Beleggings: EU vra SA om SEB te verslap

President Cyril Ramaphosa
(Oktober 2018) Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs tydens ʼn tweedaagse besoek aan die Europese Unie met leiers in die EU vergader en die Europese parlement tydens die sewende SA-EU‑beraad toegespreek.

Suid-Afrika is die Europese Unie se enigste strategiese vennoot in Afrika. Die ekonomiese dimensie van hierdie verhouding is volgens die EU fundamenteel omdat die EU Suid-Afrika se eerste handels- en beleggingsvennoot is, wat verantwoordelik is vir 25% van Suid-Afrika se handel en 75% van sy regstreekse buitelandse belegging.

Meer as 500 000 direkte werksgeleenthede is van hierdie ekonomiese verhouding afhanklik.

Die EU het in aanloop tot Suid-Afrika se beleggingskonferensie in Oktober, sowel as die SA-EU‑beraad, ʼn gespreksdokument opgestel waarin belangrike uitdagings uiteengesit word wat veral vir Europese beleggers van belang is.

Volgens die EU het uitgebreide konsultasies met die EU-lidstate sowel as Europese sakelui drie hoofbeperkings geïdentifiseer vir moontlike regstreekse buitelandse belegging wat voordeel sou trek uit die regering se dringende aandag.

Die drie beperkings is swart eienaarskapsvereistes onder die breëbasis swart ekonomiese bemagtiging (BSEB)-kodes van goeie praktyk, lokaliseringsvereistes in openbare verkryging en vertragings in die verkryging van magtigingsbriewe van die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS).

prof-jannie-rossouw-afrisake-2017-04-24-02

Prof. Jannie Rossouw. Foto: Reint Dykema.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se sakeskool, meen die regering moet hiervan kennis neem en sê Ramaphosa se plan om beleggings te lok, help nie indien hy nie iets doen aan die bekommernisse van potensiële beleggers nie.

“As die omstandighede vir beleggings nie aantreklik is nie, word dit elders geskuif. As jy byvoorbeeld ʼn skoenmakery begin en jy het die R50 miljoen kapitaal wat jy benodig maar nou moet jy aan SEB voldoen. So jy soek ʼn SEB-vennoot wat byvoorbeeld die helfte kan insit of jy kry nie iemand wat die geld het nie en nou moet jy die helfte van wat jy insit, weggee – so jou belang verwater as jy als moet insit.”

Rossouw sê indien die regering ernstig is in hul strewe om nuwe beleggings te lok, sal dit ernstig moet kyk na besware wat beleggings aan bande lê. Hy sê voorts enige vorm van administratiewe burokratiese rompslomp is problematies.

Die EU het gesê dit erken egter die belangrikheid van ekonomiese transformasie in Suid-Afrika om historiese ongeregtighede en die toekomstige algehele ontwikkeling en maatskaplike stabiliteit in die land reg te stel. Die EU sê as die grootste bron van buitelandse beleggings in Suid-Afrika het EU-maatskappye bygedra tot die ekonomiese transformasie van die land en het hulle BSEB-profiel konsekwent verbeter in ooreenstemming met die bestaande wetlike bepalings.

Die EU sê hoewel voldoening aan die BSEB-kode vir goeie praktyke nie vir privaat maatskappye vereis word nie, is dit toenemend nodig om sake te doen met regeringsinstellings en staatsbeheerde ondernemings. Volgens die EU beïnvloed voldoening aan die BSEB ook buitelandse maatskappye se aansien in die Suid-Afrikaanse mark.

Pres. Cyril Ramaphosa en Antonia Tajane, voorsitter van die Europese parlement. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die jongste EU‑sakepeiling toon dat onsekerheid oor BSEB-beleid, veral vanaf 2013, een van die drie grootste uitdagings vir Europese beleggers in Suid-Afrika is. Volgens die EU belemmer sekere aspekte in verband met BSEB-nakoming inderdaad onnodig nuwe regstreekse buitelandse belegging.

Volgens die EU het die gewysigde goeie praktykkodes in 2013 gelei tot afgegradeerde graderings vir baie maatskappye, in die lig van sterker klem op swart eienaarskapsvereistes oor ander elemente van die SBEB-kodes, hetsy in die voorsieningsketting of vaardigheidsontwikkeling, asook ’n totale verontagsaming van die hoeveelheid werksgeleenthede geskep. Dit het bestaande en voornemende beleggers se vermoë om voort te gaan en/of hul bedrywighede in Suid-Afrika uit te brei, benadeel. Die EU sê daaropvolgende voorstelle hou ook vol om toenemende eienaarskapsvereistes te eis.

Die EU se hoewel dit volgehoue ekonomiese transformasie deur BSEB in Suid-Afrika ondersteun, die voordele van BSEB egter beter verstaan moet word deur middel van bewysgegronde analise wat tans ontbreek. Die proses moet ook hanteer word om beleggings se volhoubaarheid op lang termyn te verseker.

