Belasting: Appèlhof beslis teen Lifman

Mark Lifman. Foto: Leon Lestrade/African News Agency (ANA)

Die appèlhof in Bloemfontein het die sakeman Mark Lifman se aansoek om te appelleer teen ʼn vorige hofuitspraak met koste van die hand gewys.

Die hof het beslis Lifman het geen redelike vooruitsig om suksesvol te wees in sy pogings om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te keer om op sy bates beslag te lê nie. Lifman het volgens die SAID uitstaande belasting van R352 miljoen, rente uitgesluit.

Dit kom nadat Lifman vroeër die hooggeregshof in Kaapstad genader het in ʼn poging om die SAID te keer om op sy bates of eiendom beslag te lê totdat die hersiening van sy belastingaanslag afgehandel is.  Regter Elizabeth Baartman het in Junie 2019 dié aansoek van die hand gewys waarna Lifman hom tot die appèlhof gewend het.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het die appèlhof se beslissing verwelkom.  Volgens Kieswetter is die uitgerekte regstryd ’n verdere bewys dat die SAID hard werk om die kapasiteit wat hy die afgelope paar jaar verloor het te herwin, spesifiek met betrekking tot die hantering van belastingbetalers wat hul belastingverpligtinge probeer vermy deur die regstelsel te misbruik.

“Ek wil ’n beroep op alle belastingbetalers doen om hul wetlike verpligtinge na te kom deur hul billike deel van belasting te betaal.  Ek wil diegene wat op enige manier probeer om nie-nakomend te bly waarsku dat die SAID nie sal rus nie voordat ons dit wat aan die fiskus verskuldig is, ingevorder het,” het Kieswetter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek stem 100% saam met die vervolging van persone of instansies wat belasting ontwyk. Maar is dit van toepassing op alle landsburgers?

Paul ·

Wat ek nie verstaan Sars het n “hotline” waar jy persone wat belasting ontduik kan rapporteer en as jy n saak wil rapporteer waar daar verseker belasting ontduiking is word jy ingelig dat mense se belasting sake streng vertroulik is en hulle nie kan optree nie nou verstaan ek nie

Leeuwyfie ·

Ek glo ons moet almal ophou om belasting te betaal. Die regering is nie ons belasting werd nie.

Scalla ·

hoeveel verdien die man dan as daar so groot bedrag verskuldig is?

Gawie ·

Die beginsel bly staan – Betaal die Keiser wat die Keiser toekom. Al stem jy nie aldag saam met wat die Keiser met die geld doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.