Beloning uitgeloof ná diewe historiese kerkklok steel

Die kerkklok van die NG Gemeente Wespoort in Pretoria is al sedert die gemeente se stigting in 1949 ’n deel van lidmate se lewe. Foto: Verskaf

Lidmate van die NG Gemeente Wespoort in die weste van Pretoria het ʼn beloning uitgeloof in ʼn poging om hul historiese kerkklok terug te vind nadat dit in die nagtelike ure uit die kerktoring gesteel is.

Koos du Raan, koster van die kerk in Morkelstraat 77, Danville, sê die boosdoeners het Vrydagaand vermoedelik die leer wat Cell C teen die kerktoring aangebring het, gebruik om by hul selfoonantennas uit te kom.

Hy vermoed die diewe het toegang aan die agterkant van die kerkperseel verkry waar ʼn stuk van die lemmetjiesdraad platgedruk is. Hulle het toe skynbaar ʼn elektriese kabel van een van die kolligte op die kerk geknip en die swaar klok daarmee grond toe laat sak.

Du Raan is nie presies seker wat die amper 70 jaar oue klok van koper en geelkoper se waarde is nie, maar hy skat dit is meer as R60 000, wat ver bo die lidmate se vermoë is om te vervang.

“Soos wat ek gehoor het van ʼn vroeëre predikant het die klok eers op ʼn ander plek gehang,” vertel Du Raan, “maar dit was al hier toe die gemeente op 22 Januarie 1949 gestig en die ou kerkie ingewy is. Van toe af kom die klok saam met die gemeente.”

Die kerkklok het hoog in die toring gehang tot dit Vrydagaand gesteel is. Foto: Google Maps

In die laaste jare is dit nie meer so dikwels gelui nie. “Maar met Oujaarsdienste het dit mooi geklink wanneer ons die nuwe jaar ingelui het, en wanneer mense begrawe is, het hul geliefdes dikwels gevra dat ons die klok lui,” vertel Du Raan.

Die plaaslike GPF se lede het dadelik met ʼn geldinsameling begin om ʼn beloning aan te bied aan enigeen wat kan help om Wespoort se klok op te spoor. Lede van al die GPF’s in die weste van Pretoria help intussen soek nadat Danville se GPF hulle in kennis gestel het van die gemeente se groot verlies.

Du Raan sê hulle het skrootwerwe in die omgewing genader om hulle te laat weet as iemand dalk ʼn klok kom probeer verkwansel. “Ongelukkig is almal se samewerking nie van die beste nie,” sê hy.

“Dit sal ’n heuglike dag wees as ons die klok terug kan kry,” sê Du Raan. “Ek wens net ons kan die ouens wat hom gevat het, saam met die klok kry sodat hulle kan help om hom terug te sit, want dit is baie, baie swaar,” skerts hy.

Enigiemand met inligting, kan Du Raan gerus by 072 625 4882 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ANDRE ·

Niks is meer veilig…ons gaan net vooruit volgens die ANC..hulle sit seker op die verkeerde kant vd wa..dalk agter…Hier in SA loop alles deur onder skelms..Maar die politici baklei net voort oor nonsens…

christa ·

ja dis Suid Afrika, eens mooi land wat nou so verwoes word deur mense wat geern klu van die lewe en waarde het nie. Ek dink ons lewe nou in die tyd van verdrukking , waarvan die Bybel praat

Rina Kotze ·

Mag die diewe vir hul straf tot bekering kom …

Die Bybel sê mos bid vir jou vyande en seën hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.