Beleërde landboubedryf vra vir beperkte loonverhoging

Agri SA waarsku dat groot loonverhogings in die landboubedryf nie volhoubaar is nie. (Foto: Du Preez du Villiers)

Agri SA sê die bedryf kan eenvoudig nie ʼn verhoging in die minimum loon – wat hoër is as inflasie – bekostig nie. Die organisasie het ʼn beroep op die regering gedoen om enige verhoging inflasieverwant te hou.

Verbruikers kry van oral die wind van voor en die landboubedryf voer self ʼn opdraande stryd wat die volhoubaarheid van heelparty boerderye bedreig.

“Hoewel die behoefte aan ʼn verhoging duidelik is, moet dit volhoubaar vir die land se boerderye wees om te verseker dat hulle op hul beurt voedselsekerheid kan waarborg,” sê Agri SA.

Die organisasie stel ʼn loonverhoging van die verbruikersprysindeks (VPI) minus 2% vir die minimum loon voor. Dit is volgens Agri SA ʼn beduidende verhoging wat ook die taai ekonomiese toestande waarin die sektor hom bevind, in ag neem.

Die landboubedryf neem nagenoeg 874 000 mense in diens en indiensnemingsyfers het die afgelope ruk die vlak van voor die Covid-19-pandemie verbygesteek.

“Die syfers dui duidelik op die belangrike rol wat landbou speel in die skep van werksgeleenthede in Suid-Afrika. Hierdie vermoë gaan egter onder druk kom indien die styging in die minimum loon aanhou om los van die ekonomiese werklikheid te staan,” sê die organisasie.

Luidens data van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid het die gemiddelde jaarlikse inflasie vir plaasarbeid sedert 2012 met 11,6% gestyg, terwyl die VPI in dieselfde tyd op rondom 5% gestaan het.

Tot nou kon die bedryf die verhogings absorbeer, maar daar is al hoer meer druk op die landbousektor en pryse gaan na verwagting oor die volgende dekade begin daal.

Fyn balans nodig

Die landboubedryf neem nagenoeg 874 000 mense in diens. (Foto: Du Preez de Villiers)

Agri SA waarsku dat groot loonverhogings kort- en langtermyngevolge gaan inhou.

Op kort termyn gaan skerp verhogings in ʼn reeds moeilike ekonomiese klimaat die finansiële volhoubaarheid van talle boerderye in die gevaar stel.

“Stygende insetkoste soos brandstof en kunsmis, en ʼn afname in die lewering van belangrike dienste soos vervoer, logistiek en elektrisiteit, staar boere reeds in die gesig. Boere in verskeie dele van die land herstel boonop nog van die swaar reën van vroeër vanjaar en moet nog ʼn sprinkaanplaag trotseer.

“Onder hierdie omstandighede kan boere nie verhogings wat hoër is as inflasie oorleef nie.”

Ook op lang termyn is daar groot risiko. Indien arbeidskoste nie saamgaan met ʼn toename in produktiwiteit nie, gaan Suid-Afrika sy internasionale mededingendheid verloor.

“Soos sake nou staan, word baie van ons plaaslike markte deur die storting van goedkoop produkte bedreig. Terselfdertyd is daar groeiende internasionale mededinging van meer produktiewe lande met goedkoper arbeid, soos Chili en Peru, twee opkomende vrugteproduserende lande in Suid-Amerika.”

Suid-Afrika se vermoë om wêreldwyd mee te ding, sy uitvoermarkaandeel te vergroot en die landboubedryf se bydrae tot die BBP opnuut te verhoog, gaan dus afhang van die balans wat gevind word tussen lone, produktiwiteit en die vermoë om genoeg gesonde en bekostigbare kos vir plaaslike markte te produseer, sê Agri SA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Shakespeare ·

Hoe gavorduidelik jy dié aan n onbevoegde korrupte ANC/EFF kader.

Harley Davidson ·

Meganiseer en neem net die nodige mense in diens en pas WEB toe daar is duisende huidige benaadeeldes wat nie eers kos het om te eet nie .

VaalDonkie ·

Boere sukkel altyd as dit kom by verhogings betaal. So betaal hulle al van 1994 af die voorman R4000 per maand. EN dan vra hulle nog huurgeld as die voorman en sy familie op die plaas woon.

