Belastingbetaler dok steeds op vir Zuma

Oudpres. Jacob Zuma. (Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma se behandeling in ʼn private hospitaal, asook adj.pres. David Mabuza se mediese behandeling in Rusland, is volgens sommige kenners ʼn aanduiding dat die regerende party nie juis vertroue in sy eie openbare gesondheidsorgstelsel het nie.

Die rekening vir die oudpresident se mediese behandeling in ʼn private instelling beloop tot dusver sowat R400 000. Hy is boonop steeds nie ontslaan nie, wat beteken die koste hou aan ophoop.

Zuma is die afgelope naweek op mediese parool vrygelaat nadat Arthur Fraser, een van sy noue bondgenote en deesdae kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), goedkeuring gegee het dat Zuma op parool vrygelaat word.

Die adviesraad vir mediese parool het aanvanklik die aansoek afgekeur, maar Fraser het nietemin anders besluit.

Die DKD het vroeër vandeesweek gesê Zuma geniet steeds presidensiële voorregte en besprekings is aan die gang om vas te stel wie vir die private behandeling gaan betaal.

Adv. Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van die afdeling vir verantwoordbaarheid by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê een ding is seker – die belastingbetaler gaan opdok.

“Ons hou net aan betaal.”

Boonop moet belastingbetalers Zuma en sy dokters se woord neem oor die aard en erns van sy gesondheidstoestand. “Wat veral tragies is, is dat mense dit glad nie doen nie. Dit maak nie vir mense saak of die oudpresident werklik terminaal siek is of nie, want ons bevraagteken alle prosedures.

“Dink maar aan Shabir Shaik, wat teen hierdie tyd ʼn baie gevaarlike gholfspeler moet wees,” sê sy.

Shaik, ʼn destydse raadgewer vir Zuma, het net meer as twee jaar van sy tronkstraf uitgedien voor hy ook op mediese parool vrygelaat is omdat hy terminaal siek was. Shaik leef steeds.

Fick sê só ʼn voorval verklaar waarom mense wantrouig is.

Sy sê dit is egter nie vreemd dat gevangenes soms in private instellings behandel word wanneer die staat nie self die vermoë het nie.

Philip van Staden, VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, sê dit is ironies dat top-ANC-lede in private hospitale behandeling kry, terwyl die regerende party van gewone Suid-Afrikaners verwag om deur die sukkelende openbare gesondheidsorgstelsel gehelp te word.

“Die staat wil boonop die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op alle Suid-Afrikaners – en belastingbetalers – afdwing, maar die regerende party se politici wil nie self van die staat se gesondheidsdienste gebruik maak nie,” sê Van Staden.

“Dit laat groot alarms afgaan.”

Een van die voorstelle om die omstrede NGV te finansier, is om bestaande mediesefonds-reserwes daarvoor te gebruik. Dié reserwes staan op sowat R92 miljard.

“Die regerende party is gʼn bekommerd oor Suid-Afrikaners se gesondheid nie. Die ANC wil net hul hande op meer geld probeer lê. Vergeet maar daarvan dat hulle die stelsel gaan opknap.”

Van Staden, ook ʼn lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, sê die komitee is besig met oorsigbesoeke aan openbare gesondheidsinstellings landwyd. “Dit is tonele uit die hel. Die plekke val uitmekaar. Dit is vuil. Soms weet ek nie hoe pasiënte dit oorleef nie.”

Hy sê terwyl die staat dus van gewone mense verwag om by dié sukkelende instellings hulp te probeer kry, soms vergeefs, sien ANC-lede – met Zuma en Mabuza as duidelike voorbeelde – klaarblyklik nie self daarvoor kans nie.

Fick sê die uitwerking van korrupsie kan daagliks gesien word, ook in die gesondheidsektor. Onlangse skandale met die aankoop van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) het die verrotting in die stelsel opnuut aan die groot klok gehang.

“Die Covid-19-pandemie het soveel skade aan die ekonomie berokken, en ondanks dié moeilike omstandighede word daar steeds gesteel. Hoeveel korrupsie en diefstal is daar werklik as daar soveel onder dié omstandighede gesteel word? Dit gaan oor vertroue.”

ʼn Onlangse studie deur Afrobarometer het bevind Suid-Afrikaners se vertroue in ʼn verskeidenheid van instellings is op die laagste vlakke sedert dit in 2006 die eerste keer begin meet is. Slegs 38% van mense vertrou die president, 27% vertrou die parlement effens of baie, en vir die eerste keer in die opname se geskiedenis vertrou ʼn minderheid mense (43%) die howe.

Vertroue in die ANC staan op 27% en dié in opposisiepartye op 24%. Tweederdes van Suid-Afrikaners wat aan die studie deelgeneem het, sê hulle sal ʼn verkiesing prysgee as ʼn nie-verkose regering beter veiligheid, behuising en werksgeleenthede kan verskaf.

“As belastingbetalers weet ons hoeveel geld word vermors. En dan moet jy hoor dat die oudpresident ons R400 000 kos.

“Maar ons moenie ophou hoop nie. Ons moenie ophou waaksaam wees nie. En ons moet aanhou om korrupsie bloot te lê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kobus ·

Ek se weer, los hom. Trek alle klagtes terug sodat ons met ons lewens kan aangaan en hy uit die staatskas bly. Hy veroorsaak ook dat ons gesondheid daaronder ly want almal se bloeddruk skiet die hoogte in. Wens die pers wil ook staak om oor hom te berig

Johanncb ·

Is daar al enige aanduiding wát die man makeer, en waarvoor ons moet bly opdok?

PieterK ·

Hy is nie werd om ‘n man genoem te word nie. Krimineel, JA!

Phillip ·

Sy pad is weid oop h.l toe hy sal wel weet hoe dit voel daar

JohanR ·

Wens daar was ‘n manier dat mens die glimlag van die ou se bakkies kan af vee!

koos10 ·

En steeds is daar mense in SA wat die doodstraf wil terug bring???
Daar is geen vertroue in die regering en howe nie, hoe kan hulle besluit oor die lewe en dood?

PieterK ·

Daar stem ek 100% saam. Dit gee hulle net die reg om die blankes met hof uitsprake te vermoor. Skuldig of nie.

Tanja ·

Dit moet in ons Grondwet geskryf word dat die regeerende party en al sy amptenare en hulle huis gesinne moet van al die staatsdienste gebruik maak, medies, vervoer, skool, behuising, ens ens ens, dan sal dienste baie vinnig berbeter en baie minder geld sal verdwyn

Bernard ·

Dalk nie algemeen bekend nie maar dr Angelique Coetzee (van Covid “faam”) is ‘n groot NHI-voorstander. Doen tans “trial runs” by Eugene Marais.

Snowball ·

Ek voel soos Johannes Kerkorrel wat gesing het oor sy TV se beeld “Sit dit af, sit dit af!” elke keer as ek dié verfoeilike gesig sien. So dik vir daardie bakkies en alles wat daarmee gepaard gaan!

Mariana ·

Terminaal of nie, hy hoort agter tralies. Hy speel woer-woer met die belastingbetalers en saans sit hy sy kop neer sonder wroeging oor wat hy daagliks aan ons land doen. Hy het permanent daai lag want hy maak idiote van almal.

Francois Le Cochon ·

Hie, hie, hie (ek lewer kommentaar namens Zuma).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.