Beleidsekerheid kan werksgeleenthede in landbou skep

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

Foto: Spencer Pugh/Unsplash.com

Landbou kan ʼn groot hou teen werkloosheid slaan, maar boere en landbou-ondernemings kort dringend die beleidsekerheid om so te maak.

Só sê Jahni de Villiers, beleidshoof van die landbou-organisasie Agri SA se arbeid-en-ontwikkelingsentrum van uitnemendheid. Die organisasie het sy kommer uitgespreek oor die stygende werkloosheidsvlakke in veral die landboubedryf.

Maroela Media het berig oor Statistieke Suid-Afrika (SSA) wat Dinsdag sy kwartaallikse indiensnemingsopname (QLFS) vir die eerste kwartaal van 2019 bekendgemaak het. Die werkloosheidsyfer staan nou op 27,6% ná dit in die vierde kwartaal van 2018 nog 27,1% was.

Uitgebreide werkloosheid het tot ʼn nuwe rekord van 38% gestyg ná die hoogste vlak voorheen 37% was.

Kortweg beteken dit dat sowat 9,2 miljoen Suid-Afrikaners van ʼn werkende ouderdom nie op skool is nie, nie verder studeer of nie vrywillig sonder werk (tuisteskeppers of mense wat besluit het om vroeg af te tree) sit nie.

Dié syfers bevestig ook die vermoede van talle ekonome dat die ekonomiese groei in die eerste kwartaal negatief was, maar die groeisyfer word eers amptelik in Junie uitgereik.

Die onlangse kwartaallikse arbeidsmagsyfer van SSA het verder getoon die landbousektor het in die eerste kwartaal van 2019 ʼn geraamde 12 000 werksgeleenthede op kwartaalgrondslag verloor, terwyl 9 000 werksgeleenthede op ʼn jaargrondslag verlore gegaan het.

ʼn Provinsie soos die Oos-Kaap het ʼn enorme 90 000 werksgeleenthede op ʼn jaargrondslag verloor en dit bring die uitgebreide werkloosheidskoers in dié provinsies op 48,3% te staan.

“Die voorbeeld dat elke tweede volwassene in die Oos-Kaap sonder werk sit, wys op die strekking van die nasionale werkloosheidskrisis,” sê De Villiers.

Sy meen beleidsekerheid, ʼn verstewiging van beleggersvertroue en die daadwerklike ondersteuning van die sakesektor is werklik die enigste manier waarop dié krisis in Suid-Afrika opgelos kan word.

“Agri SA het reeds in 2018 gewaarsku dat beleidsonsekerheid en swak ekonomiese groei in die pad van ware werkskepping in die landbousektor staan.

“Die landbousektor se doelwit om een miljoen werksgeleenthede te skep, soos in die nasionale ontwikkelingsplan vervat, sal nie gehaal word indien daar nie konsekwente regeringsondersteuning vir die bedryf is nie.

“Stygende arbeidskoste kan ook nie buite rekening gelaat word nie. Indien hierdie negatiewe tendense aanhou, sal die werkloosheidskrisis vererger,” voeg De Villiers by.

Sy sê Agri SA is betrokke by verskeie amptelike besprekingsforums oor arbeidsbeleid, soos Nedlac en die Nasionale Minimumloon Kommissie, en sal aanhou om die prioriteit van volhoubare werkskepping in landbou te verkondig. Ander beperkings soos droogte en plaasveiligheid kort natuurlik ook aandag om die huidige uitdagende sakeomgewing vir boere te verbeter.

Agri SA bly verbind tot ’n landbousektor wat volhoubaar groei en sal verder deur sy strukture op grondvlak oorleg pleeg om groter krag tot sy beleidsamesprekings te voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

Rerig Agri SA?

So boere moet nie eerder so ver moontlik meganiseer en kompeterend wees nie?
En as addisionel bonus sal dit sommer ook die risiko op die boer en sy familie se lewens verminder.

marous ·

Reeds in 2018 gewaarsku ? Dalk was daar ‘n kortsluiting in hul gevaarlig …vir dekades .

Salamander ·

Dis nie in hierdie regering se belang om sekerheid van eniger aard te kweek nie. Hulle teer op onsekerheid en anargie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.