Beloning ná man op borg glo moor

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in Gauteng het ‘n beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting oor ‘n man wat glo moord gepleeg het nadat hy op borg vrygelaat is.

Ao. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, sê Koobendran Moodley het glo op 6 Julie ‘n motoris doodgeskiet in Lenasia. Moodley het in ‘n silwer Nissan Navara gery terwyl die ander motoris in ‘n silwer VW Polo gery het. Die passasier in die Polo is beseer.

Moodley het na die voorval van die toneel gevlug en die polisie soek steeds na hom.

‘n Ooggetuie het sowat twee weke gelede aan The New Age vertel dat Moodley op die dag by ‘n kroeg gekuier het en later gevra is om te gaan nadat hy glo met ander mense in ‘n geveg betrokke geraak het.

Moodley het gery waarna hy glo in ‘n ongeluk betrokke was. Hy het glo nie gestop om besonderhede uit te ruil nie.

Die bestuurder van die ander motor het Moodley glo huis toe gevolg waar ‘n argument tussen hulle uitgebreek het. Die motoris is doodgeskiet en ander mense is beseer.

Ofentse Morwane, woordvoerder van die Gautengse departement van korrektiewe dienste, het aan The New Age berig dat Moodley uit is op borg van R1 500 nadat hy vir diefstal in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.