Beloning uitgeloof ná boer se moord

Jason Winrow. Foto: Verskaf

Die polisie in die Oos-Kaap het ʼn beloning uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die moordenaars van ʼn Oos-Londense boer kan lei.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê ʼn beloning van R50 000 word uitgeloof nadat alle leidrade in verband met die moord op Jason Winrow (47) in ʼn doodloopstraat beland het.

Maroela Media het vroeër berig Winrow, ʼn boer van die Bluewater-omgewing, is op Vrydag 28 Julie vanjaar op sy plaas vermoor. Winrow het omstreeks 19:30 by sy plaas opgedaag en is by die hoofhek oorval toe hy stilgehou het om die hek oop te maak. Hy is met ʼn skerp voorwerp gesteek en ook geskiet.

Die aanvallers het met Winrow se Toyota Hilux, met die registrasienommer HPT 842 EC, op die vlug geslaan. Plaaswerkers het die volgende oggend op sy liggaam by die hek afgekom. Winrow se bakkie is sedertdien nog nie opgespoor nie.

Die King William’s Town-polisie ondersoek ʼn saak van moord en gewapende roof.

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om lt.kol. Andrew Middleton by 082 779 7150 of Crime Stop by 08600 10111 te bel. Alle inligting sal as hoogs vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Sinhalese moord op ‘n hardwerkende geliefde… Geen leidrade sedert Junie??? Werklik!!! Ondersoek iemand ooit die saak??? Dis BELAGLIK. Ons bid dat die familie en vriende closure sal kry.

Leahim ·

Vyftig duisend rand vir n boer wat vermoor is

Honderd duisend vir die opspoor van n vrugte dief wat miskien dood is in Mooi nooi NW en waarvoor n boer reeds gearresteer is en in die hof verskyn het.
Wanneer wil hierdie onbevoegde polisie erken hulle weet nie wat hulle doen nie en vir hulp vra?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.