Belangrike week lê voor in parlement

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Die parlement is vandeesweek volstoom aan die gang met ʼn verskeidenheid kwessies van landsbelang wat aan die bod kom.

Die belangrikste gebeurtenis van die week vind Woensdagmiddag om 14:00 in die Nasionale Vergadering plaas wanneer die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, sy mediumtermyn-bestedingsraamwerk en aangesuiwerde begroting ter tafel lê.

Wat die begrotingsraamwerk betref is dit vir Suid-Afrika finansieel gesproke uiters taai tye, veral weens die wanbestuur en staatskaping van die Zuma-era. Mboweni het gevolglik min beweegruimte, maar alle oë sal wees op vyf aspekte: staatsinkomste, staatskuld, inperking van staatsuitgawes, ekonomiese groeisyfers en of hy van onderpresterende staatsondernemings ontslae gaan wil raak.

Dinsdagmiddag kom ʼn belangrike debat aan die beurt wanneer die Nasionale Vergadering die politiek en wanbestuur rondom die ineenstorting en plundering van die VBS Bank takel. In ʼn verrassende wending is dit die ANC wat die debat aangevra het, hoewel verskeie prominente politici van die ANC en die EFF by misdrywe in die ineenstorting betrek word.

Dinsdagmiddag kom twee stukke wetgewing ook aan die bod, te wete die Wetsontwerp op die Mededingingskommissie en die Wetsontwerp op Plantverbouers.

Donderdagmiddag se sitting van die Nasionale Vergadering sal veral handel oor visum- en handelsaangeleenthede in Suidelike Afrika, insluitend doeane en aksyns.

Verskeie komiteesittings van belang vind Dinsdagoggend plaas. Van die 18 portefeuljekomitees is die interessantste menslike nedersettings (oor die behuisingsituasie in Limpopo), sport en ontspanning (oor die uitsaai van sport op televisie), die staande komitee oor openbare rekeninge (oor beweerde oortredings deur senior amptenare in die departement van openbare werke) en die staande komitee oor private lede-wetsontwerpe (om dit moontlik te maak vir Suid-Afrikaners om makliker tydens algemene verkiesings te kan stem in die buiteland).

Woensdagoggend sal die staande komitee oor petisies ʼn petisie deur inwoners van Ladybrand in die Oos-Vrystaat oor swak dienslewering in daardie geweste hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Ek hoop die afdanking van AL die onbekwame amptenare wat R250000 per maand verdien is op sy lys. Die land kan biljoene spaar daardeur. Die SARS tannie en Dlamini moet eerste waai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.