Belastingbetalers moet vanjaar opskud

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Belastingbetalers sal vanjaar moet opskud, aangesien ʼn korter belastingseisoen een van die maatreëls is wat deur Jan Taks geïmplementeer word om die belastingproses meer vaartbelyn te maak.

Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Maandag by die SAID se kantore in Pretoria ʼn reeks inisiatiewe aangekondig wat die inkomstediens sal implementeer om die uitdagings in die belastingproses aan te spreek.

Volgens Kingon is een van hierdie uitdagings onnodige lang rye by SAID se kantore in aanloop tot die sperdatum vir die indien van belastingopgawes. Kingon het gesê te veel mense wat nie belastingopgawes hoef in te dien nie, maak gebruik van takke om wel opgawes in te dien. In 2017 is belastingopgawes ontvang van 1,6 miljoen mense wat dit nie hoef in te dien nie.

Nóg ʼn aspek wat druk op die stelsel plaas is belastingbetalers wat uitstaande opgawes indien wat hulle nie in vorige jare ingedien het nie. In 2017 is 733 000 opgawes van vorige jare ontvang. “Hoewel belastingbetalers se pogings om hul belastingsake op datum te bring verwelkom word, maak dit die verwerking van die huidige jaar se opgawes baie meer uitdagend,” het Kingon gesê.

Boonop is daar te min mense wat nog van die SAID se eFiling-opsie gebruik maak. Volgens Kingon het 868 562 belastingbetalers wat vir eFiling geregistreer is in 2017 hul belastingopgawes by SAID-kantore ingedien. Daar is ook 120 000 opgawes by takke ontvang wat deur belastingpraktisyns ingedien is, terwyl eFiling die primêre kanaal is wat belastingpraktisyns moet gebruik om opgawes in te dien.

“Ons het hard gewerk om te kyk hoe ons meer doeltreffend kan wees en ons diens aan belastingbetalers kan verbeter. Ons hoofdoelwit is om belastingnakoming ʼn eenvoudige en roetine-ervaring vir die belastingbetaler te maak,” het Kingon gesê.

Belasting in 2018

“Ons het ʼn aantal inisiatiewe geïdentifiseer om ons benadering te ondersteun. Een hiervan is ʼn korter belastingseisoen.”

Die belastingseisoen vir 2018 is met drie weke verkort en sal van 1 Julie tot 31 Oktober 2018 strek. Hierdie sperdatum is van toepassing op alle individuele nie-voorlopige belastingbetalers wat van eFiling gebruik maak.

Die sperdatum vir belastingopgawes wat by takke ingedien word, is 21 September 2018.

Voorlopige belastingbetalers wat verkies om hul opgawes by ʼn tak in te dien, moet dit ook teen 31 Oktober 2018 doen. Voorlopige belastingbetalers wat van eFiling gebruik maak, het tot 31 Januarie 2019 kans om dit te doen.

Kingon het verduidelik die inkomstediens sukkel dikwels om belastingbetalers oor die Desember-vakansie in die hande te kry indien daar navrae of versoeke is. Deur die belastingseisoen te verkort, sal daar meer tyd wees om enige onduidelikhede uit te sorteer voor belastingbetalers met vakansie gaan.

Die kommissaris het gesê daar is ook direkte kommunikasie aan belastingbetalers gestuur wat moontlik nie nodig het om vanjaar ʼn belastingopgawe in te dien nie. Die betrokke kriteria is in die amptelike skrywes uitgestippel.

Belastingbetalers hoef nié ʼn opgawe in te dien nie, indien die persoon aan AL die volgende kriteria voldoen:

  • Die belastingbetaler se totale inkomste vir die betrokke finansiële jaar was minder as R350 000.
  • Die belastingbetaler se inkomste is slegs vanaf een werkgewer ontvang.
  • Die belastingbetaler het geen ander vorm van inkomste nie (bv. voertuigtoelaag, sakeinkomste, huurinkomste of ʼn tweede werk).
  • Die belastingbetaler wil nie enige ander toelaatbare belastingverwante aftrekkings of terugbetalings eis nie (bv. mediese onkostes, reiskostes, ens.).

