Beloning uitgeloof na Witrivier-moord

Clive Bowers. Foto: Facebook

Clive Bowers. Foto: Facebook

ʼn Misdaadbestrydingsorganisasie in Mpumalanga het ʼn beloning van tot R50 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname en vervolging van Clive Bowers se moordenaars.

Bowers (60) is Dinsdagaand in sy huis in die Bundu Wildlife-landgoed naby Witrivier doodgeskiet.

Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossies Community Justice, het Vrydag gesê hulle hoop die beloning sal die polisie help om so gou as moontlik Bowers se moordenaars in hegtenis te neem.

Bowers en sy vrou, Renate Wagner, het Dinsdagaand geslaap toe hulle omstreeks 23:30 ʼn venster hoor breek het. Bowers het die aanvallers glo met pepersproei gespuit voor hulle hom geskiet het. Die moordenaars het met ʼn televisiestel en selfone gevlug wat later deur die polisie teruggevind is.

Ao. Gugu Phiri, woordvoerder van die polisie in Witrivier, het gesê daar is nog geen nuwe leidrade in die saak nie. “Die polisie ondersoek steeds die voorval,” het sy gesê. Daar was die afgelope paar maande talle inbrake by huise in die Bundu Wildlife-landgoed.

Bossies Community Justice het onlangs R50 000 betaal aan ʼn persoon wat vir hulle inligting verskaf het oor die verdagte wat aangekla word van die verkragting van en moord op dr. Rensia de Wet, ʼn veearts van Witrivier. De Wet is in Desember vermoor en die verdagte is kort hierna in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.