Belfast gewaarsku oor tweede storm

'n Groot storm het Woensdag, 26 Oktober 2016 erge skade in Belfast, Mpumalanga aangerig. Foto: Verskaf

‘n Groot storm het Woensdag, 26 Oktober 2016 erge skade in Belfast, Mpumalanga aangerig. Foto: Verskaf

Inwoners van Belfast in Mpumalanga is gewaarsku om hulle te staal vir nog ʼn verwoestende storm wat na verwagting Donderdagmiddag die gebied gaan tref.

Maroela Media het vroeër berig stormsterk winde, hael en swaar reën het Woensdagmiddag erge skade in die dorp aangerig. Inwoners het die storm as ʼn “tornado” beskryf wat deur die dorp gewoed en veral skade langs die Dullstroom-pad aangerig het. Talle bome is ontwortel, huise se dakke het afgewaai en voertuie is omgekeer.

Lebogang Mashile, ʼn voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Donderdag aan Maroela Media gesê hulle kon nog nie vasstel of dit wel ʼn tornado is wat die dorp getref het en of dit net ʼn erge storm was nie. “Voordat ons kan bepaal of dit wel ʼn tornado was, wag ons dat rampbestuur in die gebied vir ons foto’s van die skade stuur. Ons kan dan van die foto’s aflei of dit wel ʼn tornado of net ʼn groot storm was.”

'n Groot storm het Woensdag, 26 Oktober 2016 erge skade in Belfast, Mpumalanga aangerig. Foto: Verskaf

‘n Groot storm het Woensdag, 26 Oktober 2016 erge skade in Belfast, Mpumalanga aangerig. Foto: Verskaf

Mashile het gesê die weerdiens het gister omstreeks 13:50 ʼn waarskuwing uitgereik nadat hulle op ʼn radar waargeneem het dat ʼn erge storm oor die gebied broei. “Die storm het baie stadig beweeg en daarom het dit baie skade aangerig. Ons verstaan die storm het nog tot 18:00 gister voortgewoed.”

Sy het gesê die weerdiens het vanoggend weer ʼn waarskuwing uitgereik aangesien daar nog ʼn storm aan die broei is. Sy kon egter nie voorspel of dit so baie skade sal aanrig soos gister se storm nie. “Dit is moeilik om te bepaal hoe sterk die storm sal wees, maar dit sal beslis sterk winde, swaar reënval en moontlik hael meebring, wat alles skade kan veroorsaak.”

Intussen het Solidariteit Helpende Hand ʼn reddingsaksie van stapel gestuur om kos, klere en geld in te samel vir mense wat deur die storm geraak is. Alisha de Lange, streeksverteenwoordiger by Helpende Hand, het gesê die plaaslike tak het reeds ingespring om die onmiddellike nood te verlig.

'n Groot storm het Woensdag, 26 Oktober 2016 erge skade in Belfast, Mpumalanga aangerig. Foto: Verskaf

‘n Groot storm het Woensdag, 26 Oktober 2016 erge skade in Belfast, Mpumalanga aangerig. Foto: Verskaf

“Daar is verskeie gesinne op plase wat dakloos gelaat is en van hulle besittings is totaal verwoes deur hierdie storm. Die behoefte is dus baie groot en Helpende Hand wil die wyer gemeenskap se ondersteuning kry om hierdie mense wat meestal nie versekering gehad het nie, weer gevestig te kry. Groot behoeftes is onder meer boumateriaal, meubels en elektriese toerusting,” het sy gesê.

“Een van die boere het ʼn winkeltjie op die plaas gehad wat gehelp het met ekstra inkomste. Ook hierdie winkel is totaal verwoes in die proses.”

Enigiemand wat graag wil help, kan De Lange nader by 082 923 1438 of [email protected]. Besoek ook Helpende Hand se webblad vir meer inligting. Mense kan ook via SMS ʼn bydrae maak deur “Ramp” na 38969 te SMS om R10 te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Selfs al was dit dalk nie ‘n warrelwind nie het dit klaarblyklik skade veroorsaak teen diselfde tempo as ‘n tornado.

realis ·

In 1968 het ons die ergste haelstorm wat ek nog ooit aanskou het ervaar. Ons plaas was net so 2 km na die Berg-en-dal stasie langs die treinspoor gelee. (Die pad na Machadodorp)
Drie were het opgesteek terwyl ons gereed gemaak het om kerk toe te gaan.
Een uit noord-wes, een uit noord oos en een uit die suid ooste het skielik op ons toegesak.
Black wattle bome se bas was aan die wes-suid-wes kant totaal kaal gestroop.
Ek kan nie onthou hoeveel skape van die plase om ons was doodgeslaan deur die hael nie.
Haelkorrels het soos mini boerpampoene gelyk.
Hoop die wat skade gely het sal spoedig hulp ontvang. Agv BBBEE kan ek ongelukkig nie bydrae nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.