Beloning uitgeloof ná moord op veiligheidswag

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die veiligheidsmaatskappy G4S het ’n beloning van R1 miljoen aangebied vir inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van die moordenaars van ’n veiligheidswag.

Die wag van G4S is Vrydag tydens ’n rooftog by ’n Spar in Centurion in Gauteng doodgeskiet.

Die veiligheidswag was die betrokke dag omstreeks 15:00 besig om ʼn geldboks in ’n gepantserde voertuig by die Mnandi Spar by Tulipweg te laai toe hy aangerand en met ʼn R5-geweer geskiet is.

Die maatskappy sê in ’n verklaring die twee moordenaars het met die geldboks op die vlug geslaan, maar kon nie toegang tot die kontant kry nie aangesien die sekuriteitstegnologie wat op G4S-toestelle geïnstalleer is, die geld onbruikbaar maak in die geval van ’n rooftog.

Twee van die moordenaars is op CCTV-kameras vasgelê en het boonop kenmerkende klere gedra.

Enigiemand met inligting omtrent die verdagtes word versoek om Ray Barlow van G4S Cash Solutions by 083 324 3460 of Shaun Maleo by 083 750 4042 te bel.

Kevin Govender, transitodirekteur van G4S Cash Solutions, sê die maatskappy is verpletter deur die “tragiese en sinnelose” voorval.

“Transito-aanvalle word al meer gewelddadig. Dit is baie kommerwekkend, want dit plaas die lewens van ons mense in gevaar. Boonop is hierdie sinnelose aanvalle nutteloos aangesien die tegnologie wat ons gebruik beteken enige kontant wat gesteel word, is heeltemal onbruikbaar.”

Govender sê die maatskappy se boodskap aan voornemende misdadigers is duidelik: “Moenie die moeite doen om ons spanne aan te val nie, want jy sal met niks van waarde wegkom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Die arme wagte word vinniger uitgemoor as wat belonings uitgeloof kan word.

Rudolf ·

R5 geweer. Polisie/Weermag uitreiking. Hoe dan nou Bheki Cele ? En jy wou wetsgehoorsame burgers ontwapen ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.