Wilderness Foundation Africa het Vrydag in ʼn verklaring gesê 2016 is tot dusver ʼn donker jaar vir renosters in die provinsie met talle gru-stropings wat reeds plaasgevind het. Volgens die groep is die Forever Wild-natuurbewaringsprogram op die been gebring om stropings in die provinsie hok te slaan.
Die inisiatief voorsien hoofsaaklik logistieke en operasionele ondersteuning aan natuurbewarings- en wetstoepassingsagentskappe wat vir renosterveiligheid verantwoordelik is.
Daar is na raming sowat 20 000 witrenosters in die wêreld oor, waarvan die meeste in Suid-Afrika voorkom. Stropingsgetalle het egter oor die afgelope paar jaar drasties toegeneem. In 2007 is 13 renosters in Suid-Afrika gestroop. In 2015 is 1 175 renosters aan die hand van stropers dood.
Enigiemand met inligting wat kan help om die stropers vas te trek, kan die natuurlewe-wenkhulplyn by 078 696 9494 skakel.