Die EU sê dit sien uit na ’n konstruktiewe verbintenis met die Suid-Afrikaanse regering oor sy transformasiepogings en meer spesifiek oor van die volgende voorstelle:

  • Beleidsekerheid kan bereik word indien duidelike tydraamwerke vir die hersiening van BSEB-kode vir goeie praktyk gevestig word en die algehele beleidsrigting verduidelik word.
  • Tydelik verslapping van swart eienaarskapsvereistes.
  • Verminder die waarde wat geheg word aan die eienaarskapsbeen terwyl daar ʼn been vir werkskepping ingestel word.

Die EU het ook gesê daar is ander kwessies wat die beleggingsomgewing bekommer, veral aangesien bilaterale beleggingsverdrae met EU-lande eensydig beëindig is, wat ’n kommerwekkende afname in die vlak van beskerming wat beleggers geniet, veroorsaak het. Die EU het gesê met die gebrek aan verdrae is onsekerheid oor eiendomsreg van besondere belang, en dat die onsekerheid versterk is deur die parlementêre konsultasies oor grondwetlike veranderinge in grondbesitregte.

Ander relevante kwessies wat die beleggingsomgewing negatief beïnvloed, sluit in streng visumbeperkings op buitelandse bestuurspersoneel en hul familielede van oorsese filiale, vereistes vir korttermynvisums vir die burgers van agt EU-lidstate, korrupsie, ernstige en georganiseerde misdaad, stygende elektrisiteitspryse en hawe- en spoorwegkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

B-man ·

Ja, ou Cyril, my maat! Nou gaan soek jy buitelandse belegging om jou ou staatjie te red, maar weier om gebruik te maak van die heel beste belegging wat deur Europeërs al 400 jaar terug gemaak het.

Reinhard Horn ·

Wat my opval is dat die EU-lande dertig jaar terug hulle mond uitgespoel het oor “Apartheid”, maar niks te se het nie oor die rassebeleid wat tans geimplementeer word. En trouens by verre dieper gaan as slegs werksreservering vir 8% van die ekonomie soos lank voor daardie tyd.

Eddie ·

Cyril , ” BACK TO BASICS ASB. ” , dan sal die ekonomie weer rigting kry !!!

Waarheid ·

Mooi man se hom!!!
He glo nie as ons dit se nie – miskien glo hy die Buiteland.

Glo My ·

Ou ramapaddapot gaan nog in sy eie pot kook want wat jy saai gaan jy maai.

Hanna Hoekom ·

En daar is almal toe nou nie so onnosel soos die ANC en EFF kiesers nie. Nou wag ons net vir die “raskaart” wat gespeel gaan word, aangesien daar geen argument meer van die Paddaman af kan wees nie. Hy weet die EU is reg!

Staak saam ·

Ons kan nie veel hiervan verwag nie, hoekom?
Want beleggers se motief is winste en nie morele sentiment nie, hulle eise is bloot op n goeie wins bejaagde besigheidsplan.

Dit is tyd om n afsny datum te kry van die regering waar al hierdie regstellinde aksies gestaak word, dit is verregaande dat nog nie een politieke party of organusasie die nodigheid daarvoor gesien het nie.
Sonder duidelikheid en vooruitsig kom die regering nie net die blankes by nie maar ook die hele land in geheel.

Pieterv ·

Ons prezzi was seker net te besig met die “radikale” skommeling van die kabinet om tyd aan hierdie verslag te skenk.
Nou nie asof hy hom veel daaraan sal steur nie…..daar is mos nog altyd die oosterse / kommunistiese broederskap wat n ou geldjie sal voorskiet as dit moet.

ChrisE ·

Volgens almal en alles was apartheid van die bose. Ons leef nou in omgekeerde apartheid, dit word nou net iets anders genoem. Dit is ons blankes se tyd om dit aan ons basse te voel. Ek het egter goeie en slegte nuus vir wie dit op betrekking het. Die slegte nuus. Die persone wat dit in werking gestel het gaan ‘n groot skok kry en ontnugter word. Skep en leef maar voort in jul “dillusions of grandeur”, jul eforie gaan nie lank hou nie. Nou die goeie nuus. Dit wat ons tans deurgaan is ‘n wekroep vir die blanke om weer op te staan, rug styf te maak, kreatief te begin dink en binne ‘n smetpoel onafhanklik en onmisbaar te raak. Daar is gulde geleenthede om te gebruik. Ek het in die laat negentigs die beste raad van ‘n wyse man gekry. Sy woorde aan my was, “gebruik die burokrasie tot jou eie voordeel” . Al raad wat ek het, byt vas, hoop glo en vertrou, dit gaan nog lekker raak hierso en ons gaan nog ons tanne aflag oor die pret en plesier wat ons gaan hê.

Sanet ·

Kan nie een positief sien waarom ek eerder in SA sal bele as enige ander land, daar is vele meer as wat in die artikel genoem word. Wat werk nog?? Beurtkrag en unies wat voorskryf is nog groot bydraende faktore hier. Nee wat Ramaphosa mors sy tyd om op hierdie stadium beleggers te probeer oortuig.

Grysburger Pretoria ·

Baie belangrike struikelblok in die pad van dienslewering en ontwikkeling is die belaglik magtige rol van vakunies wat saam met die regerende party die regering sit. Hoe dissiplineer jy ‘n staatsamptenaar, verpleegkundige of onderwyser as hulle vakunie binne die regering sit?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.