Beleid doelbewuste aanval op Afrikaanse skole – AfriForum

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: ANA)

AfriForum het Vrydag kommentaar ingedien teen die departement van basiese onderwys se voorgestelde toelatingsbeleid vir gewone openbare skole. Dié burgerregteorganisasie sê hy beywer homself vir groter onafhanklikheid van skole en was daarom genoop om hierdie beleid teen te staan.

Die voorgestelde wysigings is in Februarie in die Staatskoerant gepubliseer en belanghebbendes het tot vandag (Vrydag) tyd gehad om daarop te reageer.

Maroela Media het vroeër berig die voorgestelde beleid bepaal onder meer dat die hoof van die departement by magte is om die toelatingstydperk, asook die registrasieproses vir die skole in sy of haar provinsie vas te stel. Die beleid bepaal verder dat geen leerder toegang tot ’n skool geweier mag word as gevolg van die taalbeleid van die skool nie. Die inwerkingstelling van dié beleid sal verreikende gevolge inhou vir die manier waarop skole hul eie toelatings- en taalbeleid mag bepaal.

Volgens AfriForum blyk dit asof gedeeltes van die beleid ’n doelbewuste aanval op enkelmedium- Afrikaanse skole is omdat die beleid in effek neerkom op die verengelsing van enkelmedium-Afrikaanse skole.

“Leerders het die grondwetlike reg om in die taal van hul keuse onderrig te ontvang en dit is die departement se plig om seker te maak dat daar genoeg skole is om toe te sien dat daar uitvoering gegee word aan hierdie reg. Om bloot enkelmedium- Afrikaanse skole wat reeds genoeg Afrikaanssprekende kinders bedien te dwing om kinders wat nie die taal magtig is nie te aanvaar, is dus nie die oplossing nie. Die geskiedenis bewys dat waar Engels op Afrikaanse skole afgedwing word, dit uiteindelik tot gevolg het dat hierdie skole totaal verengels,” sê Natasha Venter, AfriForum se bestuurder vir onderwyssake.

“Verder bots die voorgestelde beleid ook met bestaande wetgewing soos die Suid-Afrikaanse Skolewet (84 van 1996) wat groter outonomie aan skoolbeheerliggame gee as wat die voorgestelde beleid beoog. Dit kontrasteer ook met sekere provinsies se toelatingsbeleid, wat tot verwarring by skole en ouers kan lei oor watter reëls van toepassing is.”

Die sentralisering van mag oor skoleplasings in die departement het volgens Venter reeds bewese nadelige gevolge vir skole ingehou. Sy verwys onder meer na die ouers se frustrasie met die aanlyn registrasieproses in verskeie provinsies.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), stem saam met Venter en sê die voorstelle tesame met die wysigings aan die beleid gee al hoe meer mag aan die onderwysdepartement.

Buys het vroeër gesê die bepalings oor skole se taalbeleid bly ʼn probleem. Die beheerliggaam kan steeds die toelatingsbeleid bepaal, maar die departementshoof het soveel mag dat hy eintlik die beheerliggaam se beleid heeltemal tersyde kan stel. Dit het reeds in Gauteng gebeur en dit is nou voorgestelde nasionale beleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Flip

Nou wil die ANC ons dwing om n beleid te aanvaar wat hulle gewyer het en skole oor afgebrand het. Weereens hulle dubbele standaarde. Ons mag nie meer bestaan nie.

Linda

Engels, engels in ons skole ,in ons kerke……..

Marshall

The only viable way for civilization to survive in Southern Africa, is secession. A unitary state cannot survive in Southern Africa. The sooner Afrikaner Organizations stop trying to “fix” a non-viable system the better. They are making matters worse by leading Afrikaners on in a hopeless quest.
From Canada. Saw this coming a long time ago.

Elize

Begin maar bydra tot die boufondse van Solidatiteit en Afriforum. Ons sal ons eie skole moet bou om te kan bestaan. Ons word verswelg.

Dup

Die tyd gaan spoedig aanbreek dat Afrikaanse studente heeltemal uitgedruk gaan word.Al oplossing gaan wees om SELF skole,kolleges en universiteite vir hierdie studente op te rig.Ek sien geen ander uitweg nie.