Beleggings van R6 miljard wyl Tshwane-koalisie wankel

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Beleggings van sowat R6 miljard in twee motorfabrieke in Pretoria is Dinsdag deur die burgemeester van die Tshwane-metro, Stevens Mokgalapa, aangekondig terwyl die DA-geleide koalisie in die land se hoofstad wankel.

Die beleggings van R3 miljard elk, wat sal lei tot meer as 1 500 nuwe werkgeleenthede, is by die Ford-motoraanleg in Silverton en die Nissan-motoraanleg in Rosslyn.

Mokgalapa het saam met die DA-leier, Mmusi Maimane, die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, deelgeneem aan ‘n mediakonferensie by die parlement, waar daar gefokus is op die voordele van ʼn DA-regering.

Die mediakonferensie vind plaas teen die agtergrond van toenemende spanning en die verwagte gewelddadige burgerlike afsluiting van die township Alexandra neffens Sandton môreoggend. Daarom was die DA-burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, nie saam met sy kollegas by vandag se mediakonferensie nie.

Maimane het gesê die DA bestuur tans die regerings van 15 miljoen mense en begrotings van R160 miljard, insluitend heelwat meer as die helfte van die voorste twintig bes bestuurde munisipaliteite in die land.

Volgens Maimane is dit baie moeilik om in koalisies te regeer, maar die DA en sy vennote het oor die afgelope byna drie jaar daarin geslaag om, ten spyte daarvan dat hulle ‘n gemors geërf het in spesifiek Johannesburg en Tshwane, volhoubare ekonomieë te help vestig, beleggings te help lok en korrupsie te bekamp met gevolglike sterk verbeterings in die stede se finansiële situasies.

Mokgalapa het bygevoeg dat twee energie-opwekkingsaanlegte vir Tshwane beplan word, dat ‘n spesifieke Tshwane-noodnommer tans daargestel word om inwoners te beveilig en dat sewe eiendomme opsy gesit is vir die skep van studentebehuising in Pretoria.

Volgens Plato is Kaapstad onder sy leiding tans besig om ‘n groot onderrig- en opleidingskollege vir die onderrig van vakmanne in Mitchells Plain te beplan. Die opwekking van Kaapstad se eie elektrisiteit met behulp van die private sektor, asook meer spoorweg- en polisiemagte vir die provinsiale en plaaslike regerings van die Wes-Kaap is vir hom en Winde prioriteit.

Wat die toekomstige regering van Tshwane betref, het Maimane bevestig die regerende koalisie se samewerkende vennoot, die EFF, wil graag ‘n formele en skriftelike ooreenkoms aangaan met uitvoerende poste vir die EFF, in die plek van die huidige informele ooreenkoms. Daar sal dus Woensdag ‘n vergadering van die Tshwane-koalisievennote wees om die toekomstige verhouding met die EFF te bespreek, het Maimane gesê.

Hy het hom nie uitgelaat oor mediaberigte dat die onwilligheid van die VF Plus om met die EFF saam te werk, die einde van die koalisieregering in Tshwane kan beteken nie.

Wat huidige berigte van onmin tussen die nasionale voorsitter van die DA, Athol Trollip, en die party se Oos-Kaapse leier, Nqaba Bhanga, oor moontlike samewerking met die ANC ter oorname van die regering van die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth betref, het Maimane gesê terwyl die DA bereid is om met die ANC saam te werk om die huidige UDM-geleide koalisie daar tot ‘n val te bring, sal die party nie met die ANC saamwerk in ‘n koalisie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johanna Botha ·

DA moet wakkerskrik in PTA …straatligte brand 24/7 elektriese kaste staan oop en van die straatligte werk gladnie dit terwyl mense oral gemors dump ….BAIE SWAK ! Wie wil nou in so iets bele vra mens nou !

willem botha ·

Die DA het vir sy kieser gelieg oor die eff,nou probeer hulle die VF+ skuld gee Dr Groenewald het gesê hy gaan nie koalisie aangaan met n rassistiese party soos die eff wat geen geheim daarvan maak dat hulle nie van wit mense ho nie en dat hulle wit mense sien as gronddiewe.Hoe stem jy in elk geval vir die DA wat niks verkeerd sien met diskriminerende wetgewing na 25 jaar teen jong wit mense wat niks met apartheid te doen gehad het of voordeel getrek het uit dit nie.
Nb Die buurt waarin ek bly het beter gelyk toe die anc pretoria geregeer het.

Markus ·

Die DA in Pretoria het sy mense sleg in die steek gelaat die DA raadslede in die moot kry net salaris en doen die minimum, behalwe om gereeld in die rekord se voorblad te verskyn,hulle verskoning was altyd dat die anc die raad regeer en hulle niks kon doen nie wat is nou julle verskoning?

Gert van Wierdapark ·

Dieselfde gebeur in Groenkloof! Dis al etlike weke dat daar ‘n insinking in Totiusweg is, (oorkant Pretoria Rugbyklub) waar eers net n oranje kegel was om motoriste te verhoed om nie “vas te val” nie. Laaste 3 weke niks – as jy nie weet van die probleem, “sien jy en jou motor/passasiers dalk jul alies!!! My vraag is – wat doen die geagte raads-lid om die probleem op te Los!!!

Johanna Botha ·

Die DA raadslede in centurion is blind of iets want die plek val letterlik uitmekaar . Dis kabel diefstal straatligte wat in die dag brand of eenvoudig gladie brand nie ! So word die belasting gelde vermors dag na dag dit nadat jy jou probleem al aangemeld het en sit met n verwysings no wat help dit tog ! ! DA julle sal moet sokkies optrek of julle is uit !

pan ·

Die DA is besig om te disintegreer, ek verstaan volgens hulle leier dat hulle saam met die anc gaan werk in die nelson mandela baai ,het hulle oningeligte kiesers hulle n mandaat gegee om dit te doen ?

Leon ·

Ons sit met ‘n nasionale probleem in Pretoria ook. Bevoegde personeel in beheer poste gaan met pensioen en word vervang met ongekwalifiseerde en onbevoegde personeel. Ongelukkig het die DA dieselfde beleid as die ANC aanvaar en dit is om slegs swart mense aan te stel in die poste.
Ons het dieselfde probleem in die Ooste van Pretoria met die elektrisiteits afdeling. As die krag afgaan wag jy 24 tot 48 uur voordat die elektrisiëns uikom en dan vat hulle nog verewig net om die knik skakelaar weer aan te skakel. Vra maar die mense Noord van die berg. Nadat die elektriese inge nieur ( ek ken hom toevallig) op pensioen geaan het, het die stelsel daar platgeval. Dit gebeur dwars oor Pretoria. So moenie bekommerd wees nie, die hoofstad sal een van die dae tot stilstand kom.

barend v d westhuizen ·

da is net nog n anc in ander kleur en hulle is besig om te val en hard te val

D B ·

Stem saam met alles hierbo, plus, Sondag in Rapport glo beweer vanaf 1 Julie gaan almal wat ‘n munisipale rekening het ‘n addisionele fooi van R 200.00 p/m betaal vir krag, of jy dit nou gebruik of nie, raad het dit glo klaar goedgekeur.

willem Botha ·

Dan het dit tyd geword om die DA tot n val te bring ek glo die volgende munisipale verkiesing sal hulle terug bring aarde toe die beliegde stemmers gaan dit nie net los nie .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.