Belastinginvordering kos glo meer as wat die SAID bestee

SARSDie SAID verklaar in sy jongste jaarverslag dat die administratiewe koste verbonde aan die invordering van belasting oor die afgelope ses jaar ongeveer 1% tot 1,2% van die totale belasting wat ingesamel is, beloop het.

Die SAID se bedryfskoste is egter nie die enigste regstreekse koste verbonde aan belastinginvordering nie. Die tyd en moeite wat gewone belastingbetalers moet bestee om aan die SAID se administratiewe vereistes te voldoen, dra ook koste. Daar is natuurlik die regstreekse koste wanneer ʼn belastingpraktisyn betaal word om die werk vir die belastingbetaler te doen, maar selfs in so ʼn geval moet die belastingbetaler steeds seker maak dat die belastingpraktisyn oor al die tersaaklike dokumente beskik.

Die SAID het in die 2011/12-belastingjaar R8 221 miljoen aan bedryfskoste bestee om belasting ten bedrae van R742 650 miljoen in te samel, wat beteken dat die insamelingskoste 1,11% beloop het. Die huidige waarnemende kommissaris van die SAID noem met trots in sy oorsig oor die jaarverslag dat dit nie veel van die internasionale norm van 1% verskil nie. Dit word eers verder in die verslag duidelik dat die belastingagentskappe van talle van Suid-Afrika se eweknieë beter presteer, insluitende Rusland, Brasilië, Indonesië en Indië.

Koste van belastingbetalers se koste

Met behulp van data uit die jongste belastingstatistieke wat die SAID vrygestel het, is dit moontlik om die koste van die tyd te bereken wat Suid-Afrikaanse belastingbetalers aan administrasie namens die SAID moet bestee.

Volgens die SAID het die inkomste van belastingbetalers wat in die 2012-belastingjaar belastingopgawes moes indien, en wat met publikasie van die statistiek reeds vir belasting aangeslaan is, R1,18 biljoen beloop voor enige aftrekkings. Hierdie syfer kan ietwat opwaarts aangepas word tot R1,25 biljoen om voorsiening te maak vir daardie belastingbetalers wat met publikasie van die statistiek verplig was om opgawes in te dien, maar nog nie aangeslaan is nie. Met ongeveer 2 250 werksure per jaar beteken dit dat elke uur wat belastingbetalers bestee het om belastingadministrasie namens die SAID te doen, ongeveer R554 miljoen gekos het – ʼn half miljard rand se tyd wat nie by die SAID se berekening oor die koste van belastinginvordering ingesluit is nie.

As dit met die totale inkomste van R251 339 miljoen uit persoonlike inkomstebelasting vir die betrokke jaar vergelyk word, beteken dit dat belastingbetalers administrasie namens die SAID gedoen het teen ʼn koste van 0,26% per uur. Indien elke belastingbetaler jaarliks vier ure daaraan bestee om sy belastingsake agtermekaar te kry, beteken dit dat die koste van die werk wat hulle namens die SAID doen, reeds die maatstaf van 1% oorskry wat die SAID vir homself vir die koste van belastingadministrasie stel. Dit is gelykstaande aan bykans R150 000 vir elk van die 14 944 permanente werknemers van die SAID.

Persoonlike inkomstebelasting is verantwoordelik vir 34% van alle belastings wat ingevorder word. Indien invorderingskoste eweredig oor die belastingstelsel versprei is, sou dit beteken dat ongeveer R2 795 miljoen deur die SAID bestee is om persoonlike inkomstebelasting in die 2012-belastingjaar in te vorder. Elke uur wat belastingbetalers aan administrasie namens die SAID bestee, stoot daardie syfer met bykans een vyfde op.

Tyd wat belastingbetalers namens die SAID aan administrasie bestee

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het bereken dat benewens die 1% tot 1,2% interne administrasiekoste wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aan die invordering van belasting bestee, belastingbetalers tyd ter waarde van R554 miljoen spandeer het vir elke uur wat hulle daaraan bestee het om namens die SAID belastingvorms vir die 2012-belastingjaar in te vul.

Hierdie inligtingstuk is deur die SNI se werkgroep oor verantwoordbaarheid opgestel. Die werkgroep is saamgestel na aanleiding van Solidariteit se toenemende kommer oor die algehele gebrek aan verantwoordbaarheid binne die regering. Klik hier om meer te lees.

Inligting oor administratiewe boetes aangevra

Solidariteit het die SAID versoek om meer inligting bekend te maak oor die administratiewe boetes wat sedert 2009 gehef is. Hierdie boetes kan gehef word wanneer belastingbetalers foute op hul belastingopgawes maak of versuim om by spertye te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Coenraad ·

Ons is pas R1000 beboet oor ´n vorm wat in 2012 nie ingevul is nie alhoewel ons die betrokke aksyns (betyds) betaal het. Ons dien elke maand ´n pak vorms in om basies drie syfers te verskaf. Dan praat ek nie eers van die betalingsprosedure nie. Dis ´n nagmerrie en jy word nie toegelaat om dit per tjek of kontant te betaal nie. Op elke glips sak hulle soos desperate aasvoëls neer en beboet links en regs. Uitstel vir betaling wil hulle nie gee nie want jy het dan kastig die geld al ingesamel wat hulle moet kry. As jy nie kan betaal nie, dan kom die boetes (bo en behalwe die rente). Dis net een nagmerrie. Jy durf nie eintlik kla nie, want dan (vrees ek) sak hulle soos aasvoëls op jou neer. My geheime wens is dat Malema aan bewind kom en die hele spul in die pad steek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.