Beleggers verloor miljoene met ‘piramideskema’

Willie Breedt het glo gereeld luukse motors, motorfietse en huise aangeskaf. (Foto: Verskaf)

Meer as 2 000 beleggers wat sowat R270 miljoen by VaultAge Solutions (VS) belê het, het die afgelope week benoud rondgeskarrel ná die onderneming se uitvoerende hoof, Willie Breedt, se boedel gesekwestreer is.

Die hofbevel wat in Maroela Media se besit is, wys dat ʼn dringende aansoek om Breedt bankrot te verklaar, deur een van die beleggers, Simon Dix, in die hooggeregshof in Pretoria gebring is. Dix is van Hilton in KwaZulu-Natal en het glo R7,5 miljoen in kripto-geldeenhede deur die VaultAge‑platform belê.

Beleggers sê Breedt het hulle ʼn maandelikse groei van 20% op hul geld beloof, maar teen September verlede jaar het hy opgehou om hulle te betaal. Baie van hulle is pensioenarisse, motorfietsentoesiaste en lede van die SA weermag.

Maroela Media kon intussen bevestig dat die 44-jarige Breedt ʼn vorige veroordeling vir bedrog het waarvoor hy ʼn vonnis van ses jaar ontvang het wat vir vyf jaar opgeskort is. Die opgeskorte vonnis loop glo in September vanjaar ten einde.

Beskikbare foto’s wys dat Breedt glansryk geleef het. Hy het onder meer ʼn versameling luukse motors en motorfietse ter waarde van miljoene rande besit.

In Januarie het hy sy paleisagtige huis in die Featherbrooke-landgoed aan die Wesrand verruil vir een in die Marina Martinique-landgoed in Astonbaai in die Oos-Kaap. Hy het egter haastig spore gemaak na ʼn groep beleggers en skuldinvorderaars by sy huis opgedaag het om hulle geld terug te eis.

Willie Breedt het glo gereeld luukse motors, motorfietse en huise aangeskaf. (Foto: Verskaf)

Volgens Maroela Media se bronne het Breedt ’n saak van intimidasie by die polisie in Jeffreysbaai geopen, waarna hy spoorloos verdwyn het. Die bespiegeling was dat hy na Mosambiek gevlug het. Volgens ʼn private ondersoeker het Breedt en sy vrou se selfoonseine egter aangedui dat hulle in Pretoria was.

Volgens verskeie mediaberigte het die balju, die polisie en ʼn span forensiese ondersoekers van die Valke ná die hofbevel toegestaan is, op ’n huis in Silver Lakes in die ooste van die stad toegeslaan. Hier het Breedt na bewering sedert middel Junie onder ʼn skuilnaam gebly.

Daar is glo op ’n skootrekenaar en nano-stokkie beslag gelê wat moontlik inligting stoor oor waar die kripto-geldeenhede kan wees wat Breedt verhandel het. Hy is nie in hegtenis geneem nie.

Een van Breedt se voormalige vertrouelinge wat anoniem wil bly, het aan Maroela Media gesê daar is beleggers wat soveel as R10 miljoen aan Breedt oorhandig het om kripto’s te koop wat hy onderskeidelik op die Bitfinex‑, Bitrex‑ en Binance-platforms sou verhandel. Die geld is glo in sy Suid‑Afrikaanse bankrekening of direk in sy kriptobeursies inbetaal.

Hy beweer dat van die beleggers glo vroeg in die jaar hul geld wou onttrek, maar Breedt het hulle per e-pos laat weet dat dit agt tot 10 weke sou neem om die geld te ontvang. “Ons probeer om elke navraag en terugvoering so vinnig as moontlik te hanteer. Ek het baie geleer in die afgelope ses maande en vra elke lid om verskoning. Ek wil net sê dat ek sal voortgaan met my toewyding aan elke lid,” lui die e-pos wat Maroela Media onder oë gehad het.

Volgens Breedt se voormalige vertroueling was die bedrae wat uitbetaal sou word, gespesifiseer, maar uiteindelik is geen betalings gemaak nie.

ʼn Sakeman van die Wesrand vertel dat feitlik al die lede van die motorfietsgroep waaraan Breedt behoort het, geld by hom belê het. Hyself het R9 miljoen oorhandig en sy belegging het volgens Breedt se korrespondensie binne twee jaar tot R180 miljoen gegroei.

“Hy is skrikwekkend oneerlik en het openlik vir almal gelieg en die ergste is dat ons hom vir lank geglo het,” sê die man. “My ouers en ander familie en vriende het almal baie geld ingesit en het nou niks nie. Almal se drome is vernietig,” sê hy.

