Beloning uitgeloof ná seun se dood

Anita by haar seun Ruan.

Dit is al langer as ʼn maand en Anita Greyvenstein soek steeds antwoorde oor wat in die vroeë oggendure van 19 Maart met haar 18-jarige seun gebeur het.

Ruan Viljoen se liggaam is in die vroeë oggendure ʼn paar honderd meter van sy motor langs die N14-snelweg in Centurion gevind. Volgens Greyvenstein het Ruan vermoedelik beheer oor sy motor verloor waarna die motor oor die middelman en die teenoorgestelde bane is voor dit aan die ander kant van die pad teen ʼn boom tot stilstand gekom het.

Ruan het sy selfoon gevat, die motor gesluit en was vermoedelik op pad na ʼn nabygeleë vulstasie om sy ouers te bel toe hy deur ʼn motor doodgery is. Ruan se nek is op twee plekke en sy rug op drie plekke gebreek. Die linkerkant van sy liggaam is vergruis.

Greyvenstein en haar man, Sergei, doen intussen alles in hul vermoë om antwoorde te kry oor wat gebeur het. “Die motor wat hom getref het, moet vir seker baie skade opgedoen het. Ruan het ook ʼn erge kopbesering opgedoen, so ons dink hy het die motor se windskerm getref.”

Motoronderdele wat naby Ruan se liggaam gevind is, word intussen ontleed. Volgens Greyvenstein het Volkswagen aan hulle bevestig die buffer wat gevind is, is dié van ʼn silwer Golf 6. Hulle wil intussen nie die moontlikheid uitskakel dat die onderdele moontlik al langs die pad gelê het voor Ruan se dood nie.

Ruan (Foto: Facebook)

Sanral het intussen ook beeldmateriaal aan die gesin verskaf van voertuie wat naby die tyd van die ongeluk deur nabygeleë tolhekke gery het. Hulle wil deur die beeldmateriaal gaan in die hoop om ’n voertuig te sien wat aan die beskrywing voldoen.

Daar is ook ʼn hofbevel bekom om selfooninligting van diensverskaffers te kry van mense wat in daardie tyd naby selfoontorings naby die toneel was. Volgens Greyvenstein poog hulle ook nou om inligting te kry van maatskappye wat opsporingstelsels verskaf.

Volgens Greyvenstein is daar blou strepe op die buffer gevind en wag hulle nou op forensiese uitslae om te probeer vasstel of dit van Ruan se denim afkomstig is. Daar word ook gekyk of daar vingerafdrukke is op enige motoronderdele wat op die toneel gevind is.

Greyvenstein het gesê hulle sal ʼn beloning uitloof vir enigiemand wat hulle met inligting oor die voorval kan bystaan. Inligting sal vertroulik hanteer word en kan anoniem verskaf word. Bel Greyvenstein by 083 702 6369.

Ruan het verlede jaar matriek aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Mich ·

Ek hoop die ouers vind berusting en dat die skuldige(s) aan die pen gery word.

Maya Roon Joubert ·

Ek sidder om te dink hoe die ouers moet voel, Mag antwoorde vinnig voor den dag kom – niemand kan rus kry sonder antwoorde!

AL ·

Sterkte aan die familie. Dis baie traumaties. Ek hoop hul kry die antwoorde wat hul soek.

Rudi Basson ·

Dit is ‘n verskriklik tragiese gebeure, maar gaan dit vir die ouers enige verdere berusting bring indien hul weet wie vir hul seun se dood verantwoordelik was.

Peanut ·

So sou jy nie wou weet wie so n lafaard is wat net wegry nie , as die persoon gestop het en hulp ontbied was dit n ander saak en sou die ouers dalk berusting kon kry. Maar nou is die drywer n lafaard met geen berou al was dit n ongeluk. Hy staar ook nou veel erger aanklagte in die gesig, en as ek die seun se ouers is sal ek al stops uithaal om die tref en trap oortreder te vervolg maar as hy gestop het kon n mens dalk simpatie gehad het. Nee-wat nou geen genade

Tinktinkie ·

Ek is nie in d ouers se skoene nie, maar ek sou ook graag wou weet wie verantwoordelik was vir my kind se dood. D omstandighede om sy dood is so vaag dat ek glo d ouers dit meer traumaties vind. Mag ooggetuies voorendag kom met nuttige inligting. Sterkte aan d ouers.

Terminologie ·

‘n Snelweg het twee bane (bv. een weswaarts en een ooswaarts).
‘n Baan bestaan uit lane (van een tot bv. 6 op die N1 tussen Pta & Jhb).
Kom ons probeer dit reg te kry (die Afrikaanse radiostasies (met hul verkeersverslae) is baie skuldig aan hierdie skewe persepsie).
Help ons om ons taal korrek aan te wend, asb.

Dora Roux ·

ONS DIEN N ALMAGTIGE HERE……..LIEWE JESUS OPENBAAR ASSEBLIEF AL DIE ONDUIDELIKHEID………DANKIE VIR U GROOT ONVOORWAARDELIKE GENADE……

Gebroke Ma ·

My Seun is 19/20 Okt 2015 wreedaardig vermoor en sy lyk is op die N1 Pretoria rigting uitgegooi en ek soek nog steeds antwoorde. SANRAL kon nie vir my die nodige inligting gee nie, en ek wonder nog steeds hoekom nie. Mev Greyvenstein my innige simpatie vir U. Ek hoop die skurk word gou gevang. n Ma moet nooit n kind verloor nie dit breek iets in jou. Sterke.

Sad ·

Genadige vadertjie arme mens kan net dink hoe seer Jul moet kry elke as dit so situasie is. ..Groot hugs vir jou mens x

Hartseer ·

So bitter seer..meegevoel vertroos en DRA mekaar ouers vriende familie wees naby mekaar..sterkte

MarieB ·

Ek is seker die seun se ouers betaal vir al hierdie inligting en ondersoeke. Gewone mense sal nooit die inligting en soveel hulp kry as hulle self kon betaal vir die toetse/ondersoeke wat in ander lande vanselfsprekend beskou word as iemand vermoor word nie. Sterkte aan die ouers, ek bid dat julle berusting kry. Hy was ‘n pragtige kind.

Ken2 ·

Ek hoop hulle vind die skuldige gou. Dis jammerdat die selfnoonmaatskappye eers na n hofbevel help.

E.K. ·

Sommer ‘n baie hartseer storie die. En die skuldige? Omnet weg te jaag? HOE leef jy/julle saam met jul self as jul so-iets gedoen het? Ek hoop regtig hul spoor julle op! Arme arme ouers! Sterkte vir julle!

Andrea ·

Ek is so bitter jammer vir die arme ouers, ook Gebroke Ma. Ek wil nie eens probeer om my in julle pyn en swaarkry in te dink nie! Wat my egter opval, is dat die ouers die ondersoek en soektog na die moordenaars dryf. Waar is die polisie? Is dit nie HULLE plig om antwoorde én die skuldiges te soek nie? Sterkte aan die ouers.

Veronica ·

Ai! Dis tragies! So n pragtige jongman!!! Aan Anita en Geboke Ma: ek bid jul Jesus se troos en genade toe! Mag julle antwoorde kry!!! In liefde dra ek julle oo aan die Vader! Dis net Hy wat die gebroke hart v n moeder werklik verstaan en kan troos!

Flintstone ·

En so moet die saps se werk namens hulle gedoen word…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.