Belastingseisoen open binnekort

(Foto: ANA)

Vanjaar se belastingseisoen open op 7 Julie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sê hy maak dit eenvoudig vir belastingbetalers om hul wetlike verpligtinge na te kom.

“Die tydige indien van akkurate persoonlike inkomstebelastingopgawes is belangrik vir ʼn naatlose belastingseisoen. Vanjaar moet belastingbetalers beheer van hul eie belastingsake neem, deur te verseker hulle weet wat hul verpligtinge is en daaraan te voldoen,” sê Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID.

“Die SAID gaan voort om tegnologie, die uitgebreide gebruik van data wat versterk word deur masjienleer, algoritmes en kunsmatige intelligensie te gebruik om dit moontlik te maak. Ons maak ook steeds vordering in verskeie aspekte van aanlyn en regstreekse inloop-belastingdienste deur ʼn belegging in ons mense.”

Kieswetter sê die verbetering in dienslewering moet verseker daar is eintlik nie ʼn behoefte aan inloop-konsultasies en lang toue by takskantore nie.

Outo-assessering

Van Vrydag 30 Junie sal die SAID regstreeks met uitgesoekte belastingbetalers per SMS kommunikeer en hulle inlig oor hul outomatiese assessering. Belastingbetalers kry toegang tot hierdie outo-assessering deur enige van die SAID se platforms (soos die selfoon-app of eFiling-platform) om die volledigheid en akkuraatheid van die outomatiese assessering te hersien.

Belastingbetalers wat vir outo-assessering gekies is, kan dit sonder enige wysigings aanvaar of, indien daar ʼn geldige rede is, wysig en weer saam met die nodige ondersteunende dokumente indien.

Diegene wat die outo-assessering sonder wysiging aanvaar en kwalifiseer vir ʼn terugbetaling, sal dit binne 72 uur ná ʼn kennisgewing daaroor uitgestuur is in hul bankrekening ontvang.

As die opgawe gewysig word, word dit weer oorweeg. ʼn Hersiene assessering kan dan uitgereik word. Indien daar geld aan die SAID verskuldig is, kan dit deur die verskillende platforms betaal word.

Die inkomstediens het mense wat vir outo-assessering gekies is, gevra om geduld te gebruik en nie ʼn tak te besoek of die hulplyn oor vordering te bel nie.

“Die SAID sal proaktief en deurlopend met sulke belastingbetalers kommunikeer.”

Indien ʼn belastingbetaler steeds met ʼn opgawe spook, kan ʼn afspraak by een van Jan Taks se takke gemaak word.

Belastingbetalers wat nie ʼn outo-assessering ontvang nie en ʼn opgawe moet indien, kan dit van 7 Julie tot 23 Oktober doen.

Indien alle inligting op die opgawe vir die huidige jaar akkuraat is, sal die transaksie nie meer as tien sekondes duur nie, sê die SAID.

Voorlopige belastingbetalers en trusts kan opgawes tussen 7 Julie en 23 Januarie indien.

Moenie kanse waag

Die SAID sê sy gebruik van tegnologie en data versterk sy vermoë om voorvalle van nievoldoening uit te snuffel. “Belastingbetalers moenie hul uitgawe opblaas en hul inkomste onderverklaar om ontoelaatbare terugbetalings te kry nie. Dit kan ʼn belastingbetaler moontlik aan bedrog skuldig maak,” waarsku die inkomstediens.

Die SAID maan ook dat hy dit met taai boetes “moeilik en duur” gaan maak vir belastingbetalers wat oneerlike opgawes indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Waarom ·

Wonder of Ramaphosa se dollars verklaar is of is is die kaders vrygestel om hulle belasting te betaal.

Blikkantien ·

Ja,ja,ja. Ons sukkel al sedert Februarie hierdie jaar om ‘n boedelbelaastingnommer uit SARS te kry. Mens sou dink hulle sal spring om elke geleentheid vir fondse in te samel.

Christo ·

Gaan SARS ook een of ander tyd die terugbetalings doen, wat al 2 jaar lê en wag???Wanneer mag daar boetes en rentes aan SARS gehef word vir hierdie agterstallige terugbetalings???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.