Beloning ná 2 kinders sterf toe klip kar tref

Foto: Twitter via @DeanMacpherson.

Nagenoeg R250 000 is al ingesamel as beloning vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die oortreders wat verantwoordelik is vir die dood van twee kinders nadat ʼn reuseklip Woensdagaand van ʼn brug in die Umhlali-gebied in KwaZulu-Natal op ʼn voertuig op die N2-snelweg onder die brug geval het.

Die twee kinders is as Aamina Haffejee (16) en Abdur Haffejee (7) geïdentifiseer.

Dean Macpherson, DA-LP en skaduminister van handel en nywerheid, het verlede Vrydag in sy persoonlike hoedanigheid op Twitter ʼn R5 000 beloning aangebied vir enigiemand wat met inligting oor die voorval vorendag kan kom. Dié plasing is intussen meer as 5 000 keer gedeel en talle mense het kommentaar gelewer en aangebied om geld by te dra om die beloning te vergroot.

Macpherson het Sondag op sy Facebook-blad geskryf dat R250 000 al ingesamel is as beloning vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die oortreders kan lei.

Volgens hom het sy oorspronklike twiet twee miljoen mense bereik. “Ek is nou meer as ooit oortuig dat ons as ʼn land enige teëspoed kan trotseer want ons in inherent beter saam, ondanks dié wat ons wil verdeel volgens ras en geslag,” het hy geskryf.

Macpherson het aan Maroela Media gesê dat hy vanaand die gesin van die oorledenes sal ontmoet om persoonlik sy medelye met hulle te betuig en om te “sien watter maatreëls nog getref kan word om die persone wat dit [die misdaad] gedoen het op te spoor”. “Hulle het gevra om my te sien, ons gaan bespreek hoe ons gaan seker maak mense bly hieroor praat. Mense in Suid-Afrika is siek vir sulke lafhartige misdade. Ek het net gevoel iemand moet iets doen.”

Die voertuig wat deur die klip getref is. Foto: IPSS Medical Rescue

Volgens hom het talle individue en maatskappye na vore gekom en bygedra tot die beloning. Daar het volgens hom al wenke ingekom wat aan die polisie se ondersoekbeamptes oorhandig is. “Ongelukkig nog niks noemenswaardig nie.”

Maroela Media het vroeër berig die voorval het op die N2-Noord tussen Tongaat en Ballito plaasgevind.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het vroeër gesê die klip is van die brug afgegooi en het die windskerm van die voertuig onder op die snelweg getref. Die klip het die bestuurder van die voertuig gemis, maar die ander twee insittendes in die voertuig is ernstig beseer.

“Terwyl ons reaksiespanne op pad was na die toneel, het ons ʼn tweede oproep gekry om te sê die bestuurder van die voertuig is op pad na ʼn hospitaal in Ballito. Ons spanne het van rigting verander en die voertuig op pad na die hospitaal ontmoet. Die twee kinders is by hul aankoms by die hospitaal dood verklaar,” het Herbst gesê.

Volgens die polisie is daar nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het die publiek versoek om die plaaslike polisie te kontak met enige inligting wat hulle met die ondersoek kan help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik van George ·

Hartseer storie, maar een wat aanhoudend gebeur. Veral die Wes Kaap wat deurloop onder hierdie kriminele… wat kan die polisie doen? Nie veel nie. Gebeur baie naby informele nedersettings…

OPINIE ·

Dis wonderlik, maar hoeveel belonings is al uitgeloof waar ‘n BOER en sy vrou gesterf het en hulle nooit die skuldiges opgespoor het nie? EK is 100% vir die uitloof van ‘n beloning vir ENIGE misdaad, maar hoekom word daar altyd uitsonderings gemaak? Die man wat dit begin het was van die DA, was dit vir politieke punte? Ek is geskok om te sien hoe min boere (en stedelinge wat vermoor word) se moordenaars word opgespoor, want nog te se ‘n beloning uitgereik. DOEN eerder iets aan die probleem deur die RELINGS te verhoog of die brue aan die kante toe te span . daar is darem seker nog genoeg SIVIELE INGENIEURS in SA om ‘n plannetjie uit te dink. Die tolpaaie IN genoeg geld om verbetering aan die brue aan te bring .. ongelukkig leef ons in ‘n land waar een beloning vir een gesin NIE DIE PROBLEEM GAAN OPLOS nie .. doen iets wat in die toekoms die goed gaan VERHOED< nie wat na die tyd iemand moet betaal om te praat nie.

Anoniem ·

My hart gaan uit na die bestuurder van die motor wat desperaat na ‘n hospitaal gehaas het met die beseerde kinders.

Gina ·

Wat van kameras op brûe waar dit gereeld gebeur? Of versperrings op brug wat klipgooi bemoeilik? Maar ai…die geld vir sulke oplossings is min en natuurlik vandalisme. Net tragies dat hierdie familie se lewe uitmekaar geskeur is en die krimineel/moordenaar stap doodluiters weg van die toneel.

Casper Labuschagne ·

Vir dekades al gebeur sulke voorvalle keer op keer. Die misdaad van die onskuldiges, bloot omdat hulle in die relatiewe welvaart van ‘n motor onder ‘n brug naby ‘n plakkerskamp deurry.

Briesend! ·

Stem saam met OPINIE-dit gebeur ook hier in Mphumalanga-sal dalk help om die skuldiges voor aankomende vragvoertuie van ‘n brug af te gooi as hulle gevang kan word…

Chris Ws ·

Waarvoor word die padbouheffing op die brandsrtof prys gebruik?Waarom nie alle brugge oor hoofwee en snelwee van kant tot kant met stewige staal skerms bedek nie soos in ‘n tonnel vorm?Daar is mos geld daarvoor!
Ek bid dat die skuldige gevang word.Ongelukkig sal tronkstraf nie naastenby goed genoeg straf wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.