Maroela Media het die sakeman aanvanklik gekontak omdat dokumente in ons besit wys dat hy in Januarie meer as $8 miljoen van VaultAge ontvang het. Hy ontken dit en sê hy vermoed sy rekeninge by VaultAge is in daardie stadium gekonsolideer en daarom lyk dit asof ʼn betaling aan hom gemaak is.

“As ek so ʼn bedrag ontvang het, sou ek nie nou in finansiële moeilikheid gewees het nie,” sê hy.

ʼn Afgetrede egpaar wat R350 000 belê het, sê hulle het van April tot September verlede jaar 5% groei op hul belegging ontvang, terwyl die ander 15% herbelê is. Hulle hoop nou dat Breedt tot verantwoording geroep sal word.

Jayden-Lee Rossouw, ʼn stafsersant in die weermag, het in Mei verlede jaar R70 000 kontant aan VaultAge betaal waarmee Breedt vir haar in Bitcoin moes handel. Haar belegging het maandeliks met 20% gegroei.

Sy het net twee onttrekkings gemaak en die winste herbelê. In Mei vanjaar het Breedt per e-pos laat weet dat haar belegging reeds op meer as R555 000 staan. “Ons is beloftes gemaak wat nie nagekom is nie; ek kan nog werk, maar ek is jammer vir die bejaardes wat hul laaste geld ingesit het en alles verloor het,” het sy per WhatsApp laat weet.

Nog ʼn belegger wat anoniem wil bly, het R2 miljoen belê en sy dogter R400 000. Hy sê mense moet verantwoordelikheid neem vir hul besluite. “Niemand het gekla toe dit goed gegaan het en groot uitbetalings gemaak is nie.”

Hy beweer die lede van die motorfietsgroep het “miljoene geskep” en dat daar steeds baie geld in Breedt se kriptobeursies is.

Gordon Kayser van GTA Kayser Prokureurs het vroeër aan die media gesê Breedt kan moontlik van verskeie oortredings van die wet op finansiële instellings aangekla word. Daar is ook die moontlikheid van ʼn klas‑aksie teen Breedt se bankrot boedel.

ʼn Groep beleggers het reeds onlangs ‘n hofbevel verkry om twee Suid-Afrikaanse bankrekenings van Breedt en VaultAge Solutions te bevries terwyl die Reserwebank ʼn rekenmeestersfirma aangestel het om VaultAge Solutions te ondersoek.

Breedt het nie op navrae reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jack ·

Hoeveel keer moes ons die afgelope dertig veertig jaar lees dat niksvermoedende mense, baie keer pensioenarisse, deur een of ander skelm met ‘n piramide skema verneuk is nie. Wanneer gaan mense leer dat as dit te goed klink om waar te wees, dat is dit gewoonlik nie waar nie. Waarom sal ‘n persoon geld by jou leen kan belê om ‘n 20% opbrengs te as hy geld by ‘n bank teen ‘n laer koers as 20% kan leen? Waarom leen hy dit dan nie sommer direk by die bank nie. Vraag 2. watse rentekoers moet hy self op die geld kry sodat hy jou 20% kan betaal.? Dis mos te gek om waar te wees. Die sprekwoord sê: As jy domonnosel is moet jy verwag om slae te kry. “A fool and his money is soon parted” is al honderde jare die geval.

JohanR ·

En dit is al die hoeveelste keur dat beleggers in SA gevang word. Crowd1 sal die selfde paaitjie loop. If it is to good to beleive, then it is!

Hercules Johannes ·

Johan weet jy hoe werk Crowd1? Crowd1 is nie n belegging nie. Die industrie wat Crowd1 in beweeg en gebruik om geld te maak sal nooit vergaan nie. Dit groei n word daagliks net groter. Glo my Crowd1 verander lewens en is hier om te bly.

JohanR ·

Ja HJ ek glo jou. Sal weer oor soe paar jaar sien! Ek dink wat jy se het seker al 1000’de gese en dan nog al hulle geld verloor. Crowd1 will be different….no smelly milk this time!

Scalla ·

HJ, solank daar nuwe fondse geplaas word is dit nie n probleem nie maar as die invloei stop verander lewens soos jy tereg se, die boonstes skep die room en beinvloed mense met
hul glade monde en beloftes om hul laaste broodnodige daarin te stort om later te krepeer. Jy weet dit.

Spyker ·

En nou is daar nog die moontlikheid dat regering sy hand in jou pensioen gaan druk.

Prikkie ·

Nou ruik julle mense wat so by die man belê het dan nou nog nie die vrotmelk nie?

