Beloning uitgeloof ná moorde op Pta-kleinhoewe

Nadia Treeby en Gavin Wolfswinkel. Foto: Facebook.

Die familie van Gavin Wolfswinkel (32) het ʼn beloning uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die moordenaars van Wolfswinkel en sy kollega kan lei.

Die beloning volg twee jaar nadat Wolfswinkel en Lucky Sithome (30), albei in die boubedryf, op 15 November 2015 koelbloedig op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria, vermoor is en niemand nog daarvoor aanspreeklik gehou word nie.

Maroela Media het vroeër berig Wolfswinkel en Sithome, wat in afsonderlike huise op die kleinhoewe gewoon het, is dié Sondagaand omstreeks 19:45 deur drie gewapende mans doodgeskiet.

Die verdagtes het toegang tot die kleinhoewe gekry deur ʼn gat in die heining te knip. Die alarm het afgegaan en die twee slagoffers is deur die aanvallers verras en oorval toe hulle gaan ondersoek instel het. Wolfswinkel is in die kop geskiet en Sithome in die bors. Hulle is albei op die toneel dood. Die verdagtes het gevlug sonder om iets te buit.

Gavin se verloofde, Nadia Treeby (nou 35), was tydens die voorval in die huis. Hulle sou 12 Desember 2015 getrou het. Lees meer hier.

Treeby het ná die twee jaar herdenking van haar verloofde se dood gesê sy het die liefde van haar lewe verloor. “Dit het my lewe verander. Ek mis hom elke dag en sal Gavin altyd liefhê tot ons mekaar weer sien,” het Treeby gesê.

“Toe ons daai aand om 21:00 die oproep gekry het, het ons lewens onherroeplik verander,” het Wolfswinkel se ouers, Hennie en Sandra, gesê. “Skielik moes ons begrafnis hou in plaas van ʼn troue. Hoe verwerk ouers die verlies van ʼn kind? Jy verwerk dit nooit nie. Die verlange, die gemis en hartseer raak erger en niks anders maak meer saak nie. Ons mis hom en wens dit was net ʼn nare droom, maar ongelukkig is dit ons werklikheid.”

Sean Wolfswinkel (42), Gavin se broer, het gesê sy broer is al twee jaar weg, maar dat sy hart nog baie seer is en hy hom geweldig mis. “Ek wens ek kon hom nog net een keer gesien het. My hart gaan uit na ander families wat deur dieselfde trauma moet werk,” het hy gesê.

Chnay Coetzer (néé Wolfswinkel) (38), Gavin se suster, het gesê daar gaan nie ʼn dag verby wat sy nie oor haar broer huil nie. “Die verlange en hartseer word erger met tyd. Ek mis hom so ongelooflik baie en woorde kan nie beskryf hoe dit voel om iemand vir wie jy lief is op so ʼn wrede manier te verloor nie,” het sy gesê. “Die nagmerries is die ergste en dit stop nie. Jy herleef daai aand, daai oproep, die gebeure, elke dag en aand oor en oor. My hart huil saam met elke liewe persoon wat deur so iets moet gaan, dis ʼn moeilike pad!”

Enigiemand met inligting wat die familie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om Coetzer by 079 522 1219 te skakel. Alle inligting sal hoogs vertroulik hanteer word en mense kan ook anoniem bly. Die familie het ook ʼn private speurder aangestel om met die ondersoek te help.

Twee sake van moord word deur die Boschkop-polisie ondersoek. Maroela Media het navraag oor die vordering van die saak by die polisie gedoen en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LF ·

Gavin was saam met my in matriek. Ek dink gereeld aan sy geliefdes. RIV Gavin. Ek hoop die moordenaars kry wat hulle toekom.

Chnay Coetzer ·

Baie dankie! Ons verlang baie na hom, en ek is bly jy het hom nie vergeet het nie!

Christoff ·

Ons was goeie vriende en het voor die terreur aanval vir ‘n ruk nie gesels nie. Dit is nog steeds ongelooflik… Die terroriste sal gevang word of nog beter dalk die grootste prys betaal!

Boskopper ·

As mens hoor van vuurwapen moord in Gauteng dan is dit in die Boskop/Mooiplaats/Donkerhoek/Klipkop Area. Wil die polisie nie maar ‘n hint vang en daai bende begin jag nie.

Honde ·

Almal wat op plase en plotte of sommer oral in hierdie wettelose land woon moet n paar baie kwaai honde aanskaf wat geleer word om nie kos by vreemdelinge te vat nie. Die regte Honde is baie effektief om aanvalle te keer.

janneman ·

Moet nooit onder daai illusie verkeer nie. Honde het ook beperkings, en hulle word gespuit met verskillende goed, bv spray&cook in hulle oe….ek weet daarvan, het dit beleef. My ouers het 9 honde gehad, waarvan 3 massief was, en na hulle vermoor is kon ons net 2 opspoor, een grote en een kleintjie. Ek kon self nie eers uit my voertuig klim op die plaas voordat die honde toegemaak was nie. 5 van die ander het oor n tydperk van 10 dae hulle weg terug gevind huis toe

Leahim ·

Die beste sal wees om Mike Bolhuis te kry die polisie is seker te besig ek lees in vorige berig hulle verskaf inligting oor sake aan gevangenis in die tronk so ek glo nie daar moet veel van hulle verwag word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.