Belasting: ‘Jy betaal meer as wat jy dink’

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, tydens die blitsseminaar. Foto: Reint Dykema

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, tydens die blitsseminaar. Foto: Reint Dykema

Jy betaal meer belasting as wat jy dink. En danksy staatskuld, politieke verwagtinge en regeringsinmenging by die ekonomie gaan jy vroeër of later nóg meer betaal.

Só sê die vakbond Solidariteit in ʼn spesiale belastinguitgawe van sy kwartaallikse Arbeidsmarkverslag, saamgestel in samewerking met ETM Analytics. Dié verslag is vandag tydens ʼn blitsseminaar in Centurion vrygestel.

Volgens Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, is ’n breukdeel van die Suid-Afrikaanse bevolking vir die leeueaandeel van belasting verantwoordelik. “Uit ’n bevolking van 55 miljoen mense, van wie sowat 30 miljoen van werkende ouderdom, betaal ’n skamele 1,1 miljoen mense 70% van alle persoonlike inkomstebelasting. Dié skeefgetrekte situasie bestaan ook by ander soorte belasting, soos maatskappyebelasting en BTW.”

Le Roux het gesê die sogenaamde “belastingverligting” waarmee Pravin Gordhan, die vorige minister van finansies, belastingbetalers in onlangse jare probeer paai het, was boonop blote oëverblindery. “In teenstelling met sy herhaaldelike aankondigings van belastingverligting, het Gordhan persoonlike inkomstebelasting sedert 2012 jaarliks met behulp van ‘bracket creep’ laat styg. ‘Bracket creep’ is wanneer belastingkerwe nie genoegsaam vir inflasie aangepas word nie.”

Vir die ware prentjie van die persoonlike inkomstebelastingkoers, sê Le Roux, behoort Gordhan se verskuilde verhogings saamgetel te word met die openlike verhogings wat vanjaar deur sy opvolger, min. Nhlanhla Nene, ingestel is. “Iemand wat in 2012 R25 000 per maand se voorbelaste inkomste ontvang het, en sedertdien VPI-inflasieverwante verhogings gekry het, sal vanjaar in reële terme 6% meer persoonlike inkomstebelasting betaal. En dan praat ons nog nie van meer onopsigtelike soorte belasting soos die 42% hoër heffing op petrol, hoër koolstofbelasting, drankbelasting, inflasie en ʼn verskeidenheid verhoogde invoertariewe nie,” het Le Roux gesê.

Volgens Le Roux is dit nie altyd maklik om tred te hou met die talle onopsigtelike vorme van belasting nie. “Dink maar aan inflasie en hoe dit jou koopkrag verminder. Al is dit tegnies nie heeltemal ’n belasting nie, verarm dit tog die publiek en verryk die staat. ‘Inflasiebelasting’ is swaar: In 2014 was jou laaste salaris vir die jaar byvoorbeeld 5,3% minder werd as jou eerste.”

Daarby toon die verslag dat Suid-Afrika se bruto nasionale skuld oor die afgelope ses jaar skerp toegeneem het. “Meer skuld beteken hoër skuldterugbetalingskoste, selfs in ’n omgewing van lae rentekoerse. Gegewe die gety van toenemende staatsbesteding, skulddienskoste en moeilike ekonomiese omstandighede, moet belastingbetalers hulle staal vir ’n moeilike tyd wat voorlê,” het Le Roux gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

mynhardt beukes ·

Dit is skokkend om te sien hoe die pryse op goedere in winkelrakke die afgelope maand of twee gestyg het. En dan lê munisipale belasting en diensteheffings nog voor.

cobus ·

Ja dit is skokkend. Maar alles word veroorsaak deur onproduktiwitet. Om n “job” te hê en te werk is twee heel versikllende goed. Kamp materiaal styg weekliks. Arbeid kos geld en mense regte is besig om ons lam te lê.

Pretorius ·

Die waarde van die Rand het so gedaal vaaf 1994 dat mens dit nie meer kan bekostig om iets oorsee te koop nie. In vegelyking met die Euro, Pond en Dollar is ons geld nie eers werd die papier waarop dit gedruk is nie. Chinese goedere is wel goedkoper maar die kwalitiet is laag. Die SA regering is ten gunste van chinese produkte en chinese imigrante sak toe in ons land. Oral in ons dorp is daar chinese winkels wat dieselfde goed verkoop. Gaan kyk op die internet wat is die minimum loon in lande soos Aus, NZ, VSA en die UK. Maw kry n straat veeer meer as n gekwalifiseerde ambagsman in SA. Ons geld is kraar niks werd nie nou word ons nog belas daarop. SKELM ANC

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.