Belastingbetalers sal verder aangemoedig word om so ver moontlik van eFiling gebruik te maak, en belastingopgawes van die huidige belastingjaar sal voorkeur geniet bo vorige jare se opgawes. Belastingpraktisyns sal gevra word om streng net van eFiling gebruik te maak vir die indien van opgawes, en administratiewe boetes sal opgelê word vir laat indienings. Die SAID sal ook sy risikomeganismes verfyn om te vermy dat dieselfde belastingbetalers, by wie daar in vorige jare geen risiko geïdentifiseer is nie, herhaaldelik geoudit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hoekom ·

Waarom moet ons opskud om belasting te betaal, sodat die regering ons daarmee kan vervolg, uitdruk, onderdruk, beskuldig, en hulle eie sakke kan volmaak?

Piet Pompies ·

Niemand hoef op te skud om belasting te betaal, jou opgawe waarvoor jy alreeds belasting betaal is, moet nou vroeg ingedien word. Dit is tot jou voordeel as jy te veel belasting betaal het want dan kry jy geld terug.

Paul ·

Dis nie tot jou voordeel as jy te veel betaal het en dan geld terugkry nie. Daai geld het dan by SARS gesit vir etlike maande en jy kry dit sonder enige rente.
Mense wat bly is wanneer hulle ‘n terugbetaling van SARS af kry, verstaan nie hoe dit werk nie – jy kon daai geld self gespaar het en ‘n opbrengs daarop verdien het as dit nie onnodig by SARS gesit het nie.

Piet Pompies ·

Paul lees mooi, dit is tot jou eie voordeel indien jy jou opgawe vroeg indien (jy kry jou geld vroeg terug) vir belasting wat jy alreeds betaal het. Dit bly die belasting betaler se verantwoordelikheid om te verseker dat die regte belasting elke maand afgetrek word. Dit is nie SARS se verantwoordelikheid

Johan ·

Ja en as ek minder as R350 000 per jaar verdien, maar my werkgewer trek belasting verkeerd af (dalk te veel), dan gaan ek mos verloor as ek nie ‘n opgawe indien nie.

Ek vertrou nie my werkgewer nie.

marous ·

Elke munisipale amptenaar en sekerlik meeste staatsamptenare moet dan vining spring. Die privaatsektor het bitter min eerlike werkers wat in die inkomste groep val

CAROL ·

Ek moet eers iemand kry om my belasting na te gaan. 1st jaar was my bybetaling r11000.00. 2de jaar r12000.00 – skielik die 3rde jaar is dit somer r34000.00??? uh hu hul sal maar eer bietjie moet wag vir myne!!

Reguit ·

As jy goed gekwalifiseerd en/of ‘n spesialis is en/of ‘n hoë inkomste verdien, maak dan liewers soos ek gedoen het: emigreer na ‘n beskaafde land waar jou waarde erken en waardeer word; en waar jou hardverdiende geld NIE in ‘n diep donker sinkgat verdwyn nie; en waar dit NIE in ‘n hool uitgemors (geplunder) word nie. Buitendien kan die wonderlike Azanië mos sonder ons hoogs gekwalifiseerde persone (se belasting) oor die weg kom want hulle het mos o.a. hordes hoogs-begaafde BBEE kandidate om ons werk oor te neem, of hoe? Hahahaha…….

Toe julle knegte gee geld nou! ·

Die regering soek nog geld om die blankes te beskuldig, om aan korrupte maatjies te spandeer, en hulle het duur lang karre en duur konferensies in duur hotelle nodig. Kom julle, gee julle geld nou, die politici is honger!

Tia ·

Ek sal myne indien. Vroeg, nes laasjaar, maar ek het nog nie my terugbetaling gekry nie. Toe ek daaroor navraag doen, vertel hulle my ek moet was, hulle het ‘n klein ‘cashflow’ probleem. Hallo, het ons nie almal nie, maar hoekom maak SARS sy probleen nou myne. Kan jy jou indink, hulle het nie R9000 om vir my te gee nie. Komaan ouens, dien in en betaal in, dalk kry ek dan myne.

Gert ·

Dit vat verewig om n verlore ‘password’ te kry op e-filing. Dis hoekom ek eerder gaan tou staan!!!

vissie ·

Jammer al die ander staat departemente is nie so fluks soos SARS nie …. SARS voorsien mos in staatsinstellings se werknemers die hemel hoe salarisse en bonusse so hul moet op en wakker wees.Ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.