Beloning uitgeloof ná moord buite Groblersdal

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou. (Foto: Facebook)

Bosveld-misdaadondersoeke (BMO) het ’n beloning van R15 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en vervolging van die mens of mense verantwoordelik vir die moord op Raymond Gregory Papapavlou.

Papapavlou (28) is Maandag kort ná middernag in ’n plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal met verskeie skietwonde aangetref.

Oudkol. Sakkie Louwrens, stigter van BMO, het Vrydag aan Maroela Media gesê niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord nie.

Daar is in dié stadium ook nog geen moontlike verdagtes geïdentifiseer nie.

Mense met inligting rakende die voorval word versoek om dit by Louwrens by 071 798 7954 of 082 896 5331 aan te meld.

Polisiebeamptes is Maandag in die vroeë oggendure na die plaas Frischgewagt ontbied waar Papapavlou se liggaam in een van die vertrekke in die plaashuis aangetref is.

Papapavlou se vrou en ander gemeenskapslede was met die polisie se aankoms op die toneel.

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het vroeër vandeesweek gesê gemeenskapslede het die aand ’n veldbrand op die betrokke plaas geblus toe die oproep Sondagaand voor middernag van Papapavlou se vrou deurgekom het dat haar man in die plaashuis op dié plaas doodgeskiet is.

Volgens Opperman het Papapavlou se vrou op die toneel verduidelik dat sy op ’n rusbank saam met die egpaar se hond in die een vertrek geslaap het en Papapavlou in ’n ander.

Volgens haar het die aanvallers moontlik toegang tot die huis deur ’n venster gekry waarna sy na bewering wakker geword het van vyf skote. Sy het toe glo self sewe skote met haar vuurwapen afgevuur om die aanvallers te verjaag.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie in Limpopo, wil nie in dié stadium verduidelik hoeveel skote die betrokke nag afgevuur is of hoeveel keer Papapavlou geskiet is nie.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Net ‘n kwessie van tyd voor hul die moordenaar sal vas trek…

Androclus ·

Dit sal nie meer lank wees nie al dink die skuldenaar hy of sy sal nie gevang word nie…….

Cherokee ·

Sê julle dus dat al die moordsake in Suid Afrika opgelos word? Die algemene indruk is anders.

Trotse Boervrou ·

Logika Cherokee, logika… NIEMAND het so gesê nie.

Zandra ·

kom SAPS maak ons trots op julle, ek dink hy het die moordenaar baie goed geken, dit was baie persoonlik

Tinker ·

So vrou slaap in sitkamer met hond… die hond is seker doof. Ek dink die skuldige was na aan hom.

Janine ·

Daar was reeds velde aan die brand gesteek. So plaas was gemerk. Hoekom is AFRIKAANSE mense so vinnig om ‘rot te ruik?’ Kom by in die lewe, asseblief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.