Anel ·

Wat ek nie kan verstaan is, dat met vandag se tegnologie, mense nie eers behoorlik navorsing doen nie. Sê maar ek is suinig, maar ek het hard gewerk vir my geldjie en gaan dit beslis nie by een of ander onbekende belê nie. Ek het so rul terug my pa ook gered van so skema. Gelukkig moes ek iets vir epos. Toe ek hom vra wat dit is sê hy sommer niks. Toe ek antwoord kry op de epos en sien wat hulle nog van hom benodig, het ek die logo nagevors en toe gesien wat se groot bedrog spul dit was. Hy get toe nou wel die deposito verloor maar ek dink dit is al. Hy is 88 en sulke ou mense wat verveeld voor die rekenaar sit, is nie goeie nuus nuus. Maar nou ja, vinnig geld maak is vinnig baie geld verloor. Kan nie glo dat sulke mense gewetens het nie! Sluit toe en gooi die sleutel weg.

Kokkie ·

Om baie reguit te wees: ek het maar min simpatie met die ouens wat nou so kla oor hulle verliese. Hoekom gaan belê ‘n ou miljoene in so ‘n skema ? Om nog miljoene te verdien sonder om daarvoor te werk ? Andere met ‘n klein pensioentjie wil vir hulle ‘n veilige oudag verseker deur met hulle geldjies op so ‘n skema te dobbel, wel wetende dat hulle alles kan verloor. Daar is vir my ‘n baie groot element van gierigheid daarby betrokke……en amper nog ‘n groter element van ‘plain’ domgeit. As jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel. Daar is mos talle voorbeelde van hoe mense met sodanige slenters gevang is.

Fanb ·

Ons en vele vriende was ook van die swape wat geval het vir sy gladde mond en beloftes! Selfs dreigende prokureursbrief gekry toe ek hom aanvat oor sy leë beloftes! Duur les geleer! Nooit weer nie!

Mariette ·

Wanneer sal ons mense leer dat vinnig ryk word nie bestaan nie en liewers hou by FCA geregistreerde instansies?

Scalla ·

Leer die geldgierige mense nie, as jy dom is moet jy maar ly, geen simpatie

koos ·

Krion
Sharemax
Adriaan Nieuwoudt
Cambist
J Arthur Brown
Masterbond
Nigerian 419
Freddie Andalaft
ANC
………………

Ja-nee, daar is nie pille vir stupitgeit nie

koos10 ·

Naamgenoot, binne kort is daar nog een vir jou lysie:

CROWD1

Hennie ·

En dit sal net wéér en wéér gebeur. Ek hoop nie die beleggers het kom simpatie soek nie, want julle is die naam “belegger” nie waardig nie. Ek dink die regering moet alle beleggers in skemas soos dié, in die tronk stop vir 10 jaar, want luister gaan julle nie!

Sarel ·

Die ergste is,dat die slagoffers gewoonlik opdok terwyl die ouens skotvry kom.

T ·

Daar gaan niks daarvan afkom nie,net soos daar niks met Johan Malherbe van die Amtenda skema gebeur het.Gaan al vir 12 jaar om die geld terug te kry en hofsaak te kry….280 miljoen weg en hy loop soos n vry man rond Graaf-Reinett

Tienie ·

Hulle sal hom moet oppas voordat “hy” ook in n vreemde motor ongeluk “omkom”…..soos “you know who”.

katerinadiekat ·

Iemand het eendag vir my vertel wat met n ou tannie wat sy ken, gebeur het. Die ou tannie is so ingeloop deur n skelm getroude paar en hul seun. Toe die ou dame die besigheidsvrou konfronteer, het die vrou vir haar gese: ” Ek kan nie help as jy so onnosel is nie”.

koos10 ·

Nee wat ek is ook miskien te bang, maar om geld weg te gooi is nie vir my nie.

Pieter ·

Die wat hierin belê het, is seker die tipe wat al die anc se beloftes ook glo. Geen simpatie, geen wettige belegging gaan jou 20% groei per maand gee nie, selfs 20% per jaar is amper onmoontlik.

Hennie ·

Tweede keer dat die knaap mense ‘n rat voor die oë draai. Wanneer gaan mense leer? Kannie glo dat mense, sommige miljoene, by die knaap belê het nie. Eintlik voel ek vere vir dom en gierige mense, maar ek sal graag die ou agter tralies wil sien.

Tino ·

Kyk daar is nou maar net nie pille nie.

Dis baie hartseer dat julle nou in die verknorsing is maar as jy sulke besluite maak verdien jy nie eintlik om jou geld terug te kry nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.