Beloning nou R20 000 vir vermiste tiener

’n Beloning van R20 000 word nou uitgeloof vir enigiemand wat inligting het wat tot Nikita Lottering (14) se opsporing kan lei.

Nikita is verlede Maandag omstreeks 18:00 die laaste keer by haar ouma, wat ook haar peetma is, se veiligheidskompleks in Springs, Gauteng, gesien. Sy sou tot Donderdag daar gekuier het.

Ordette Lottering, Nikita se ma, sê haar dogter het glo gesê sy wil vir haar broer, wat in dieselfde kompleks woon, gaan kuier.

“Sy het egter nie, soos sy beweer het, vir haar broer gaan kuier nie. Sy het eerder by die ingangshek van die kompleks gaan staan,” vertel Lottering.

“Niemand het gedink dit is vreemd dat Nikita by die hek staan nie, want sy het elke middag oudergewoonte daar gaan staan en wag totdat ons haar kom oplaai het.”

Volgens een van die inwoners van die kompleks was daar glo ’n rooi motor, met getinte vensters, wat in daardie oomblik by die hek ingery het.

“Van die ander inwoners sê weer hulle het nie só ’n rooi motor gesien nie. So, dit is nog alles hoorsê. Daar is in elk geval so baie mense en kinders gewoonlik buitekant die kompleks dat nog ’n vreemde motor nie te ongewoon sou wees nie.”

Nikita het ’n swart denimbroek, wit hemp en rooi baadjie ten tyde van haar verdwyning aangehad.

Lottering het Vrydag ’n leidraad ontvang dat Nikita moontlik by ’n skuiling is, maar dit was egter nie so nie.

Dié besorgde ma se soektog moet nou weer van voor af begin.

Die beloning is oor die naweek van R2 000 na R20 000 verhoog.

“Hierdie geld word slegs uitgereik aan iemand sodra Nikita veilig in my arms is.”

Lottering vertel dat sy en Nikita die middag van haar verdwyning oor die foon met mekaar grappies gemaak het.

“Sy en haar ouma het vyf minute voor haar verdwyning nog saamgelag. Haar ouma het ons verseker dat daar niks daardie dag gebeur het wat veroorsaak het dat sy sou wegloop nie.”

Volgens Lottering het Nikita al twee keer vantevore verdwyn.

“Die eerste keer het sy saam met ’n vriend van haar stokkiesgedraai. Teen die aand het ons haar as vermis aangemeld. Een van haar vriendinne het haar intussen ingelig dat ons agtergekom het dat sy nie by die skool was nie. Sy was bang en het toe weggeloop. Ons het haar binne twaalf uur weer opgespoor.

“Die tweede keer het sy weer saam met ’n vriend verdwyn terwyl sy by haar pa in Pretoria gekuier het. Ons het haar weereens ’n paar uur later opgespoor.”

Volgens Lottering kon sy Nikita met haar vorige verdwynings binne etlike ure opspoor. Sy sê hierdie keer dink sy nie haar kind het weggeloop nie.

“Met die vorige verdwynings was die leidrade soveel duideliker en kon ons haar makliker opspoor.”

Jan Germishuizen, Nikita se stiefpa, sê Nikita se selfoonlaaier, oorfone en klere is by die huis gelos.

“Met haar vorige verdwynings het sy haar laaier en van haar klere saamgevat. Sy gaan nêrens sonder haar selfoonlaaier nie,” vertel Germishuizen.

Nikita se foon is ook sedert verlede Maandag afgeskakel.

Germishuizen sê hy en Lottering ry tot in die middernagtelike ure rond op soek na Nikita.

“Ons ry kilometers ver na al die omliggende veiligheidshuise en skuilings op soek na ons kind.”

Hy en Lottering kry baie swaar ná Nikita se verdwyning.

“Die onsekerheid maak my mal,” vertel Lottering. “Ek kan nie slaap nie. Ek kan nie eet nie. Nikita is heeltyd in my gedagtes. Ek bid dat sy huis toe moet kom. Ek hoor heeltyd haar stem in my kop. Ek wag dat die telefoon moet lui en dan is dit sy.

“Jy as ma sal als doen om jou kind op te spoor. Ek is desperaat om my kind te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanF

Sterkte, ek hoop julle vind haar gou, en ongedeerd, die tydperk is nou erg langer as die vorige 2 kere.
Ons bid vir haar en julle…!!

Boer

Ek hoop hulle kry haar gou dit in mooi kind en daar is baie siek mense daar buite. Ek Glo Bid en Vetrou GOD sal haar weer huis toe bring. Sterkte vir die Familie julle is in my gebede.

Misky

Kinders gee ouers slapelose nagte of hulle nou 2 of 20jaar oud is. Jy as ouer hou net nooit op worry nie en veral vandag se situasie in SA. Ek, as mede ouer en mamma hart, bid saam met julle vir haar veilige terugkeer

Niklaas

Ja, dit moet vir die moeder traumaties wees. Wat pla is die feit dat hierdie verdwynings al voorheen gebeur het en hierdie mag dalks ‘n herhaling wees, wat baie wreed is vir die naaste familielede. Ons hoop saam met die familielede dat sy veilig sal terugkeer.

Annelize

Omrede sy reeds twee keer vantervore die “verdwyn” truuk uitgehaal het, is haar ouers nou duidelik nie seker of hier nou ‘n ernstiger fout is, of is dit weer haar ou laai wat sy uithaal nie. En die feit dat sy nou al ‘n week weg is, maak mens regtig bekommerd. Ek hoop van harte dat hierdie weer net ‘n “verdwyn” truuk is, en as sy gevind word, sy na behore oor die kole gehaal sal word en duidelik aan die verstand gebring word, dat mens nie sulke nonsens in vandag se lewe aanvang nie, en dat die nodige hulp… Lees meer »