Beloning uitgeloof ná vrou op Tafelberg verdwyn

Charlotte Nikoi. Foto: Verskaf

Die vrou wat twee weke gelede spoorloos op Tafelberg verdwyn het nadat sy gaan stap het, se gesin het ʼn beloning van R50 000 uitgeloof om haar te probeer opspoor.

Charlotte Nikoi (50), ʼn Ghanese werknemer van die Verenigde Nasies (VN) wat in Johannesburg woon, het saam met haar man, Chris (57), en een van hul drie dogters op 21 Maart (Menseregtedag) op die Platteklip-ravynroete gaan stap.

Charlotte het halfpad teen die berg op besluit om om te draai en terug te stap. Sy het met haar man en dogter afgespreek om hulle by die voet van die berg te ontmoet. Chris en hul dogter het verder opwaarts gestap, die kruin bereik en is later met die kabelkar af na onder, maar Charlotte was nie daar nie.

Die laaste keer dat haar man van haar gehoor het, was ʼn vreemde SMS wat lui: “Where the star witness to shakey hands, I do’s and all” [sic]. Hy en sy dogter was toe nog besig om te stap en hy het aangeneem sy het die voet van berg bereik en moontlik ʼn paartjie sien verloof raak.

Chris het haar die volgende dag in Johannesburg as vermis aangemeld nadat hulle haar nie in Kaapstad of Johannesburg kon opspoor nie. Twee weke later het die gesin die R50 000 beloning uitgeloof met die hoop om haar op te spoor.

“Ons ma is ʼn slim, liefdevolle en vriendelike vrou. Sy is ons pa se beste vriend en die hoeksteen van ons lewens. Ons vrees vir haar lewe en wil haar terughê. Help ons asseblief om ons ma te vind en ʼn einde aan ons nagmerrie te bring,” het haar dogters in die kennisgewing van die beloning gepleit.

Charlotte is 50 jaar oud, 1,73 m lank en het ʼn matige liggaamsbou. Haar hare is kort en grys. Sy het ’n blou wyerandhoed, moulose swart T-hemp, ligblou kortbroek, swart-en-bruin trui en bruin tekkies aangehad toe sy die laaste keer gesien is. Sy het ook ʼn roomkleurige handsak en ʼn ovaalvormige sonbril gedra.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die VN en provinsiale polisie is by Charlotte se soektog betrokke.

Die Pink Ladies sal in samewerking met die polisie alle wenke en leidrade oor haar verdwyning opvolg.

“Ons pleit by enigiemand wat haar dalk by die berg gesien het om na vore te kom. Die roete is al goed deursoek en helikopters is ook al gebruik. Ons doen ook ʼn beroep op die publiek om pamflette met haar inligting op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand haar sal herken,” het sy gesê.

Mense wat weet waar Charlotte haar mag bevind kan die Pink Ladies by 072 214 7439, 083 378 4882 of 072 620 7704 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LS ·

Sterkte aan die familie !!! Ek kan net dink hoe dit moet voel as iemand verdwyn en jy nie weet waar hulle is nie.

Auto correct ·

Daai boodskap….. is daar nie n manier om hom te ontsyfer nie? Dalk het hy al haar woorde auto_correct..

SARIE VAN HEERDEN ·

Los die losprys wat aangebied word as sy gevind word. SOEK DIE MOORDENAAR!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.