‘Beloftes maak skuld’ – VF Plus aan Ramaphosa

Dr. Pieter Groenewald., leier van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

Die VF Plus is oortuig dat pres. Cyril Ramaphosa sedert die begin van sy termyn in 2018 die land die afgrond in stuur en daardeur sy land se mense faal – veral wanneer dit kom by die Afrikaanse taal, werkskepping en optrede teen beweerde korrupsie en wanbestuur.

“Net ʼn algehele ommeswaai aan regeringskant kan Suid-Afrika red.”

Só het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Maandag in die parlement gesê tydens die debat oor die staatsrede.

Volgens Groenewald het Ramaphosa al met sy eerste staatsrede leë beloftes gemaak.

“In 2018 het die president gesê dat mense van alle rasse deel van die opbouproses van die land moet wees, maar steeds word daar klaarblyklik op grond van ras gediskrimineer,” sê hy.

Dít kan glo gesien word in die wysigingswetsontwerpe wat onder meer ʼn aanslag op Afrikaanse skole van stapel stuur.

“Wetgewing word nou oorweeg om die finale besluit oor skole se taal en toelatingsvereistes by provinsiale departementshoofde te plaas,” sê Groenewald.

“Boonop wil die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, nie eens Afrikaans as ʼn inheemse taal erken nie.”

Groenewald meen ook dat die werkloosheidsyfer gedurende die jare wat Ramaphosa aan die stuur van die land is, veel te wense oorlaat.

In 2018 was die werkloosheidsyfer 27,1% en uitgebreide werkloosheid 37%. Dit het sedertdien gestyg tot 34,9% met die uitgebreide werkloosheidskoers van 46,6%.

“Die president sê nou die private sektor, en nié die staat nie, moet werk skep. Word die jongste werkloosheidsyfer dan nou subtiel op die private sektor afgeskuif?

Ramaphosa gebruik ook dikwels die gesegde “local is lekker” om plaaslike belange te onderstreep, maar die VF Plus meen dit word nie in die praktyk uitgevoer nie.

“Kubaanse ingenieurs wat nie eens behoorlik gekwalifiseer is om plaaslik te werk nie, word na Suid-Afrika gebring terwyl plaaslike ingenieurs werkloos is.

“Die regering gee R50 miljoen aan Kuba vir voedselsekerheid terwyl sowat 40% van Suid-Afrikaners onder die broodlyn leef.”

Ramaphosa beplan nou ook om ʼn taakspan saam te stel om burokratiese rompslomp te takel. Dit het hy ook in 2020 onderneem deur die belofte dat ondernemings met die druk van ʼn vinger geregistreer sou kon word.

“Die enigste mense wat werklik hierdeur bevoordeel is, is die sakeondernemings wat oornag geregistreer is om die Covid-19-hulpfonds te stroop. Deur bloot toe te sien dat bestaande departemente behoorlik funksioneer, sal rompslomp reeds tot groot mate uitgeskakel word.

Die VF Plus sê hy sal eers die regering se erns oor ekonomiese groei glo wanneer vakbonde se mag ingeperk word en daar weggedoen word met swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.

Die DA het reeds ʼn mosie van wantroue teen die hele kabinet ingedien weens die “verstommende getal regeringsmislukkings, optrede van beweerde korrupsie en wanbestuur sedert Mei 2019”.

Volgens die DA-leier John Steenhuisen het die menigte mislukkings gelei tot die ineenstorting van dienslewering in sommige staatsdepartemente, terwyl ander mislukkings gelei het tot algehele pligsversuim deur sommige lede van die uitvoerende gesag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Al so gewoond aan beloftes, beloftes en nog beloftes! Rama kan maar net ‘n goeie toespraak hou maar as dit by DOEN kom het al die kaders ronde handjies!

casper ·

Al wat Ramarposer kan doen is tjol praat en toekyk hoe die plunder van die land deur sy lede aanhou.
Moenie enigiets van hom of die ANC verwag behalwe geld stropery.

Marius ·

Die anc het geen integriteit, trots en eer nie. Dis net ‘n spul boewe wat besig is om die land te vernietig.

Di ·

NIKS gaan verander in hierdie land nie! Praat net en maak lee beloftes wat nooit die lig sal sien nie. Die ANC kaders lieg so baie dat hulle hulself al glo! Die dag wat die spul wakker skrik sal wees wanneer daar NIKS oor is nie en mense op strepe doodgaan van honger en geweld en ALS verwoes is

Kokerboom ·

Nou is die tyd om ongelooflike druk op regering toe te pas!

Theo ·

Hierdie gesprekke bly ook maar net wat dit is… almal sê Ramaphosa praat net maar soos dit vir my lyk is dat alle politikuste praat net. Hierdie stories speel hom nou al af vanaf 1994, ANC doen wat hulle wil en almal sê heeltyd dit is verkeerd maar niks werkliks verander nie. Ek raak nou moeg vir alle politikuste hulle teer en heeltyd en praat net, dit is soos om te roei in n sterk stroom, hulle roei (praat) en roei (praat) heeltyd maar die boot (Suid Afrika) bly agteruitgaan in die stroom. Politiek is seker die mees uselesste ding in die wêreld. Ons kort n ander stelsel.

Genis ·

Glo my vry Ramapaddapot geniet die vergaan van RSA… Dit is en was hulle doel, van die begin af… Ongelukkig gaan die opbou proses nie slaag, met hulle aan beheer nie… Our people is gulsig, en dink net aan hulle self, daar word nie greintjie omgegee vir die gemeenskap en landsburgers.. Selfveryking en kader verryking is die doel. Hou die massas dom en arm…

Lillian ·

Ag julle mors jul asem. NIks sal verander nie. Daai “fat cats” sit net daar vir een rede …. geld ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.