sabatin Shongwe (DA), Liaquad Ebrahim (ANC) en Molatelo Mofokeng (EFF).

Wyk 112 is die grootliks swart middelklasgebied Noordwyk in Midrand. Daar het die DA in 2016 naelskraap met 46% van die stemme gewen. Die party in blou word vandag verteenwoordig deur Lerato Mpheto, wat te staan kom teen Vukile Hlongwa (ANC) en Alfred Telekoa (EFF).

Alle uitslae word teen Donderdagoggend verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik Lotz ·

Sterkte aan Cor Boer vd VF Plus daar in wyk 83 in Johannesburg. Mense moet VF Plus stem en die party se hande versterk sodat daadwerklike verandering kan plaasvind. Maak die groen golf onstuitbaar!

Maljan ·

Almal is mos jou al gewoond aan die vuil en Vodde wat majority rule gebring het. Geniet dit maar verder.

Triller ·

Daar was mos ‘n verkiesing in die 5 wyke en almal behalwe die ANC het gewen. WAAROM moet daar nou weer gestem word??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.