Beloning uitgeloof vir inligting oor dié man

Mhlabayaxega Mntungwa Khumalo (Foto: Verskaf)

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het ’n beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van ’n moordverdagte.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê die Valke is op die spoor van die 34-jarige Mhlabayaxega Mntungwa Khumalo wat na bewering betrokke was by die moord op Nkosinathi Ngcongo, ’n voormalige hoofbestuurder van Sam Holdings.

Die moord is op 12 September 2019 gepleeg.

Volgens Sekgotodi het twee gewapende verdagtes Ngcongo op dié betrokke dag by ’n depot in Bethal in Mpumalanga doodgeskiet, voordat hulle op die vlug geslaan het. Ngcongo was aan diens ten tyde van sy dood.

Phindikuhle Eugen Nkosi (26) is intussen in hegtenis geneem in verband met die moord en verhoorafwagtend. Nkosi se verhoor sal na verwagting Woensdag in die Bethal-landdroshof plaasvind.

’n Voorlopige ondersoek verbind Khumalo ook aan die moord, hoewel daar in die stadium geen spoor van hom is nie. Dit word vermoed dat hy tans in Gauteng of KwaZulu-Natal wegkruip.

Enigiemand met inligting oor waar Khumalo hom bevind, word versoek om kapt. Bongani Mdebuka by 082 782 4443 te kontak. Inligting kan ook by die Misdaad Stop-nommer by 08600 10111 aangemeld word. Inligting sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rodger17 ·

Ironies dat daar net belonings is vir moordenaars wat die people vermoor!Wat maak hom so spesiaal?Vra nét?

Gerhard ·

Ons sien nooit hiedie tipe van belonings wanneer plaas-boere vermoor word nie.

Scalla ·

Wanneer, hoekom en deur wie word daar besluit om n beloning uit te reik, sal graag kreteria wil weet?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.