Belfast-vrieskasmoorde: Polisie verwelkom vonnisse ná egpaar se gru-dood

Rudolf en Elma van Heerden. Foto: Verskaf.

Rudolf en Elma van Heerden. Foto: Verskaf.

Drie mans is gevonnis in verband met die moorde op ʼn bejaarde egpaar van Belfast, wie se liggame in Januarie 2013 in ʼn vrieskas gevind is.

Kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê Bongani Joseph Ncongwane (25), Irvin Brown Nkosi (22) en Chqarles Sibusiso Sibanyoni (29) is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof, wat in Middelburg gesit het, gevonnis.

Rudolf en Elma van Heerden, albei 79, is in hul huis oorval en met ʼn stomp voorwerp geslaan en verwurg. Hul liggame is in ʼn vrieskas in die vertrek langs hul slaapkamer gevind. Hul hande en voete was vasgebind.

Volgens Hlathi is polisiebeamptes op 9 Januarie 2013 na die egpaar se huis ontbied nadat die bure gesien het die kombuisvenster is stukkend en die diefwering is gebuig. Met die polisie se aankoms op die toneel, het hulle gesien die motorhuisdeur is oop en dat daar nie ʼn motor was nie.

Die egpaar se Toyota Prado is later langs die N4-hoofweg naby Middelburg gevind. Ncongwane en Nkosi is op 14 Januarie 2013 in onderskeidelik Lydenburg en Pretoria in hegtenis geneem. Sibanyoni is op 28 April 2013 in Witbank in hegtenis geneem.

Hlathi het gesê Ncongwane is gevonnis tot 20 jaar tronkstraf op twee aanklagte van moord en 15 jaar tronkstraf vir roof en huisbraak met die bedoeling om te roof. Hy sal effektiewelik 30 jaar tronkstraf uitdien.

Nkosi en Sibanyoni is elk twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moorde, 15 jaar tronkstraf vir roof en huisbraak met die bedoeling om te roof, drie jaar tronkstraf vir die besit van ʼn vuurwapen sowel as drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Die polisie in Mpumalanga het die vonnisse verwelkom en gesê hulle hoop dit sal ander kriminele afskrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

celeste ·

Dis so tragies. Wat kon die arme twee mense regtig aan inbrekers doen. Was dit regtig nodig om so ver te gaan. Geen vonnis sal ooit kriminele afskrik behalwe die doodstraf nie. Tronke is vir die soort kriminele soos n 5 ster hotel. Sulke mense sal nooit verander nie. Mens raak bitter as mense sulke berigte lees.

Pierre Celliers ·

Hierdie vonnise beteken niks! Dis nie te se hulle gaan die volle termyn sit nie. Ons weet mos nou al hoe werk ons regstelsel. Ons sien hulle weer op straat binnekort.

SNEL ·

Dis vreeslik om dit weer te lees (onthou nog die gebeure in die koerant toe dit gebeur het) en te dink dis iemand se ouers wat so wreed vermoor is en behandel is asof hulle niks is nie. Hulle stap n pad en op 79 jarige ouderdom (wat n wonderlike hoë ouderdom is en veral om saam met jou geliefde daai hoë ouderdom te bereik), moet hulle nou so ontneem word om ouer as 80 te word en om op natuurlik wyse op n hoë ouderdom tot hul einde te kom. My hart gaan uit na hul kinders en familie, ek dink nie mens verwerk so iets in n jaar, twee of drie nie en hierdie tronkstrawwe is n troos, want hulle ontsnap of kom vroeg uit of wat ook al, maar slegs die doodstraf sou geskik gewees het vir die nat-agter-die-oor moordenaars.

bekendes ·

Dit was vreeslike nuus vir die Belfast inwoners toe ons hoor oom Koffie en sy vrou is vermoor. Dis erg om so iets te lees maar dis nog erger as jy die mense geken het. Ek wens die dinge kan end kry dis so onnodig!!!!

Christie Joubert ·

Is dit nie dieselfde pesgoed wat gelag het toe hulle gevonnis is nie?

Christine ·

Lag sal hulle seker, want nou is hulle tog so veilig, gevoed en geklee vir die volgende 3? jaar of tot ontsnapping soos gereel kan word met korrupte beamptes.

neelsie ·

Om boewe in tronk te hou kos belastingbetaler duisende rand per kop per maand.
Nou betaal ons nog vir die moordenaars wat ons mense uitmoor.
Hoe lank kan ons uithou?

Winston ·

Neelsie. Dis wat ek ook sê. Hang hom en hy is geen verdere las vir die staat en die belasting betaler nie. Daar waar hy heengaan is ook nie korrupte beamptes en ontsnap roetes nie. Nou is hy oor n jaar weer uit want tronke is oorvol en amnestie moet meer stemme werf vir die regerende party. Hy doen dit net weer…..en weer.

Winston ·

Neelsie. Dis wat ek ook sê. Hang hom en hy is geen verdere las vir die staat en die belasting betaler nie. Daar waar hy heengaan is ook nie korrupte beamptes en ontsnap roetes nie. Nou is hy oor n jaar weer uit want tronke is oorvol en amnestie moet meer stemme werf vir die regerende party. Hy doen dit net weer…..en weer.

Lies ·

Hierdie ou mensies het ‘n vreeslike dood gesterf. Wonder hoekom die uitspraak meer as 2 jaar na die inhegtenisneming gedoen is?

Dave ·

Miskien neem selfs verkeersoortredingsake so lank in hierdie land. Hou maar dop alle sake van daardie aard neem jare om afgehandel te word. Waarskynlik is dit omdat die land so moord en roof georiënteerd is dat die geregshowe tjok en blok vooruit bespreek is.

PIETER ·

Winston, daar waar hulle heen gaan as hulle gehang word, sal hulle wel nie kan ontsnap nie , maar dit is waar al die korruptes is

Theresa ·

Alleen in ‘n meter by 2 meter koue sement kamertjie.
Verseker nie gekookte kos nie. Rys en water.
Geensins lekker oefensessies saam met buddies wat jy kan vra om vir jou goedjies te doen daar buite nie.
Dalk sou 20 – 25 jaar dan ‘n goeie uitwerking hê…

anton crafford ·

ek was die bevelvoerder van die forensiese span, wat die vrieskasmoorde ondersoek het. ons is almal baie dankbaar vir die vonnisse. hierdie toneel sal vir altyd by my ‘spook” – ek glo en vertrou dat die familie berusting sal vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.