Belangstelling in Saldanha Staal kan dalk werksgeleenthede red

staalbedryf seifsa

(Argieffoto: Hera.org.nz)

Die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) sê twee partye het reeds aangedui dat hulle belangstel om die beleërde Saldanha Staal by ArcelorMittal South Africa (AMSA) te koop.

AMSA het op 11 November bekend gemaak dat hy dié bekende aanleg gaan sluit, na wat die maatskappy genoem het ʼn “bedryfshersiening” van sy bates.

Die besluit is as ʼn ramp vir nie net die dorp nie, maar ook die streek beskryf. Sedert 1996 draai die Weskus se ekonomie om Saldanha Staal. Werknemers woon hoofsaaklik in Saldanha, Jacobsbaai, Vredenburg, Paternoster, St. Helenabaai en Langebaan en hul kinders gaan daar skool.

Kenners het gemaan die invloed daarvan op werkloosheid gaan veel verder strek as bloot net die werknemers van ArcelorMittal wat afgedank word. As die kontrakteurs, diensverskaffers en ondernemings wat die grootste deel van hul werk by Saldanha Staal gekry het in ag geneem word, kan tussen 7 000 en 8 000 mense direk deur die aankondiging geraak word – met verreikende gevolge vir die Weskus.

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het AMSA gevra om aan te hou om met die nasionale regering en ander vennote te werk om die besluit om te keer en ʼn oplossing te vind wat Saldanha Staal in bedryf – en sy werkers met kos op die tafel – hou.

“As geen oplossing by ArcelorMittal gevind kan word nie, moet hulle oorweeg om die aanleg te verkoop sodat die land nie dié nywerheidskapasiteit en werkers verloor nie en om te verseker dat gemeenskappe nie ontwortel word nie,” het Patel gesê.

Die departement het reeds met AMSA vergader en die bestuur gevra om sy besluit te heroorweeg. Hy het ook die maatskappy meegedeel dat voornemende kopers dit oorweeg om ʼn aanbod vir die staalaanleg te maak en gevra dat AMSA elke moontlik poging aanwend om werksgeleenthede te bou – insluitend die oorweging van moontlike aanbiedinge deur ander beleggers.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging. (Foto: ANA)

“Ons is bemoedig deur dié vroeë aanduidings van belangstelling in Saldanha Staal. As AMSA steeds vasbeslote is om Saldanha Staal te sluit, ʼn besluit waarmee ons nie saamstem nie, doen ons desnieteenstaande ʼn beroep op die maatskappy om aktief en openhartig met voornemende kopers te praat en aan hulle voorwaardes te bied wat sou beteken dat die bedrywighede by die staalaanleg en die werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap, behoue bly,” het Patel gesê.

“Saldanha Staal speel ʼn belangrike rol in Suid-Afrika se nywerheidsvoetspoor. Die aanleg is spesifiek vir die Saldanha-streek ʼn belangrike bron van werksgeleenthede en ontwikkeling.”

AMSA se besluit om Saldanha te sluit en bykans ʼn 1 000 werkers af te lê, kom ten spyte van beduidende pogings deur die nasionale regering om steun aan die maatskappy te verskaf om dit te verhoed.

Die DTIC, tesame met die departement van openbare ondernemings, Eskom en Transnet, het vroeër al met AMSA vergader oor steun wat gebied kan word om krag- en logistieke koste by die maatskappy te help verminder.

Die regering het gesprekke met ystererts‑ en steenkoolprodusente gefasiliteer en met vakbonde vergader om maniere te vind om werksverliese te voorkom. Die saamgestelde ondersteuningspakket wat die regering aangebied het, het gewissel van toegewings oor ystererts se prys en krag-, water‑ en spoortariewe. Dit kan tot beduidende kostebesparings lei. AMSA het vir meer steun gevra.

Die regering het AMSA oor die afgelope paar jaar ook gesteun deur middel van tariefbeskerming teen invoere.

Suid-Afrika is een van die enigste groot staalproduserende lande in Afrika. Die nuwe Afrika- kontinentale vryhandelsgebiedooreenkoms (AfCFTA) tree aanstaande jaar in werking en gaan na verwagting bykomende aanvraag vir primêre staal oor die vasteland verseker.

Die staalbedryf stry weens ʼn ooraanbod wêreldwyd ʼn opdraande stryd. Inisiatiewe soos AfCFTA skep egter geleenthede vir verhoogde streeksaanvraag vir staal vir konstruksie, die motorvervaardigingsbedryf en mynbou. Dit is dus broodnodig dat Suid-Afrika sy kapasiteit behou.

“Ons het begin met die proses om ʼn meesterplan vir die staal‑ en metaalwaardeketting in Suid-Afrika saam te stel, wat maatreëls vir vraag en aanbod gaan insluit en groter mededinging en dinamika na die hele staal- en metaalbedryf gaan bring. ʼn Hele aantal inisiatiewe is aan die gang gesit om die aanvraag na staal deur die staat- en private sektor te verhoog en om die kostebasis vir die bedryf te verbeter,” het Patel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Meraai ·

As hulle weet wat dan vir hulle voorle, China duld nie vakbonde nie en ook nie lui mense nie

Ray ·

Baie Meester Planne wat die rondte doen.
Eskom
SAL
Denel
Saldanha Staal
Transnet
Poskantoor
Sassa
NGV

Wonder waar al die “meesters” nou skielik vandaan kom?

Ray ·

Selfs die ANC, DA en EFF het nuwe Meester Planne, ek vermoed die BLF ook

Lou ·

Die regering (ANC) verstaan blykbaar nie die begrip dat as ‘n besigheid nie wins maak nie dan kan dit nie aanhou bestaan nie. Dit is hoekom hulle die SAL nou al vir jare as ‘n bankrot besigheid steeds bedryf.
AMSA het ook ‘n reputasie om plekke tot bankrotskap te bestuur. Hulle het dieselfde gedoen in Vanderbijlpark jare terug toe hulle die staalaanleg by Iscor gekoop het was dit nie lank nie toe het baie mense hulle werk verloor.

Bert ·

Wat van ‘n lekker staking om die proses ‘n bietjie aan te help?

David Potgieter ·

Een van die dae wemel dit van die Chinese in die Weskus. Wat gaan Sammy Klaasens nou doen? Seker maar hand bak staan!

Piet parys ·

Ja hulle idee van meesterplan is seker die persoon wat dit uitdink n ‘master’ is . Hulle planne kom nie en kam nie uitgevoer word nie . MEESTERPLAN IS NOU DIE TOWERWOORD DAN IS ALLES REG

Dorotie ·

My pa het altyd vir ons gese, my kind ek het nie ‘n boom waar ek geld kan pluk nie, maar ek dink hy het vir my gejok. Met al die kapitaal wat ons regereing bestee moet daar ‘n boom met geld wees waarvan hulle pluk. Een miljoen Rand is deesdae nie meer ‘n uitgawe nie, maar ons praat sommer elke dag van miljarde rande se verliese. Ek gaan daardie boom soek en as ek dit kry sal ek julle ook vertel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.