Belangrike wysiging aan Bela-wet kom dalk

Lede van AfriForum Jeug tydens ‘n protesoptog by die Uniegebou. (Foto: AfriForum)

Die kans bestaan dat die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die Bela-wetsontwerp) ʼn belangrike verandering kan ondergaan, wat die departement nie die finale sê oor taal- en toelatingsbeleid sal gee nie.

Die Nasionale Raad van Provinsies moet volgende week oor die wet stem nadat die mandaat van elke provinsie deur die gekose komitee behandel is. By die geleentheid sal die komitee ook elke klousule van die wetsontwerp afsonderlik beoordeel.

Maroela Media het einde Maart berig agt van die nege provinsies het nou al hul steun in die NRP aan die wysigingswet gegee. Die Wes-Kaap se proses van openbare insette was egter nog nie afgehandel nie.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor onderwys, sê daar is aanduidings is dat die Wes-Kaap in die NRP ʼn voorstel om ʼn wysiging sal maak, wat sal beteken dat die provinsiale onderwysdepartement, in oorleg met ʼn skool se beheerliggaam, oor die taal- en toelatingsbeleid moet besluit. “Sou die twee partye nie tot ʼn vergelyk kan kom nie, moet hulle die kwessie na ʼn hoër gesag neem. Indien die NRP hierop kan ooreenkom, sal dit die tande van die wetsontwerp heelwat stomper maak.”

Sou so ʼn wysiging wel aanvaar word, sal die wet terug na die Nasionale Vergadering verwys word, wat dit eers weer moet aanvaar, alvorens die president dit kan onderteken. Dit, sê Boshoff, koop weer waardevolle tyd in aanloop tot die verkiesing.

Boshoff meen selfs al word die wysigingswet in sy huidige formaat aanvaar, sal die president lugtig wees om dit te teken omdat alle aanduidings bestaan dat kommentaar tydens die openbare deelnameproses nie behoorlik in ag geneem is nie.

“Sou die konsep wel wet word, sou dit makliker op grond hiervan in die Konstitusionele Hof beveg kon word.”

‘Ek is (nie) ʼn donkie’ – Jeug betoog teen Bela-wet

Lede van AfriForum Jeug tydens ‘n protesoptog by die Uniegebou. (Foto: AfriForum)

Lede van AfriForum Jeug het Maandag tydens ’n protesaksie by die Uniegebou ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om die Bela-wetsontwerp in sy geheel te skrap. ’n Memorandum, gerig aan Ramaphosa, waarin AfriForum Jeug hul teenkanting teen die wetsontwerp uiteensit, is ook tydens die protesaksie aan ’n verteenwoordiger van die presidensie oorhandig.

Volgens AfriForum Jeug herinner die Bela-wetsontwerp aan die verengelsingsbeleid wat Britse owerhede kort ná die Anglo-Boereoorlog in skole toegepas het. As deel van dié beleid is kinders verneder indien hulle Afrikaans by die skool gepraat het. Bordjies waarop die woorde “I am a donkey, I spoke Dutch” aangebring is, is dan om dié kinders se nekke gehang in ’n poging om hulle te verengels. Ter bewusmaking van die eietydse verengelsing wat met die Bela-wetsontwerp op skole afgedwing wil word, het AfriForum Jeug-lede wat aan die protesaksie deelgeneem het, ook “donkieborde” om hul nek gedra.

AfriForum Jeug voer in die memorandum aan dat die Bela-wetsontwerp ’n direkte aanval op moedertaalonderrig in die algemeen is, en ’n indirekte aanval op Afrikaans as onderrigtaal. Die wetsontwerp bevat klousules wat beheerliggame van die mag stroop om self ’n skool se taalbeleid te kan bepaal en wat dit vir ouers onmoontlik sal maak om hul kinders tuis te onderrig indien die provinsiale onderwysdepartement nie vooraf toestemming verleen het nie. AfriForum Jeug benadruk dat, indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar sou word, die toepassing daarvan sal neerkom op kulturele etniese suiwering.

“Met dié verskynsel, poog een groep (byvoorbeeld ’n regering) om alle vorme van kulturele diversiteit van een of meer kultuurminderhede te vernietig deur middel van die toepassing van ekstreme assimilasie en die vernietiging van ’n groep se kultuurerfenis en geskiedenis, en dan ’n enkele taal of wêreldbeskouing op dié groepe af te dwing,” het Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

“Vandag se groep protesteerders het jongmense ingesluit wat tans nog die voorreg het, of dit tot onlangs toe nog gehad het, om in hul moedertaal onderrig te word, en graag wil sien dat hul kinders ook eendag daardie voorreg gegun word.

“’n Groot aantal organisasies en individue het al hul teenkanting teen die Bela-wetsontwerp uitgespreek, maar vandag se protesaksie toon dat die vernietigende wetsontwerp nie bloot anonieme of gesiglose mense sal raak nie, maar die jeug van die huidige en komende generasies. Die jeug se stem sal nie gedemp word nie – daarom moet die president nou ag gee,” sluit Boshoff af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

Wees maar versigtig die regering het hom reeds geopenbaar. Ons gee hom nie die voet in die deur wat lei tot n ongemaklike eindelose stryd sonder sukses nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Afrikaanse skoolgemeenskap en burgerregte groepe behoort alternatiewe voorstelle na die tafel te bring. Om te eis dat skole Afrikaans moet bly gaan nie werk nie. Die staat is onder druk om voorsiening te maak vir swart kinders wat nou in groterwordende getalle in voormalige Afrikaanse woonbuurte (wit en bruin) woon. Ouers verkies dat hul kinders in Engels onderrig word. Die gedeeltelike privatisering van skole behoort ondersoek te word. Afrikaanse leerlinge kan dan steeds kwaliteit onderrig in Afrikaans te ontvang.

Alana ·

Die planne vir privarisering – gedeeltelik of algeheel – is al jare lank op die tafel maar die departement stel nie belang nie, wat is waarom dit noodsaaklik is om Bela teen te staan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sake het vinnig verander oor die afgelope vyf jaar. Die staat se fondse het drasties opgedroog. Nuwe denke is nou dringend nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.