VaalDonkie ·

Ek weet ek praat baie daarvan. Maar weet jy, my pa het so min geld gekry dat hy nie eens vir my kon rugbystewels koop nie. My ma moes geld leen daarvoor. En die kerk moes my skoolfonds betaal. Maar oom Ampie-hulle (nie sy regte naam nie) het darem altyd lekker kos in die huis gehad en lekker lank vakansie gehou terwyl my pa die plaas moes aan die gang hou oor Kerstyd (daai koeie moet immers gemelk word en daai bokke gaan nie self voerbale uit die stoor haal nie).

Schalk ·

Ek glo jy is reg maar alle boere is verseker nie soos Oom Ampie nie.

Kurt ·

As ons onemosioneel na die boerdery sektor kyk: hulle het nou en vir jare die laagste sektorale vasstelling vir lone en vra nou vir nog n verlaging. Hulle kry droogte hulp. Hulle het vir jare die landbank wat maak dat hulle goedkoop kan leen om plase te koop. Hulle is die enigste wat met voorbelasting geld aan hul huise en store kan bou. Hulle is ook in covid toegelaat om verder aan te gaan met hul bedrywe. Ons ander: ons moet lone betaal soos vasgestel. Ons kry nie hulp as dit in ons bedrywe swaar gaan nie. Haal jou skape van die veld af. Dan het jy nie voer nodig nie. Maar hulle wil nie want dan moet hulle tax betaal. Sodra die droogte verby is skaap wat ander mense moes voer so duur soos goud. Boere gee dan nie vleis hulp aan die dorp nie.Ons kan slegs met na-tax geld aan ons huise en karre spandeer. Ons in die dorp moet stop tydens covid. Dis ook net die dorp wat waterbeperkings kry. Die plaas se tuin lyk altyd mooi. Geen ander sektor het soveel voordele nie.

Murg en been ·

Kurt
Ons boere is prysnemers nie prysmakers soos julle nie. As ons produksie koste styg kan ons nie soos jy meer vir jou produk vra nie. Ek weet nie waar val jy uit nie maar blanke boere kry beperkte tot geen hulp van die staat. Boere in eerste wereld lande kry almal subsidies, en dit is in daardie mark wat ons boere moet relevant bly. As ons ook subsidies van die staat kry kan ons ook meer vir arbeid betaal. Word wakker en toon bietjie meer begrip vir ons boere wat wereld wyd in groot aanvraag is. Hou op om met die rasbril na boere te kyk. ‘n Produktiewe werker word altyd oordeelkundig vergoed.

Kurt ·

Hier was nie eenkeer na ras verwys nie. Gaan lees weer. Dis besigheid. Ek boer ook met bees en het ander besighede en onder andere diamante ook. Daar is ons duikers ook prys nemers. Geen rabat. Geen “rowwe see dae en kan nie duik” hulp nie. Gooi net soveel diesel as op die bees boerdery. Geen afslag op lone vir boot werkers nie. Wat ek probeer wys is hoe baie boere kla terwyl hulle voorgetrek word al die jare. Boerdery is nie n hobby nie. As jy dit nie maak nie, klim uit soos enige ander besigheids ou. Jy vra vir begrip, ek doen, maar besigheid is besigheid. Boere kla heeltyd oor AllPay wat mense geld kry vir niks. Maar hulle het al die jare meer hulp as enige ander sektor gekry. As jy in aanvraag daar buite is, mask soos ons duikers en gaan offshore. Niemsnd skuld niemand niks!

Schalk ·

Julle wat nou so die boere kritiseer oor verhogings ens. Gaan boer ek kyk of die koste in lyn is met die voorgestelde verhogings. Neem dan in ag die omstandighede soos plaasbeveiliging , opleiding vir werkers , diesel , saad en diere medisyne , skade as gevolg van sabotasie , laksheid of onkundigheid , verblyf volgens standaarde vir werknemers , rentekoerse ens.
Die uitbuiting van die boer na die verbruiker deur die middelman wat die meeste mense dink is die prys wat die boer vra vir die produk wat op die rak staan.
Dan gaan probeer jy kyk of jy kan boer.

Kurt ·

Als wat jy noem is waar en het miriete maar dink jy vir een oomblik ons ander industriee het nie elke liewe een van daai probleme nie. Ons sit nog met SEB voor ons kan begin besigheid doen. Die issue wat ek het is dat boere heeltyd kla en dan nog die meeste voordele het. Ek boer self en het ander bedrywe wat baie meer beperk en gereguleer word maar boere het n idee hulle is special. Hou op kla en vir gunse vra van staat en dorp. As jy dit nie maak nie klim uit soos baie ander mense wat moes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.